NUUS

Bloemhof deur DBO vereer

Bloemhof, Rhenish twee van die toppresterende kwintiel 5-skole in SA!

Die 8ste Nasionale Onderwys Uitnemendheidstoekennings is op 7 April tydens ’n glansgeleentheid in Durban aangebied waar die Minister van Basiese Onderwys die drie bespresterende kwintiel 5-skole in Suid-Afrika aangewys het. Kwintiel 5-skole is skole wat die meeste toegang tot hulpbronne het en al drie dié skole is vanjaar van die Wes-Kaap: In die eerste plek is Westerford High School, Rhenish Girls’ High School is tweede en die Hoër Meisieskool Bloemhof derde.

Op die foto is die twee Stellenbosch-skoolhoofde: me. Wilna van Heerden (HMS Bloemhof) en me. Helmien Slabber (Rhenish GHS). Foto: Stephan Meyer

Albei susterskole is trots om deur die Departement van Basiese Onderwys vereer te word, veral in die lig dat twee van die drie toppresterende instansies enkelgeslagskole is. Rhenish het in die 2021 NSS-eksamen ’n gemiddeld van 4,27 A-simbole per kandidaat gehad terwyl Bloemhoffers 4,09 A’s per kandidaat behaal het.