NUUS

Accelerando wen harte (en trofees) in Europa

Die skoolkoor het tydens die vakansie na Duitsland, Switzerland, Oostenryk en Tjeggiese Republiek gereis waar hulle onder meer aan ’n koorfees deelgeneem het. Dinie Basson, ons Kultuurbestuurder, vertel meer oor hierdie avontuur. 
Die Bloemhof Accelerando Koor tydens een van hul optredes in Europa.

Die Accelerando Koor tydens een van hul optredes in Europa. Foto: Dinie Basson

Die Accelerando Koor het van 20 Junie tot 1 Julie na Duitsland, Switzerland, Oostenryk en die Tjeggiese Republiek getoer om in verskeie kerke en katedrale op te tree, koorwerkswinkels by te woon en aan die Musica Orbis Fees in Praag deel te neem. 

Bloemhof se skoolkoor was ’n gunsteling by dié internasionale korekompetisie en het met die trofee in hul kategorie (Onbeperkte Repertorium, Jeugkore) weggestap. Accelerando is ook – onder ál die deelnemende kore – as die wenner vir Beste Stemtegniek aangewys.

Accelerando is ook – onder ál die deelnemende kore – as die wenner vir Beste Stemtegniek aangewys.

Ander hoogtepunte van dié besonderse toer was die Sound of Music-fietstoer in Salzburg en die geleentheid om met ander jeugkore in Switzerland te skakel. Die koor het ook bootritte met asemrowende natuurtonele op die Königssee in Duitsland, die Vltavarivier in die Tjeggiese Republiek en die bekende Zürichmeer geniet. Daar was ook ’n ekskursie na die Rheinvalle in Switzerland.

Buiten die onskatbare waarde van die musikale onderrig en ervaring wat die koor opgedoen het, meen die koorlede dat die toer vir hulle nuwe perspektief gegee het, hulle horisonne verbreed het en hulle gehelp het om meer selfstandig te wees wat hul denke en besluitneming betref.

Dié jong sangers het nie nét met mooi herinneringe en pragtige foto’s teruggekom nie, maar ook vol nuwe entoesiasme, inspirasie en passie vir koorsang!

Accelerando tree op 27 Julie om 18:30 by die ATKV Applous Finaal in die Kaapse Stadsaal op. Kaartjies is by Quicket beskikbaar.