NUUS
Anria se pelgrimstog
Een van ons graad 10-leerders, Anria Mason, het in die skoolvakansie die Camino gestap. Sy het vir mnr. Stephan Meyer van haar pelgrimstog vertel.

Anria Mason in haar “reënpakkie” waarin hulle die Camino afgelê het. Foto: Verskaf
Anria Mason (graad 10) het gedurende die wintervakansie 268 km van die Camino de Santiago in Spanje gestap. Sy moes vir 13 dae – soms in die reën – oor berge en deur dale, maar het wel die katedraal in Santiago de Compostela, die tradisionele eindbestemming, gehaal.
“Ek het dit saam met my ma, pa en my ouma aangedurf, maar ek en my pa het die meeste van die tyd saamgestap,” sê Anria. Dit was vir haar ’n spirituele ervaring, en sy sê sy het die hele tyd Christelike musiek in haar ore gehad. “Die snaakste deel daarvan was dat dit nie eers goeie oorfone was nie – dis sommer daai goedkoop goedjies wat ek in Madrid op ’n bustoer gekry het.”
Ons het in een dag 24 km gestap en die helfte daarvan was in die gietende reën. Álles was deurdrenk. Én dit was opdraande.
Anria Mason, graad 10
Die moeilikste deel? “Ons het in een dag 24 km gestap en die helfte daarvan was in die gietende reën. Álles was deurdrenk. Én dit was opdraande.” Sy sê haar ouma het net ’n gedeelte van die pelgrimstog voltooi, maar sy en haar ouers kon die laaste deel in sokkies met die Suid-Afrikaanse vlag voltooi. “Dit was ’n groot fout. Ons het nooit blase gehad nie, maar in daardie sokkies was die laaste deel regtig ’n pyniging. Dit was asof my voete vir my gesê het ‘jy is nou klaar’. Daai sokkies…”



Watter herinneringe koester Anria die meeste? “Jy sien ’n hele ander landskap as jy stap. Ons het heelwat mense ontmoet. Daar was hierdie een paartjie wat ons ontmoet het, en toe, drie of vier dae later, toe loop ons hulle weer raak. En toe kry ons hulle weer by die katedraal aan die einde. Dít is was die Camino spesiaal maak.”
Sy het vir Bloemhof ’n klippie by die Cruz de Ferro, ’n baken van gebed by die staptog se hoogste punt, neergelê.
