NUUS
Ontmoet ons proefstudente vir kwartaal 3
Sewe proefjuffrouens sluit in kwartaal 3 by ons aan, en vier van hulle is ou gesigte. Mnr. Stephan Meyer het met hulle gesels.

Ontmoet ons proefjuffrouens: V.l.n.r. is Elke van Wyk, Nika Bedeker, Rentia-Marié Meyer, Willmi Loots, Lucia Wegelin, Mieke Matthee en Anyané Volschenk. Foto: Stephan Meyer
Mieke Matthee
Mieke was in 2020 in Bloemhof in matriek en boonop die hoofdogter. “Skaars hoofdogter,” skerts sy, want die skool was vir die grootste gedeelte van hul termyn weens Covid-19 gesluit.
Vakke: Rekeningkunde en Ekonomie
Wat het jy studeer? Ek het BComm (LLB) gedoen en besef my passie lê nie in die regswese nie, maar dié agtergrond kom my handig te pas in die onderwysveld. My ouers was so ondersteunend omdat hulle self vir skole werk en nog altyd vir my gesê het geen ander beroep gee vir ’n mens so ’n gevoel van bevrediging nie.
Hoekom onderwys? Ek het goeie onderwysers gehad wat die onderwys na ’n wonderlike beroep laat lyk het. Onderwys was dus maar altyd in my agterkop ’n opsie.
Anyané Volschenk
Anyané was ook in 2020 in matriek. Haar vakke is Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe en Wiskundige geletterdheid.
Wat het jy studeer? Ek het ’n BSc in Toegepaste Medisinale Chemie aan Universiteit Stellenbosch gedoen. Dit is ’n interdisiplinêre kursus en my hoofvakke was chemie en fisiologie. ’n Hoogtepunt was die vier keer ’n week wat ons prakties gehad het, want dit was in vier verskillende modules, en báié interessant.
Hoekom onderwys? Ek het altyd gedink daar is ’n wanpersepsie oor die moeilikheidsgraad van die wetenskappe en ek wil die stigma rondom dit verander. Ek het my universiteitsvakke só gekies dat ek FW en LW op skoolvlak kan aanbied. Bloemhof het die beste onderwysers, want hulle het my toegerus met kritiese denkvaardighede. Hulle was ook ’n voorbeeld van hoe belangrik harde werk en toewyding is – dit is ’n vaardigheid wat ek vandag koester en ek is dankbaar dat die grondslag in Bloemhof gelê is.
Rentia-Marié Meyer
Soos Mieke en Anyané was Rentia in die Covid-jaar in matriek. Sy was boonop die redakteur van die skoolkoerant en is baie passievol oor lees, skryf en redigeerwerk. Haar vakke is Afrikaans, LWO en Geskiedenis, “maar in my boeke is Afrikaans my hoofvak,” sê sy.
Wat het jy studeer? BA (Geesteswetenskappe) met Afrikaans en Nederlands, Algemene Taalwetenskap en Sielkunde as hoofvakke. Die beste deel van universiteit was die vriende wat ek gemaak het. Ek het ook baie geleer as proefleser en later as subredakteur by Die Matie.
Hoekom onderwys? Ek het deur my skoolloopbaan baie inspirerende onderwysers gehad. Ek wou aanvanklik ’n opvoedkundige silekundige word, maar ek het besef dat opvoeders regtig ’n kardinale rol in kinders se lewens speel. ’n Opvoeder kan dus ’n baie groot impak in iemand se lewe maak. Ek is baie lief vir Afrikaans en kan met reg sê dat ek wonderlike Afrikaansopvoeders by Bloemhof gehad het.
Lucia Wegelin
Lucia was in 2019 in Affies in matriek. Ons wou natuurlik by haar weet hóé Bloemhof van Affies verskil. “Ek dink dis dieselfde by alle meisieskole: Die susterskap is baie spesiaal en die atmosfeer is baie gemaklik. Omdat jy jouself kan wees, hoef jy nie bang te wees om foute te maak nie,” sê sy. Is Bloemhof beter? Sy lag en erken dat sy Bloemhof baie geniet.
Vakke: Engels (FAL) en Wiskundige geletterdheid
Wat het jy studeer? Ek het BA (Geesteswetenskappe) met Engels, Sielkunde en Sosiale Antropologie aan die US gedoen. Ek geniet my NOS-jaar baie meer as my voorgraadse studies. Ons was tydens Covid-19 eerstejaars en die klasse was baie groot. Nou is die studies meer intiem en dit is baie interessant, want almal het verskillende agtergronde.
Hoekom onderwys? Ek het nooit gedink dat ek ’n onderwyser sal word nie. In my finale jaar van sielkunde het ek besef dat ek leerders se lewens op ’n positiewe wyse kan beïnvloed, dit hoef nie in ’n kantoor te gebeur nie. Ek is ’n mense-mens en voel dat ek my persoonlikheid in die klaskamer kan uitleef. Ek glo ook dat deur verhoudings met leerders te bou, ek ’n liefde vir my vak by hulle kan kweek.
Nika Bedeker
Nika was saam met Lucia in 2019 ’n mattriekleerder in Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. “Ek is ’n baie trotse oud-Affie en dit was van die beste jare van my lewe. Maar ek het spesifiek aansoek gedoen om by Bloemhof te proef en ek dink dit sou so lekker wees as Bloemhof en Affies mekaar meer kon sien en meer goed saam kon doen.”
Vakke: Engels Huistaal en Lewensoriëntering
Wat het jy studeer: Ek en Lucia was saam in die laerskool, toe saam in die hoërkool en ons het albei BA (Geesteswetenskappe) met Engels en Sielkunde aan die US studeer. Ek het ook isiXhosa tot derde jaar geneem, maar het verlede jaar in die bemarkingswêreld gewerk.
Hoekom onderwys? Ek het verlede jaar besef ek kan nie net voor ’n rekenaar werk nie. Ek is ’n mense-mens en ek hou daarvan om konneksies te vorm. Ek wou kliniese sielkunde doen, maar besef die onderwys bied aan my die geleenthede om ’n verskil te maak.
Willmi Loots
Willmi was in 2020 ’n matriekleerder aan die Hoërskool De Kuilen. “Ons het van die begin af e-leer gehad, hoofsaaklik via Zoom en Skype en toe het ons later Google Classroom begin inspan,” onthou sy haar matriekjaar. Sy is nie heeltemal ’n vreemde gesig hier nie, want sy het vroeër vanjaar by Bloemhof observeer. “Ek het destyds gekies om by Bloemhof te kom proef omdat dit glad nie soos De Kuilen is. Ek wou graag sien hoe ’n meisieskool dinge doen, veral wat dissipline betref. Dit was vir my só lekker dat ek gevra het om terug te kom.”
Vakke: Lewenswetenskappe en Wiskundige Geletterdheid
Wat het jy studeer? Ek het BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie) aan die US studeer, maar ek het dit gekies met die wete dat ek nagraads onderwys wil doen. Menslike fisiologie maak my opgewonde en dit is lekker om te sien dat die leerders ook hieroor wil leer. Ek sien baie na die prakties uit, en ek weet die Bloemhoffers ook!”
Hoekom onderwys? Ek wou nog altyd ’n opvoeder word – dit was van kleins af die plan. Ek het op skool ’n ongelooflike meneer gehad wat vir ons Lewenswetenskappe gegee het. Hy het nét op die swartbord geteken en ek onthou die rooi en blou krytstof wat op sy broek gesit het nadat hy die hartkamers vir ons verduidelik het. Hy was regtig ’n inspirasie!
Elke van Wyk
Elke was in 2021 in matriek en studeer tans BEd aan die PUK. Sy sê sy het tydens die pandemie besef wat die werklike impak van hierdie beroep is: Onderwysers doen sovéél meer as net klasgee. “In my matriekjaar is Memie Nanatakyi, ’n graad 12-leerder van Rhenish, aan haar eie hand oorlede en dit het ons graadgroep veral diep geraak. Wat ek onthou is die wyse waarop die onderwysers ons hanteer het: Ons is raakgesien. Elke Bloemhoffer was ’n individu wat belangrik is, wat geag word, wat gesien word vir wie ons regte is: nie net gesiggies in die klas nie, maar jong vroue met drome én uitdagings. Dit is hoekom ek ’n opvoeder wil wees.”
Vakke: Wiskunde en Engels Huistaal
Wat het jy studeer? Ek is tans in my derde jaar van BEd.
Jy is die enigste proefstudent wat nié by Maties swot nie. Waarom het jy NWU gekies? My ouers en suster het almal in Potchefstroom studeer en ek wou graag die studentelewe waaroor hulle so dikwels praat, ervaar.
Ek wou ook iewers nuut begin en my eie voete vind. Almal in Stellenbosch het my geken – ek was Juffrou van Wyk se dogter, of Dominee Richard se kind. In Potch kon ek my eie stem vind.
Hoekom onderwys? Soos van die ander proefstudente wou ek sielkunde doen, maar ek weet onderwysers kan ’n baie noue pad met leerders stap. Ons kan ’n veilige tuiste vir leerders word. Ten spyte van die groot uitdaging wat die onderwys inhou – en ek weet, want my ma is self ’n onderwyser – sien ek dat haar motivering haar liefde vir die leerders is. Ek is boonop vir ingenieurswese gekeur en moes dus ’n moeilike keuse maak. Maar ek is nog nie spyt nie.