NUUS

Bloemhof weer die beste in die land

Die Hoër Meisieskool Bloemhof is baie trots en dankbaar om weer as een van die land se topskole – en as die land se beste hoërskool onder Afrikaans- en dubbelmediumskole – deur die Skoleondersteuningsentrum (SOS) aangewys te word.

Mnr. André van Staden (rektor van die Paul Roos Gimnasium) en me. Wilna van Heerden (ons skoolhoof) glimlag trots nadat albei skole verlede Vrydag eretoekennings van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) ontvang het. Foto: Verskaf

Dié aankondiging is Vrydag 25 Februarie in Pretoria tydens ’n prysuitdeling, waar die toekennings aan ons skoolhoof, me. Wilna van Heerden, oorhandig is, gedoen.

“Ek was bevoorreg om die toekennings namens die personeel in ontvangs te neem, want uiteindelik is dit die opvoeders se kwaliteitwerk wat uitslae van uitnemendheid verseker,” sê me. Van Heerden.

Die SOS publiseer sedert 2015 ’n jaarlikse verslag oor die nasionale matriekuitslae waarin dié data ontleed word met ’n spesiale fokus op die resultate van Afrikaanse skole, skryf mnr. Hugo Vermeulen (Hoof: Opleiding SOS) in die verslag se inleiding.

Hy verduidelik die metodiek wat gevolg is om die top 20-skole te bepaal, soos volg: “Die top 20-lyste fokus op twee areas, naamlik die skole met die meeste onderskeings en skole met die meeste onderskeidings per aantal kandidate wat die vak geneem het. By eersgenoemde staan groter skole ’n beter kans om die lyste te haal. By laasgenoemde is die speelveld egter gelyk.”

Ek was bevoorreg om die toekennings namens die personeel in ontvangs te neem, want uiteindelik is dit die opvoeders se kwaliteitwerk wat uitslae van uitnemendheid verseker.

Me. Wilna van Heerden

Skole met Afrikaans as onderrigmedium – enkelmediumskole soos Bloemhof, maar ook dubbelmediumskole soos Paul Roos Gimnasium – word duidelik in die verslag aangedui.

Bloemhof ontvang ’n toekenning vir die Afrikaanse skool met die meeste onderskeidings per kandidaat in die land, en ’n toekenning wat Bloemhof se uitnemendheid in die volgende vakke insluit (in terme van Afrikaans- of dubbelmediumskole in Suid-Afrika):

  • Afrikaans Huistaal (2de)
  • Wiskunde (12de)
  • Wiskundige Geletterdheid (7de)
  • Rekeningkunde (5de)
  • IGO (2de)
  • Fisiese Wetenskappe (9de)
  • Lewenswetenskappe (10de)

Die volledige SOS-verslag kan HIER gevind word.