HMS Bloemhof – skoolprofiel

Die Hoër Meisieskool Bloemhof, geleë in Kochstraat, Stellenbosch, is die oudste Afrikaans-medium meisieskool in Suid-Afrika.  Die skool is vanjaar 143 jaar oud en het ‘n ryk verlede en tradisie van uitnemendheid.  Daar word voortdurend gestrewe om hierop voort te bou.

Tans is daar 705 dogters vanaf graad 8 tot graad 12, 41 opvoeders en 35 terrein- en administratiewe personeel. Me. Wilna van Heerden het in 2010 die stuur as skoolhoof oorgeneem.

Die skool is deel van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die skoolfonds beloop R28 300 per jaar. Hoewel ‘n klein staatsubsidie per leerder ontvang word, moet die skool deur middel van skoolgeld, donasies of borgskappe verdere befondsing kry om hoë gehalteonderrig en moderne fasiliteite te verseker.

Bloemhof is daarop ingestel om ‘n groot verskeidenheid geleenthede vir die leerders te bied, nie nét op akademiese vlak nie.  Hoë gehalte sport- en kultuuraktiwiteite word aangebied en leerders word gemotiveer om hul talente te gebruik om hul volle potensiaal te bereik.  

Potensiaal is vir Bloemhof belangriker as prestasie en ons visie spreek hiervan:   Gelukkige mense wat hulle potensiaal ontdek en ontwikkel in ‘n doeltreffende, aangename en volhoubare omgewing.

Daarmee saam streef ons leerders én personeel om die skool se waardes – omgee, werksetiek, afgerondheid, respek en integriteit – daagliks uit te leef.

Ons leuse is Semper Fidelis en beteken “altyd getrou” – Bloemhoffers poog om altyd getrou aan die skool, haar geskiedenis en tradisies te bly en sodoende die Hoër Meisieskool Bloemhof se naam hoog te hou.


Hierdie bladsy is op 24 Mei 2018 opgedateer.