NUUS
Bloemhof se (semi-)nuwe Kommunikasiebestuurder
Vir talle senior Bloemhoffers is mnr. Stephan Meyer ’n bekende gesig in die gange. Vir diegene wat hom nie ken nie: Hy het in 2014 as ’n opvoeder in Afrikaans, Engels en Skeppende Kuns by Bloemhof aangesluit voordat hy in 2017 die skool se kommunikasiekantoor beman het. Ná twee jaar in die korporatiewe wêreld is hy terug waar hy tuis is, meen Rentia-Marié Meyer. Sy het met hom ’n onderhoud gevoer.

Mnr. Stephan Meyer is terug in die kommunikasiekantoor. Foto: Curwen Christians.
Bloemhof is ’n tweede tuiste vir Meneer, maar vertel eers wanneer en waar Meneer al spoorgetrap het in die professionele wêreld?
Ek het vir vier jaar vir die US Woordfees gewerk, toevallig saam met juffrou Santjie van Vuuren se suster! Daarna was ek vir ’n kort tydjie by Paul Roos ’n opvoeder – my heel eerste skool. In Junie 2014 het ek by Bloemhof as ’n Afrikaans-, Engels- en drama-onderwyser begin en sjoe, dit was soos die hemel. In 2017 was ek en my man oorspronklik van plan om vir sy werk Amerika toe te emigreer, maar in dieselfde week wat ons hierdie planne finaal laat vaar het (Trump was ’n beduidende faktor…), is die kommunikasiebestuurderpos by Bloemhof geadverteer… And the rest is history!
In 2022 het ek die geleentheid gehad om by ’n Amerikaanse maatskappy te werk, en ek was vir twee jaar deel van hulle bemarkingspan. Ek was verantwoordelik vir die neem van foto’s, maar het hoofsaaklik gesit en skryf. Alles van advertensies tot brosjures tot blogs en inhoud vir sosiale media. Maar ek het na Bloemhof verlang en toe ek sien die pos word wéér geadverteer – die tweede keer in soveel jaar – het ek gedink dit is ’n teken om terug te kom. Die Bloemhoffer het net te diep in my hart ingekruip.
As “Stephan Meyer” in vyf selfstandige naamwoorde opgesom kan word, wat sou dit wees?
- Fotografie
- Katte
- Boeke
- PlayStation, en
- Apple.
As ek stout mag wees en ’n sesde ding kan byvoeg (én ’n byvoeglike naamwoord kan insluit!) wil ek “lekker mens” noem. En ek dink my kollegas, die leerders en die ouers wat my ken, sal dit beaam.
Die lekkerste deel van die werk is dat ek absoluut my passies uitleef.
Stephan Meyer
Vir diegene wat onbekend is met die rol van ’n kommunikasiebestuurder, wat is – vanuit Meneer se ervaring – die aspekte daarvan wat die mees uitdagend is, en watter elemente die lekkerste? En wat is belangrik in dié rol?
Die uitdagendste ding is die wye spektrum van die werk en uiteindelik is hierdie pos wat die kommunikasiebestuurder daarvan maak. Ek is baie kreatief en het soms te veel wat ek wil doen, en nie net doen nie, maar góéd doen. Ek stel hoë standaarde vir myself wat beteken ek sal eerder langer en harde werk. Dit skep dus ook ’n groot uitdaging wanneer dit by “afskakel” kom.
Ek besef egter ek moet myself inperk – goeie werk-lewe-balans is dalk die belangrikste ding wat ek in die korporatiewe wêreld geleer het. Progress, not perfection…
Die lekkerste deel van die werk is dat ek absoluut my passies uitleef. Ek is gek oor fotografie, lief vir skryf en dis vir my vervullend om mooi goed te maak. As ’n mens dit kombineer met ’n skool soos Bloemhof waar daar regtig altyd iets aan die gebeur is, kan ’n mens nooit verveeld wees nie!
Dit is vir my belangrik dat die skool se kommunikasie op ’n deursigtige en akkurate wyse geskied, en dat dit op die standaard is wat Bloemhof van haar leerders verwag.
Bloemhof kan sonder skroom erken dat Meneer se afwesigheid ’n groot leemte in die skool se gange, doen en late, en dinamika gelaat het. Is daar enigiets van óns wat dalk dieselfde leemte in Meneer se leefwêreld gelaat het?
Ek het die opwinding van die leerders gemis, ook om nie deel te wees van dinge soos 4M of interskole nie. Buiten vir die groot dinge, het ek ook die klein goedjies gemis – soos om gou op te staan en vir iemand iets te gaan vra. Om van die huis af te werk is lekker, maar vir ’n sosiale vlinder soos ek raak dit gou eensaam.
Maar ek het dikwels Bloemhoffers op kampus raakgeloop (ek is self weer ’n student en besig met my M) en dit was vir my lekker om te sien hoe Bloemhoffers ná skool in hulle eie vel gemaklik kan raak.
Laastens, wat hoop Meneer om alles in die Bloemhof-boek se nuwe hoofstuk, “Die Blye Terugkeer van mnr. Meyer” te skryf?
“Watch this space!”
Op ’n ernstiger noot, ek sien baie daarna uit om dit wat ek in my twee jaar in die korporatiewe wêreld geleer het, te kom terugploeg in die skool. ’n Mens is nooit te oud om te leer nie. Ek sal graag saam met die beheerliggaam wil werk om ’n kommunikasiestrategie te ontwikkel wat tot voordeel van álmal in die skool is – ouers, leerders, oudleerders, die hele personeelkorps, en die groter skoolgemeenskap.
Wat ek ook baie graag sal wil doen, is om dit wat ons vandag as alledaags beskou – daardie graad 11 LW-prakties waar die leerders ’n nier moes dissekteer, of die stil meisie wat by die landloop die roete met ’n vlaggie aangewys het – vas te vang vir Bloemhof se “200 Jaar”-boek.