NUUS

Huiskapteine geesdriftig oor nuwe termyn

Bloemhof se nuutverkose huiskapteine is besonder geesdriftig oor die termyn wat voorlê. Mariaan Bruwer (Hofmeyr), Cara Hector (Joubert) en Linki-Mari Volschenk (Neethling) het met mnr. Stephan Meyer oor die Geeskomitee (GK), hul huise en  . 
 

Bloemhof se Huisleiers is in Augustus ingewy. Dié leerders vorm die GK – geeskomitee. Foto: Stephan Meyer

Dagsê, dames, en veels geluk met jul verkiesing as Bloemhof se nuwe huiskapteine. As jy jouself in vyf woorde moes opsom, wat sou dit wees?

MARIAAN: Vriendelik, positief, sosiaal, grapjas, hardwerkend.
CARA: Passie, liefde, spontaan, eerlik, vreugde.
LINKI-MARI: Neethling, Neethling, Neethling, Neethling, Neethling!

Linki, omdat ek ook in Neethling is, sal ek dié een oorsien! Wat is een ding wat niemand van julle weet nie?

MARIAAN: Ek lag vir alles en in die slegste situasies.
CARA: Ek lag in my slaap!
LINKI-MARI: Ek hou daarvan om in my vrye tyd te bak.

Vanaf die dag toe ek in graad 8 die GK van 2021 ontmoet het, het ek in my hart geweet dit is wat ek wil doen.

Op ’n ernstiger noot: Waarom wou julle eerder vir die GK (geeskomitee) as bv. vir die VRL staan? Nie almal weet dat die graad 11’s vooraf hieroor moet besluit nie. 

MARIAAN: Om op die GK te wees, was al van graad 8 af een van my drome. Ek het nog altyd opgekyk na die mense wat voor my verkies is vir die posisie en ek kon net droom om in hulle voetspore te volg. Ek dink dit pas meer by my persoonlikheid as wat VRL sou.
CARA: Ek dink dit pas meer by my persoonlikheid – ek is baie spontaan. Vanaf die dag toe ek in graad 8 die GK van 2021 ontmoet het, het ek in my hart geweet dit is wat ek wil doen.
LINKI-MARI: Ek wou nog altyd vir die GK staan. Dit was al n droom van graad 8 af. Alhoewel dit baie lekker sal wees om op die vrl te wees, dink ek GK is meer gepas vir my persoonlikheid. Gk was nog altyd iets wat ek wou wees.

Mariaan Bruwer

Cara Hector

Linki-Mari Volschenk

Mariaan, as jy nou vir jou graad 8-self iets kon sê, wat sou dit wees?

MARIAAN: Dit klink na ’n cliché, maar die tyd in hoërskool gaan baie vinnig verby. Geniet elke oomblik, maak nuwe herinneringe en koester jou vriendskappe. Dit is jou vriende wat jou deur die hoërskool gaan dra. Waardeer die klein dinge en gee net jou beste in alles wat jy doen. Niemand is perfek nie, almal maak foute en dit is normaal om partykeer ’n bietjie stout te wees. Niks is vir altyd nie; wat gebeur het, is verby en jy sal nooit weer daai tyd kan terug kry nie. So geniet elke oomblik asof dit die laaste is. Alles gebeur vir ’n rede en jy kom net sterker aan die ander kant uit.

Cara, en gestel jou graad 8-self sit nou hier. Wat sal jy vir haar sê?

CARA: Ek sal vir haar sê: “Geniet elke oomblik van die jaar en moenie te veel bekommerd wees oor die toekoms nie, leef in die oomblik en beleef Bloemhof ten volle!”

Linki-Mari, wat sal jy vir die graad 8-Linki sê?

LINKI-MARI: Jy gaan na 4M toe gaan in graad 9, moenie worry nie! Covid gaan nie jou hoërskoolloopbaan opmors nie. Nog SOOO BAIE gaan gebeur. En: Hou op om met “hom” te praat. Ja, jy gaan beter begin doen in skool. Vertrou op die Here se plan. Glo in jouself. Die lewe gaan aan. Niks gaan dieselfde bly nie. Jy gaan ander vriende kry. Jy sal jou plek vind. Neem IGO (ek wens ek het dit in graad 8 gedoen!) en spandeer baie tyd saam met Ouma. Hou aan om jouself te wees. Jy is genoeg.

Waarna sien julle die meeste uit vir die termyn wat voorlê?

MARIAAN: Ek is baie opgewonde oor die feit dat dit Bloemhof se 150ste bestaansjaar gaan wees. En ek is seker daar gaan baie nuwe hoogtepunte gemaak word. In dié stadium kan ek dit nie in ander woorde sit as om te sê ek is net opgewonde oor alles nie. Ek kan ook met selfvertroue sê dat daar geen ander mense as die Grilledille is waarmee ek die jaar wil aanpak nie. Ek sien die meeste uit om te sien watter hoogtes 2025 se matrieks gaan bereik.
CARA: Ek sien die meeste na die 4M uit!
LINKI-MARI: Daar is so baie om te sê… Ek sien uit vir my stem om elke Vrydag weg te raak. Ek sien uit na die sweet in my blazer. Ek sien uit na die kopseer wat ek gaan kry by 4M. Ek sien uit vir die hokkie elke Vrydag. Ek sien uit om die kreet wat ons gaan skryf, van onder die paviljoene af te sien. Ek sien uit om met Fidel te dans. Ek sien uit om die VRL-drom te slaan. Ek sien uit om die 4M-swem te kyk. Ek sien uit vir elke geesweek se outfits.Ek sien uit vir die graad 8-geesvang. Ek sien uit na 4M en Prestige. Ek sien uit om my beste te gee. Ek sien uit om vir Girls’ High te wen. Ek sien uit om vir Gim te wen. Ek sien uit om vir Oranje te wen. Ek sien uit om saam met Rhenish te sing. Ek sien uit na Bloemhof se 150ste verjaarsdag. Ek sien uit vir vuurwarm Interskole in ‘n ysige Bloemfontein. Ek sien uit om my vriende in die first teamste support. Ek sien uit vir liefde, gees en passie. Maar meeste van als, op hierdie oomblik, soos ek nou hier sit, sien ek uit dat Neethling die Interhuis gaan wen!

Die Interhuis lê voor, maar wie gaan in 2025 die Huisbeker wen?

MARIAAN: Ek dink ek praat vir almal, insluitend Neethling en Joubert, as ek sê… Hofmeyr gaan wen!
CARA: Definitief Joubert!
LINKI-MARI: Daar is net een antwoord…

Baie dankie, julle! En sterkte vir die termyn wat voorlê!