Baie welkom!
Jou Bloemhof-avontuur begin oor:
Ons sien voorwaar daarna uit om jou by die Hoër Meisiekool Bloemhof – die oudste Afrikaansmedium skool vir dogters in Suid-Afrika – welkom te heet wanneer jy by ons aansluit. Op hierdie bladsy sal jy nuttige inligting vind sodat jy vinnig jou voete kan vind en so gemaklik as moontlik kan inskakel.
Inligtingsdokument
Die amptelike inligtingsdoukement vir 2025 se graad 8’s is nog nie beskikbaar nie. Hou die d6 en ons sosiale media dop.
Vrae & antwoorde
Vra gerus enige vrae via ons Google Form. Antwoorde verskyn in ons FAQ-afdeling hier onder.
Baie welkom by die HMS Bloemhof. Loer gerus hier vir meer inligting oor ons skool.
In die skoolprofiel skets ons ‘n oorsig oor wat Bloemhof bied, terwyl roosters, kloktye ens. by praktiese inligting gevind kan word. Onder skooldrag is daar inligting oor die Klerebank en by afwesigheid is ‘n skakel na ons afwesigheidsbeleid.
‘n Amptelike inligtingsdokument met reëlings vir 2024 vir graad 8’s kan HIER afgelaai word. ’n Soortgelyke dokument vir nuwe graad 9-12’s is HIER beskibkaar.
Bloemhof, geleë in Kochstraat, Stellenbosch, is die oudste Afrikaansmedium hoërskool vir meisies in die land. Die skool is in 1874 gestig en open amptelik in 1875 haar “deure” – onderrig vind in die tuin plaas en kry gou die bynaam “Bloemhof”. Ds. J.H. Neethling meen dié bynaam is gepas, want die skool moet “bloemen voor de volk” kweek.
In 2025 sal Bloemhof 150 jaar oud wees en ons vier die ryk tradisies en verlede die hele jaar lank. ’n Spesiale feesweek word van 8 tot 16 Maart beplan.
Tans is daar 706 dogters vanaf graad 8 tot graad 12, meer as 40 personeellede, asook meer as 30 administratiewe personeel en terreinpersoneel.
Die skool is deel van die Wes-Kaap Onderwysdepartement.
Die Bloemhof-terrein is ruim, boomryk en pragtig, reg langs die Eersterivier en onder die wakende oog van die Simons- en Stellenboschberge.
Ons onderriglokale sluit in: 35 klaskamers, ‘n wetenskaplaboratorium, ‘n biologielaboratorium, ‘n huishoudkundelokaal, drie musieklokale, een musiekteoriekamer en ‘n musiekrekenaarlokaal, ‘n tegnologielokaal, ‘n mediateek, twee rekenaarlokale, ‘n skoolsaal en ‘n meerdoelige sentrum wat 1200 mense kan akkommodeer, toegerus met die nuutste fasiliteite. ‘n Lesingslokaal is in 2018 geopen en sederdien werk die skool se fasiliteitebestuurder en sy span hard daaraan om die klaskamers op te knap. Die nuwe klaskamers, waarvan daar reeds heelwat is, lyk soos lesinglokale.
Bloemhof word deur skole omring – Rhenish Girls’ High School, Rhenish Primary School, Laerskool Eikestad en Paul Roos Gimnasium. Jare lank bou Bloemhoffers al bande met hulle manlike eweknieë by Paul Roos, ‘n dubbel-medium hoërskool vir seuns, en daar vind vele Bloemhof-Paul-Roos-interaksie plaas. Die verhouding met ons susterskool is ook baie goed en tydens pouses op Vrydae is die hek tussen Bloemhof en Rhenish oopgesluit sodat die twee skole saam kan kuier. Dit moes ongelukkig tydens COVID gestaak word, maar ons hoop dit kan gou weer gebeur!
Bloemhof se naam is wyd bekend vir uitmuntende akademie, kulturele en sportprestasies.
AKADEMIE
Bloemhof handhaaf hoë akademiese standaarde en reeds van graad 8 af word daar op kritiese denkvaardighede klem gelê. In 2023 behaal Bloemhof weer ‘n 100% slaagsyfer.
Die akademiese rekord van die afgelope paar jaar sien só daaruit:
- In 2010 behaal 54 uit 140 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 38.6% van die klas.
- In 2011 behaal 62 uit 144 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 43.1% van die klas.
- In 2012 behaal 59 uit 134 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 44.0% van die klas.
- In 2013 behaal 67 uit 143 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 47.0% van die klas.
- In 2014 behaal 55 uit 137 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 40.0% van die klas.
- In 2015 behaal 63 uit 140 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 45.0% van die klas.
- In 2016 behaal 68 uit 137 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 49.6% van die klas.
- In 2017 behaal 58 uit 147 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 39.0% van die klas.
- In 2018 behaal 74 uit 146 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 50.7% van die klas.
- In 2019 behaal 50 uit 132 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 37.8% van die klas.
- In 2020 behaal 63 uit 146 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 48,5% van die klas.
Die etos van die skool, die kwaliteit van die leerders, sowel as die toewyding van die opvoeders, verseker dat ‘n atmosfeer van akademiese sukses en motivering gekweek word. Strukture vir akademiese vordering word baie goed gekontroleer en beheer. Sou ‘n leerder akademies sukkel, is daar ‘n skoolbeleid van intervensie en ondersteuning, wat die onderwysspan met erns navolg. Leerders self het die geleentheid om vir die akademiese mentorprogram, Bloemhof Tutor, aansoek te doen – of as tutor wat ander leerders akademies kan bystaan, of as leerder wat hulp wil ontvang. Meer inligting daaroor is by www.bloemhofschool.co.za/tutor beskikbaar.
In die klas word die akademiese werk op só manier aangebied dat dit lekker is om te leer.
KULTUUR
Die Bloemhof Accelerando Koor het ‘n ryk tradisie en het al by verskeie geleenthede die hoogste toekennings ontvang, bv. die beste hoërskoolkoor en beste kamerkoor by die Tygerberg Eisteddfod. In 2018 wen die koor ‘n goue medalje by die Wêreld Koorspele en eindig met 93% tweede by die Tygerberg Eisteddfod se gala-aand – 0.5% minder die wenkoor. In 2019 word hulle by die Tygerberg Eisteddfod as die beste hoërskoolkoor gekroon. Ook in 2021, ten spyte van die uitdagings wat COVID bied, vaar hulle uitstekend by ATKV-Applous.
Bloemhof dogters hou van gesels en deelname word aangemoedig aan ‘n wye verskeidenheid redenaars- en debatskompetisies.
Bloemhoffers het die geleentheid om saam met hulle broers van Paul Roos in ons strykorkes te kan speel: die Stringendo Strykensemble tree by belangrike geleenthede van die skool en by konserte op. Blaasinstrumentaliste kan deel van die skool se blaasensamble vorm, terwyl daar in 2021 vir die eerste keer Marimba Bands gevorm is.
Drama word as vak aangebied en Bloemhof-dramaleerders neem entoesiasties aan toneelfeeste deel. In 2012, 2013 en 2015 word Bloemhof as die nasionale wenner van die ATKV-Tienertoneel gekroon en in 2017 as die naaswenner. In 2018 is die toneelgeselskap as die nasionale wenners van die ATKV-Tientertoneel gekroon en in 2019 val die skool se leerderproduksie (deur die leerders geskryf, ontwikkel en op die planke gebring) onder die top 5 nasionaal. Toe die pandemie die ligte op toneelkompetisies doof, is individuele, digitale oplossings aangebied en Nichola Vivier, een van Bloemhof se 2020-matrikulante, word die eerste wenner van die ATKV se DigiToneel. Vanjaar het nog ’n Bloemhoffer, Zara van der Westhuizen, ook die finaal gehaal en derde geëindig.
Bloemhof het ook haar eie skoolkoerant, Fidelis, wat deur die leerders saamgestel word en elke kwartaal groot opwinding veroorsaak. Leerders kan as joernaliste, fotograwe, illustreerders en proeflesers betrokke raak, of op die uitlegspan dien. In 2021 het die skool se nuusbrief weer ’n weeklikse instelling geword en leerders skryf gereeld berigte of neem foto’s wat daarin gepubliseer word.
Die gemeenskap en die omgewing lê vir Bloemhoffers na aan die hart. Phoenix, die Bloemhof-leerders se gemeenskapsorganisasie, dra by tot die opheffing van ons gemeenskap, terwyl Terra, Bloemhofse eko-vereniging hulself beywer vir die bewaring van die omgewing deur omgewingsbewustheid by ons leerders aan te wakker om ons planeet te bewaar.
SPORT
Daar waar Bloemhof meeding, word uitmuntende sportprestasies verwag en ons dogters stel nie teleur nie! Atletiek, swem, waterpolo, tennis, hokkie, netbal en landloop word aangebied.
Bloemhof neem met groot gees aan die 4M-Interskole atletiekbyeenkomste teen top meisieskole Rhenish, La Rochelle en die Hoër Meisieskool Paarl deel. Die byeenkoms word jaarliks in Februarie gehou en ons hoop dat dit in 2022 weer aangebied kan word. Bloemhof en Paul Roos smelt ook jaarliks saam as BloemRoos om aan die Prestige-byeenkoms deel te neem.
Somersportsoorte soos atletiek, tennis, swem en waterpolo word aangebied.
Wintersportsoorte soos hokkie en netbal is ewe gewild, en Bloemhof se landloopspan sedert die amptelike insluiting as skoolsport in 2017 puik. Die hoogtepunt is ons jaarlikse groot Interskole teen die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein.
GELUKKIGE MENSE
‘n Kernwoord by Bloemhof is “gelukkig” – ons streef voortdurend daarna om die Bloemhof-omgewing nie net doeltreffend nie, maar ook aangenaam te maak sodat dit vir Bloemhoffers lekker is om in die skool te wees.
Benewens ons prestasies op akademiese, kulturele en sportvlak, is die ontwikkeling en geluk van ons dogters ‘n groot prioriteit by Bloemhof. Daarom word leerders aangemoedig om aan ‘n verskeidenheid aktiwiteite deel te neem en betrokke te wees by skoolaktiwiteite, sodat elkeen se talent ontdek en ontgin kan word.
Potensiaal is vir Bloemhof belangriker as prestasie. Dat ons leerders presteer, getuig daarvan dat hulle hul potensiaal ontdek en ontwikkel.
SKOOLTYE
Die skool begin soggens om 07:40 en die skooldag eindig om 14:20. Op Vrydae kom die skool reeds om 13:10 uit.
ROOSTER
Ons volg ‘n 10-dag rooster – Dag 1 tot 5 in die die eerste week van ‘n siklus en Dag 6 tot 10 in die daaropvolgende week.
KLOKTYE
Elke dag bestaan uit sewe periodes en staptyd van vyf minute skei akademiese periodes. Maandae tot Donderdae word as volg ingedeel:
- 07:40-07:50 | register
- 07:55-08:40 | Per. 1
- 08:45-09:30 | Per. 2
- 09:35-10:20 | Per. 3
- 10:20-10:40 | Pouse
- 10:45-11:30 | Per. 4
- 11:35-12:20 | Per. 5
- 12:25-13:10 | Per. 6
- 13:10-13:30 | Pouse en middagete vir koshuisleerders
- 13:35-14:20 | Per. 7
Op Vrydae word al sewe periodes gevolg, maar die periodes is effens korter:
- 07:40-07:50 | register
- 07:55-08:30 | Per. 1
- 08:35-09:10 | Per. 2
- 09:15-09:50 | Per. 3
- 09:55-10:35 | Per. 4
- 10:35-11:00 | Pouse
- 11:00-11:40 | Per. 5
- 11:45-12:25 | Per. 6
- 12:30-13:10 | Per. 7
- Leerders verdaag vir die naweek / middagete vir koshuisleerders
SLUITKASSIES
Sluitkassies is te huur en word deur me. Venessa de Beer in die Mediateek geadministreer. Leerders met mediese kondisies en senioriteit geniet voorkeur.
KOMMUNIKASIE: d6 EN WEBWERF
Bloemhof maak van d6-Connect gebruik – ‘n toepassing waarmee ons inligting en dokumente maklik met ouers en leerders kan deel. Die d6 is ’n kerndeel in ons kommunikasiestrategie en ouers en leerders word baie sterk aanbeveel om hiervan gebruik te maak – meer inligting is by www.bloemhofschool.co.za/d6 beskikbaar.
Bloemhof se webwerf word intern deur die kommunikasiebestuurder gebou en geadministreer. Die webblad word sedert 2018 van die grond af opgebou en, al is daar nog heelwat werk oor, probeer ons om dit so doeltreffend as moontlik te maak. Bladsye is só geskep dat dit maklik bekom kan word:
- Op soek na ‘n vrywaringsvorm? Kry dit by www.bloemhofschool.co.za/vrywaringsvorm
- Die eksamenrooster?Loer by www.bloemhofschool.co.za/eksamenrooster
- Die nuutste sportprogramme? Vind dit by www.bloemhofschool.co.za/sportprogramme
- Die belangrikste kennisgewings verskyn op die tuisblad onder “Kennisgewings” of kan by /kennisgewings gevind word.
Gebruik gerus die kieslys wat bo-aan die webblad verskyn of die webwerfkaart wat – ja, jy het reg geraai – by /webwerfkaart beskikbaar is.
JAAR-, KWARTAAL- en WEEKPROGRAM
Aan die begin van die jaar verskyn ‘n jaarprogram waarop belangrike datums aangedui word. Soms verander datums, daarom word daar kwartaalliks ‘n program saamgestel. ‘n Program vir die week is egter die beste plek om te weet wat in die komende (en die week daarna) gebeur. Dit kan op die webwerf by /hierdieweek gevind word.
In 2023 het ons nie ’n kwartaalprogram gebruik nie, maar ons jaarprogram via Google Docs as ’n lewendige dokument gehou. Hou dus ingedagte dat die program onderhewig aan verandering is.
Bloemhoffers is baie trots op hulle skooldrag wat kan meng en pas. Daar is ‘n hele paar modieuse en gestileerde items wat ons dogters met trots bymekaar sit na gelang van die seisoen en geleentheid.
- Die wit hemp met of sonder skooldas word gemeng met ‘n maroen rompie en knielengte wit sokkies.
- Ons moulose oortrektrui het ‘n ruitmotief in wit en maroen, terwyl die wintertrui met dieselfde motief spog in ‘n toeknoop, langmoutrui.
- Dogters kan in winter die uitrusting verander na ‘n wit langmou hemp met swart sykouse.
- Ons skoolbaadjie, in donkerblou met ‘n wapen en ‘n omboorsel, is verpligtend by saalbyeenkomste en amptelike geleenthede.
- Swart skoolskoene rond die uitrusting af.
By Bloemhof is ons baie gesteld op die voorkoms van ons dogters. Byderwetse skooldrag kan met smaak en netheid gedra word, en steeds baie goed lyk! Bykomstighede word gereeld gekontroleer – ‘n Bloemhof-skooltas is verpligtend en haarbykomstighede moet maroen of donkerblou wees.
KLEREBANK
Die skooldrag kan by die Klerebank op die perseel aangeskaf word, maar hierdie winkel is slegs op Maandae, Woensdae en Donderdae tussen 10:00 en 15:00 oop.
Besoek /klerebank vir die nuutste pryslys en ander kennisgewings.
Skoolbywoning is nie opsioneel nie, maar die HMS Bloemhof verstaan dat leerders soms nie by die skool kan wees nie.
Die skool het egter sekere prosedures wat gevolg moet word wanneer ‘n leerder weens siekte afwesig is, of indien verlof tot afwesigheid verlang word. Vind al hierdie inligting by /afwesigheid
Ouers en leerders is welkom om ons te kontak indien hulle nie die nodige inligting op die webblad vind nie. ‘n Kontaklys is by /kontak beskikbaar en die e-posadresse van personeellede verskyn by /personeel.
Aansoeke en algemene inligting
Me Sarina du Toit | aansoeke@bloemhofschool.co.za
Kommunikasie en webwerf
Kommunikasiebestuurder | kommunikasie@bloemhofschool.co.za