- +27 (0)21 887 3044
- admin@bloemhofschool.co.za
- Kochstraat, Stellenbosch
Bloemhof is dankbaar dat jy en jou ouers ons skool oorweeg en hoop om julle te voorsien van al die inligting wat jy en jou ouers benodig om ‘n deeglike besluit te neem oor jou hoërskool.
Omdat ons by Bloemhof graag met gelukkige mense werk, is jou keuse vir ons uiters belangrik. Ons beloof om jou besonderse potensiaal te ontdek en te ontwikkel – ons doen dit al reeds vir meer as 140 jaar!
Bloemhof is die oudste Afrikaansmedium meisieskool in die land. Oor die jare heen het ons bekend geraak daarvoor dat ons goed toegeruste jong dames die wêreld instuur.
Ons dogters word gevorm om hulle plek in die samelewing met selfvertroue te kan vol staan.
Natuurlik het die opvoeding van dames heelwat verander oor die laaste twee eeue – vandag plaas ons klem op die ontwikkeling van dieper denkvaardighede en ‘n sterk gemeenskapsin.
Goeie outydse waardes van afgerondheid en respek bly egter altyd in die mode en altyd deel van Bloemhof.
Jy kan ook deel wees van die besondere opvoedingsprogram by Bloemhof!
Vriendelike groete.
Jy kan ook ‘n HD-weergawe van die video HIER via Dropbox aflaai.
Kom besoek ons gerus op Dinsdag, 11 Februarie 2020 tydens ons jaarlikse opedag. Vir meer inligting daaroor, loer hier.
Om te presteer, is nie ons skool se uitgangspunt nie. Dát ons leerders op akademiese, sport- en kultuurgebied presteer, is bloot die produk van passie, selfvertroue, deursettingsvermoë en gesonde werksetiek.
Onderrig in Bloemhof geskied in Afrikaans, want leerders wat in hul moedertaal onderrig word, ontwikkel die nodige vaardighede om ook op universiteit te presteer, al is die onderrigmedium daar oorwegend Engels. Daar word baie klem op die aanleer van kritiese denkvaardighede gelê, want leerders word voorberei vir ’n wêreld waar probleemoplossing net so belangrik soos vakkennis is. Boonop is Bloemhof ná die 2017 NSS-eksamens weer aangewys as die beste Afrikaansmediumskool in die Wes-Kaap.
Goeie dissipline in ons klaskamers beteken dat leerders vinnig en doeltreffend werk en as enkelgeslagskool is die meisies gemaklik om in mekaar se teenwoordigheid op skoolwerk te fokus. In 2017 was enkelgeslagskole weer in die meerderheid van die top 20 skole in die Wes-Kaap.
Skool moet ook lekker wees en om pret te hê, is een van Bloemhof se strategiese doelwitte. Verskeie prettige aktiwiteite word deur die leerders beplan en bestuur en dra daartoe by dat leerders eendag met heimwee kan terugdink aan hulle skooldae.
Bloemhoffers berei tussen graad 8 en 12 nie net vir die NSS-eksamen voor nie, maar ook vir die lewe. Ons is ‘n waardegedrewe skool en moedig ons leerders aan om met respek, afgerondheid en integriteit die lewe aan te pak, altyd goeie werksetiek te handhaaf en vir mekaar, vir ander mense en vir die omgewing om te gee.
Die HMS Bloemhof se visie is om gelukkige mense te hê wat hulle potensiaal in ’n doeltreffende, aangename en volhoubare omgewing ontdek en ontwikkel. Met ’n span toegewyde, hoogsbekwame opvoeders en professionele afrigters is Bloemhof die plek om te wees.