ACCELERANDO KOOR

Accelerando is die musiekterm vir “versnel”, en versnel het hulle! Die Bloemhof Accelerando Koor, onder leiding van me. Marijke Roos en begelei deur me. Suné van Wyk, bestaan uit ongeveer 80 lede. Jaarlikse oudisies vir die koor word in Januarie gehou en gr. 8’s wat by die koor wil aansluit, word in die eerste week van die nuwe jaar ’n kans gegee om ’n oudisie af te lê

Die Accelerando Koor presteer elke jaar skitterend by die Tygerberg- en Stellenbosch Eisteddfods en verwerf gereeld cum laude-toekennings vir hulle uitmuntende uitvoerings. In 2017 ontvang hulle 93.3% en in 2018, 93% in die finaal van die Tygerberg Eisteddfod.  Alhoewel ons baie trots op hierdie prestasies is, gaan dit vir ons oor meer as medaljes en punte.  Die vriendskap en genot van saam musiek maak bly die koor se hoofdoel. 

Die koor doen minstens een maal ‘n jaar ‘n konsert en werkswinkels saam met ander besoekende kore, bv. die Kokopelli Jeugkoor van Kanada. ‘n Gedeelte van die koor het al ‘n paar maal aan die Europa Cantat, ‘n internasionale koorfees, deelgeneem. Die koor reik ook uit na skole in die omgewing en het in 2017 kragte vir die e’Bosch Erfenisprojek met sewe ander hoërskoolkore gesnoer. ‘n Massakoor met leerders van onder andere Khayamandi Sekondêr, Hoërskool Makapula en Stellenzicht Sekondêr het vir hoendervleisoomblikke gesorg.

In 2018 neem die koor ook aan die Wêreldkorespele, wat die jaar in Pretoria plaasgevind het, deel en verower ’n goue medalje (82,5%) in die gewyde afdeling.  

2019 is weereens ’n opwindende jaar.  Bo en behalwe die normale skooloptredes (Stigtersdag, Prysuitdelings ens.) is daar ook die “Anthem Project”, Eisteddfods, PRG se beKoor, en Sing in Harmonie om na uit te sien.  

Die koor oefen Maandae na skool asook elke Donderdagaand, 18:00 – 20:00.

Dirigent

Marijke Roos

Begeleier & Bestuurder

Suné van Wyk