NUUS

Oudleerder stel haar boek aan Bloemhoffers bekend

Alene Holder was in 2011 in graad 9 toe ’n boekpraatjie in Bloemhof se skoolsaal haar geïnspireer het om ’n skrywer te word. Sy was dié week terug om haar oor haar eerste boek met Bloemhoffers te gesels, skryf Stephan Meyer.

Alene Holder het Woensdag 10 Julie oor haar eerste jeugroman, Samboksalf en ’n draaktraan, kom gesels. Foto: Stephan Meyer

Vir oudleerder Alene Holder (matriek 2015) was dit vreemd om weer in die skoolsaal te wees. Voor haar sit die graad 8’s en 9’s en sy deel hulle mee dat sy self as graad 9-leerder ’n boekpraatjie in dié einste saal bygewoon het. Dís waar sy besluit het sy wil ’n skrywer word.   


Alene het op Woensdag 10 Julie haar alma mater besoek waar sy oor haar eerste boek, Samboksalf en ’n draaktraan, gesels het.

Ek skryf fantasie, want enige iets anders is te mak vir ’n wilde verbeelding.

Ná matriek het sy haar HonsBMus-graad aan Universiteit Stellenbosch en toe haar MMus-graad aan Canterbury Christ Church Universiteit in Engeland verwerf. Sy doen tans as PhD-kandidaat operanavorsing vir die Noorweegse Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NTNU). Sy skryf fantasie, want, sê sy: “enige iets anders is te mak vir ’n wilde verbeelding”. Sy maak dikwels vreemde spesies op en bou stede in lande wat nie bestaan nie. 

 

Alene skryf graag uit die perspektief van ’n musikant en haar passie vir musiek het ’n groot invloed op haar gedigte gehad.

Só lyk Alene se boek. Foto: Stephan Meyer

Alene was in 2015 ’n matriekleerder in Bloemhof. Foto: Stephan Meyer

Die graad 8- en 9-leerders luister aandagtig terwyl Alene vir hulle verduidelik wat samboksalf is. Foto: Stephan Meyer

Oor Samboksalf en ’n draaktraan

 

“Samboksalf?”

 

“Ja. Dis goedkoop en jy kan dit in jou broeksak ronddra. En op ’n oop wond smeer en dan brand dit nie so erg soos jy gedink het dit gaan nie.”

 

Lizelle sit buite die kafee om vir die koerant te wag. En om die huis te vermy. Maar die karoodorpie is nie so rustig soos die songebakte stofpaaie voorgee nie. Nie sedert die Skemerloper daar aangekom het nie. ’n Fantasie oor Vaaldrake en Momdrake en ’n piepklein dorpie in die Karoo.

 

Samboksalf en ’n draaktraanword deur LAPA Uitgewers uitgegee en is nou op die rakke. 

 

Loer gerus na Alene se webblad en volg haar op hierdie sosiale kanale:

  • Instagram: @a_m_holder
  • Tiktok: @a.m.holder_skrywer