NUUS
Ontmoet 2025 se hoofleiers
Carlin Keuzenkamp en Nell Basson is as 2025 se hoof- en onderhoofdogter verkies, terwyl Lida Engelbrecht en Bea Visser die koshuis se hoof- en onderhoofdogter is. Mnr. Stephan Meyer het hulle met ’n paar vrae gepeper.

Carlin Keuzenkamp en Nell Basson is 2025 se hoof- en onderhoofdogter. Foto: Stephan Meyer
Carlin en Nell, eerstens: Veels geluk met julle verkiesing tot hoofleiers. Die leerders ken julle, maar as jy jouself in vyf woorde moes opsom, wat sou dit wees?
CARLIN: Betroubaar. Lojaal. Regverdig. Gedrewe. “Lag-te-veel”
NELL: Opreg, passievol, lojaal, gedrewe en simpatiek.
Waarna sien julle uit vir die termyn wat voorlê?
NELL: Ek is vreeslik opgewonde vir die volgende termyn met die nuwe lede van die VRL. Ek is opgewonde om met my mede VRL te werk en hulle op ‘n dieper vlak te leer ken hierdie termyn. Om ons probleme saam aan te pak en nuwe idees op papier in ‘n werklikheid te omskep om sodoende die 150ste bestaansjaar van Bloemhof ‘n onvergeetlike jaar te maak.
CARLIN: Elke VRL-termyn waarin ek betrokke was, het telkens verskil. Hoewel daar tot ‘n mate dieselfde riglyne en patrone was, het ek die voorreg gehad om hierdie aspekte by uitstekende leiers aan te leer. Hierdie patrone is natuurlik van groot belang om orde te handhaaf. Wat ek egter bedoel met ‘verskil’ is die nuwe persoonlikhede en idees wat die VRL verryk, veral met betrekking tot die 2024/2025-termyn waarin die VRL nou betree. Bloemhof word 150 jaar oud en geen ander geleentheid skree ’n “nuwe fase” as hierdie feesviering nie. Ek is opgewonde vir die nuwe geleenthede en inisiatief wat met hierdie “nuwe fase” gepaard gaan, maar natuurlik lê die onbekende ook voor. Alhoewel die onbekende dikwels angs kan veroorsaak, is dit juis wat ambisie by my kweek om hierdie termyn entoesiasties aan te pak. Ek weet dat Jesus baie groter is as die onbekende en dat Hy reeds die pad vir ons as VRL uitgelê en fyn beplan het. Ek kan nou reeds op die res van die VRL staatmaak vir ondersteuning. Wie sê dat die onbekende altyd net vreesaanjaend is? Ek het die voorreg ontvang om die termyn aan te pak met een van my beste vriendinne, Nell Basson, en terselfdertyd sien ek so uit vir die nuwe verhoudinge wat tydens hierdie termyn gebou gaan word. Elke jaar waardeer ek die persoonlike ontwikkeling wat ek en die mense om my ondergaan, en ek sien uit daarna om die toekomstige ek oor ‘n paar maande te ontmoet.
Dis egter nie net die nuwe dinge wat my opgewonde maak nie, maar die voorreg om Bloemhof vir wie sy is en vir wie sy nog altyd was met al haar tradisies te verteenwoordig. Ek klou aan daardie Bloemhof wat ek as laerskoolkind waargeneem het toe my ouer sussies in die skool was- die enigste hoërskool wat trots by my gekweek het en wat al soos tuis vir my gevoel het al was ek nog nie deel van die skool self nie. Dit is ook waarvoor ek opgewonde is- om daardie gevoel by die nuwe graad ags te kweek. Sodat wanneer hulle die woord “Bloemhof” hoor, sprankel hul oë van trots.
Ek is nie op soek na ‘n “ander” Bloemhof nie, maar na die Bloemhof met nuwe inisiatief.
Wat is vir jou die lekkerste deel van Bloemhof?
CARLIN: Daar is soveel wonderlike aspekte van Bloemhof, maar die een wat vir my die meeste uitstaan, is dat ek elke oggend, wanneer ek by die skool afgelaai word, tuis voel. Bloemhof voel soos my tweede huis. My ander familie waar ek 700 ander sussies het, en ‘n veilige omgewing waar ek nie geoordeel voel nie. Dit is juis hoekom Bloemhof vir my so kosbaar is, aangesien dit ‘n veilige hawe vir baie jong dogters bied om hulle volle en ware potensiaal te bereik sonder enige onderbrekings. Die lesse wat ek oor die afgelope jare hier in Bloemhof geleer het, sal ek vir niks wil verruil nie en ek gee alle erkenning aan Bloemhof. Ek is ook mal oor die feit dat die leerders in Bloemhof uniek is, maar tog ‘n eenheid vorm. Dit is juis wat Bloemhof so besonders maak – die feit dat dit soveel geleenthede in verskillende velde aan die leerders bied en niemand beperk nie. Dit mag dalk bietjie “cliché” klink, maar wat Bloemhof die lekkerste maak is die mense. Daar is iets baie spesiaal aan Bloemhoffers.
NELL: Vir my is die lekkerste deel van Bloemhof definitief die ondersteuning wat jy ontvang van jou mede Bloemhof sussies en die ongelooflike herinneringe wat jy met hul kan maak in ‘n kort tydjie. Hoe baie geleenthede Bloemhof bied aan elke leerder en om te sien hoe almal om jou floreer, wat jou self inspireer om elke geleentheid wat oor jou pad kom, aan te gryp.
CARLIN: Ek het vroeër in my lewe gedink dat daar van my verwag word om altyd die perfekte beeld aan my mede-leerders in Bloemhof voor te stel, sodat ek as voorbeeld dien. Dit het gelei tot vele uitdagende situasies en innerlike konflik. Met verloop van tyd het ek egter besef dat dit glad nie die geval is nie en het ek geleer om daardie denkwyses te laat gaan. Daar is ‘n massiewe verskil tussen die ‘perfekte dame’ en die unieke dame wat met die regte waardes opgevoed is. Bloemhof adverteer nie die ‘perfekte’ beeld aan die leerders nie, maar bied juis geleenthede aan jong meisies om hulself te wees, binne reëls en riglyne wat voordelig vir die skool kan wees. Om dieselfde reëls en riglyne as iemand anders te volg, maak julle nie dieselfde of perfek nie. Dit skep ‘n basiese fondament wat twee unieke individue in staat stel om, na skool, daardie algemene fondament te benut om in hul onderskeie lewenspaaie te presteer. Let wel: nie ‘perfekte persone’ nie, maar ‘unieke persone’.
Bloemhof leer jou om self te dink, en daarom kom die uitdagings nie altyd van Bloemhof se kant af nie, maar dikwels van jou eie kritiese denke. As ek een ding aan my mede-Bloemhoffers wil oordra, is dit dat jy altyd jouself moet bly, ongeag jou omgewing, posisie of situasie waarin jy jou bevind. Wees getrou aan jouself en respekteer die waardes en reëls wat aan jou geleer is. Integriteit is immers een van ons kernwaardes.
Wat is ‘n waardevolle les wat jy reeds geleer het en met ons kan deel?
CARLIN: Die waardevolste les wat ek geleer is, is om ‘n stukkie wysheid van elke persoon wat jy teëkom in jou lewe, saam met jou te neem en dit jou eie te maak. Natuurlik raai ek dit nie aan om om jou eie menswees te verloor nie, maar om juis uit ander se lewens te leer. Elke mens gaan deur die lewe en leer daagliks iets nuuts en ‘n nuwe les, maar daar is beslis nie sonder rede 7 Blijoen mense op hierdie aarde geplaas, net vir daardie een persoon om daardie les alleen te leer nie. Daar is ‘n rede hoekom flieks newekarakters het. Wees die hoofkarakter in jou storie, maar ag jou newekarakters as belangrik. Ek sou beslis nie die persoon gewees het wie ek vandag is nie, indien dit nie vir die mense was wat my lewenspad gekruis het en hier en daar ‘n merkie agtergelaat het nie. In samevatting, leer soveel as wat jy kan by ander mense en bid altyd vir wysheid.
NELL: Ek het geleer hoe kosbaar vriendskappe is en dat om jouself te omring met die regte mense, ‘n blywende indruk op jou karakter laat. Om jouself met ware hartsmense te omring, jou sal help om jou ware potensiaal te bereik en die uitdagende oomblikke op hoërskool net so klein bietjie beter te maak.
En laastens: As jy vir jou graad 8-self vandag iets kon sê, wat sal dit wees?
NELL: As ek iets vir my Graad 8-self nou kon sê, sou dit definitief wees om elke oomblik ten volle te geniet en nie te veel uit te sien na die volgende jaar op Hoerskool nie, maar om elke oomblik van hartseer en geluk in te neem, want dit sal binnekort net ‘n herinnering wees. Die lewe nie te ernstig op te neem nie, want jy hoef aan niemand jouself te bewys nie. Jouself met goeie vriendinne te omring, want hulle sal dien as jou ondersteuningsnetwerk vir die volgende 4 jaar. Om ook sterk te staan in wie jy is en waarin jy glo en te alle tye jou egte self te wees.
CARLIN: Ek sal eerlikwaar haar eers moet gerus stel, want as sy waarneem en sien waar ek my nou bevind, sal sy totaal en al my nie glo nie. Daarom sal ek graag vir haar wil sê om nooit, ooit moed op te gee nie. Moenie laat jou huidige omstandighede jou toekoms bepaal nie. Ek sal haar graag wil herinner dat Jesus ‘n mens in situasies plaas, juis om ‘n mens vir ‘n blink toekoms voor te berei. Ek sal beslis ook vir haar dankie moet sê, want sonder haar sou ek geen voorbeeld gehad het om van te leer en te groei nie. Ek sal egter ook vir haar dankie moet sê vir die feit dat sy so sterk gestaan het by dieselfde waardes wat ek steeds vandag het. Verskillende persone, maar ironies genoeg is daar juis verandering as gevolg van die standvastige waardes. En dan laastens sal ek vir haar ook natuurlik ‘n stywe drukkie gee. Om haar gerus te stel vir die sleg en goed wat vir haar voorlê- en ook grootliks dat ek ‘n drukkie mens is 😉

Lida Engelbrecht en Bea Visser is 2025 se koshuishoof- en onderhoofdogter. Foto: Stephan Meyer
Lida en Bea, veels geluk met julle verkiesing tot hoofleiers in Huis Bloemhof. As jy jouself in vyf woorde moes opsom, wat sou dit wees?
LIDA: Omgeehart, betroubaar, optimisties, veerkragtig, entoesiasties.
BEA: Empaties, ekstrovert, verantwoordelik, kalm en geduldig.
Waarna sien julle uit vir die termyn wat voorlê?
BEA: Ek sien daarna uit om nuwe idees te implimenteer en te sien hoe ons as HK ’n positiewe verskil in die koshuis gaan maak.
LIDA: Ek is so opgewonde om die koshuis, ’n huis weg van die huis te maak en dit saam met ’n wonderlike en energieke span. Almal het bitter oulike idees vir aktiwiteite wat ons die koshuis lekkerder kan maak en ek sien uit om ’n verskil te maak, al is dit in een van ons Huis Bloemhof sussies. Ons termyn gaan ’n wonderlike leer ervaring wees, so ek’s opgewonde vir dit wat voorlê en wat ons as span gaan doen.
Wat is vir jou die lekkerste deel van die koshuis?
LIDA: Sjoe, daar is te veel! Die lekkerste deel van Huis Bloemhof vir my is die ondersteuning en liefde tussen al die koshuiskinders. Maak nie saak of dit ń vinnige groet in die gang is nie (die koshuiskids groet mekaar altyd) of spesifiek uitkyk vir mekaar by sportgeleenthede of as jy nie ń vak verstaan nie dan kan jy net vinnig na jou buurvrou (jou vriendin in die kamer langs jou) toe stap en sy sal jou help. Natuurlik die mal van Huisvergadering, die mooi van Kersete, die gees van al ons aktiwiteite met ons broer- en susterskole, maar die lekkerste van alles is, is as jy laataand lus is vir ietsie soet of sout, jy hoef nie te kommer nie, daar is meer as 30 koshuissussies in jou graad wat jou kan help en met liefde hulle kos met jou deel (maar net partykeer 😉 ). Maar my heel gunsteling is as ons musiek kliphard in die gang speel en almal kom dans saam, dit is altyd groot gees!
BEA: Die lekkerste deel van Huis Bloemhof vir my is die spesiale tradisies en die liefde. Daar is hierdie sekerheid in elkeen dat daar altyd iemand in die koshuis sal wees wat jou ondersteun. Deur dik en dun, en alles tussenin.
LIDA: Om eerlik te wees, daar is maar baie min wat uitdagend is. Die enigste uitdaging is om al 183 Huis Bloemhof-sussies die naweekregister te laat invul, maar dit raak klein, klein bietjie beter…
Wat is ‘n waardevolle les wat jy reeds geleer het en met ons kan deel?
LIDA: Ek het geleer dat jy nooit alleen is nie (veral nie in die koshuis nie), dit is soveel beter om as ’n span saam iets aan te pak, as wat jy alleen dit doen. Ek dink altyd aan die volgende aanhaling: “As jy vinnig wil gaan, gaan alleen; maar as jy ver wil gaan, gaan saam”. Daar is werklik altyd iemand wat jou sal help, jou ondersteun en belangrikste van als, dat die Here altyd saam met jou is. Hy is werklik jou bron van lig wanneer dit donker raak, so vertrou net volkome op die Here, hy sal jou help.
BEA: Almal benodig net liefde en aanvaarding. Almal verdien jou respek, al stem jy nie saam met hulle opinies of aksies nie. Ons almal bly net mense.
As jy vir jou graad 8-self vandag iets kon sê, wat sal dit wees?
BEA: Wees lief vir jouself en moet nie bang wees om nuwe geleenthede aan te gryp nie. Alles sal uitwerk soos dit moet en moet nooit in jouself of jou vermoëns twyfel nie.
LIDA: Lida, jy is dalk nou baie ver van die huis af en alles is nog vreemd en nuut, maar moet nie vir een oomblik dink jy as alleen nie. Wees net jouself en weet die Here het alklaar jou lewe beplan en Hy stap hand-aan-hand saam met jou. Blom en groei daar waar jy is. Moet niks verby wens nie en neem letterlik aan alles wat jy kan deel, maak dit altyd vir jou lekker!
LIDA: Ja! Deur dik en dun, en alles tussen! Semper Amare, altyd met liefde.