OPEDAG
ONS 2021-OPEDAG KAN ONGELUKKIG WEENS COVID-19 NIE FISIES PLAASVIND NIE.
INLIGTING WORD HIER ONDER GEDEEL EN SKOOLTOERE VIND OP 24 EN 25 FEBRUARIE PER AFSPRAAK PLAAS.
WORD IN 2022 ’N BLOEMHOFFER!

Skooltoere
Omdat die HMS Bloemhof nie vanjaar ’n fisiese opedag kan hê nie, wil ons tog aan voornemende leerders en hul ouers die geleentheid gee om die skool te besigtig. Skooltoere het reeds op 24 Februarie plaasgevind, maar daar is nog plek vir toere op Donderdag 25 Februarie 2021. Bespreek asb. by die skakel hier onder of per e-pos aan stephan@bloemhofschool.co.za.
- Leerders is nie verplig om in hul skooldrag te kom nie, maar doen gewoonlik. Dit is vir ons lekker om te sien in watter laerskole voornemende Bloemhoffers is!
- Ry asb. IN by die KOSHUISHEK (naaste aan Rhenish) en UIT by die HOOFHEK (naaste aan die Eersterivier) – dit sal met die verkeersvloei help.
- Parkeer gerus op die skoolterrein. Daar is voor die Sentrum, maar ook voor die koshuis en die hoofgebou parkering beskikbaar.
- Meld voor die Sentrum vir COVID-sifting aan. Sou besoekers nie sien waar dit is nie, kan daar vir die leerders met die maroen, wit en navy vlae gevra word.
- Besoekers se temperatuur sal geneem word.
- NB: Besoekers wat vandag siek voel, moet asb. NIE die toer bywoon nie. Ons kan altyd vir nog ’n toer in ’n latere stadium probeer reël.
- Toere duur sowat een uur en ’n koshuistoer vir leerders wat nie op Stellenbosch woon nie, is direk ná die skooltoer beskikbaar.
- Alhoewel ons graag wil hê ons gaste moet langer by ons kuier, versoek ons vriendelik dat ouers en leerders ná die toer weer moet vertrek. Die veiligheid van ons leerders, personeel en besoekers is vir ons ’n prioriteit en daarom wil ons kontaktyd en die hoeveelheid persone op die skoolterrein beperk.
Wat maak uniek ?
MOEDERTAALONDERIG
Ons glo in moedertaalonderrig
ENKELGESLAG
Ons is ’n enkelgeslagskool
PRET
Skool kan ook pret wees!
WAARDEGEDREWE
Leer vir die lewe, nie net vir die eksamen nie
POTENSIAAL BO PRESTASIE
Potensiaal is belangriker as prestasie
FAQ – Vrae wat dikwels opduik
Omdat die HMS Bloemhof nie vanjaar ’n fisiese opedag kan hê nie, wil ons graag aan voornemende leerders en hul ouers die geleentheid gee om enige vrae wat hulle oor die skool het, aan ons te rig.
Antwoorde op FAQs
Hoeveel leerders word elke jaar vir Bloemhof gekeur? Daar word jaarliks tussen 130 en 140 graad 8’s tot skool toegelaat, afhangende van die grootte van die graad 12-klas wat die vorige jaar die skool verlaat het.
Hoeveel leerders is daar normaalweg in ‘n registerklas? ’n Gemiddelde registerklas bevat 36 leerders en ons probeer altyd om tussen 34 en 38 leerders per klas te bly. Klasgroottes wissel weens leerders se vakkeuses.
Wanneer sal ons weet of ons dogter(s) tot die skool toegelaat word? In hierdie stadium wag ons nog om van die WKOD te hoor, maar in die verlede is ouers teen einde Mei ingelig.
Hoeveel kos dit om ’n leerder Bloemhof toe te stuur? Die huidige skoolgelde beloop R35 000 per kind per jaar. Losiesgelde vir verblyf in Huis Bloemhof is tans R33 200 per jaar per kind as dit nie wasgoed insluit nie. Vir meer inligting oor die skool- en losiesfooie, raadpleeg .
Is daar beurse beskikbaar? Ja, daar is één beurs: Die Maggie Laubser-gedenkbeurs. Inligting oor die beurs, asook die aansoekvorm daarvoor, is by www.bloemhofschool.co.za/aansoekvorm beskikbaar.