Terugvoer van ouer

Ons deel graag die volgende brief wat van ’n ouer ontvang is:

Liewe Bloemhof Personeel

My graad 12-kind het vandag haar laaste skoolvak geskryf. Vir my is dit ’n baie vreemde gevoel. As ouer voel ek effens verward. Die kind is nog ’n kind en skielik staan sy op die drumpel van haar grootmenslewe. 

Ek onthou toe ek die dag my laaste skoolvak geskryf het nog so helder. Vir my het dit gevoel asof ek enige iets kan aanpak, en dat ek niemand meer het wat oor my skouer loer nie. Die ontnugtering was groot toe ek in my eerste jaar as student tot die besef kom hoe baie dit gehelp het dat iemand wel oor my skouer loer! Dit mag dalk aangeplak klink, maar ek wil een en elke onderwyser in Bloemhof Meisieskool bedank vir die tyd, energie, geduld, motivering en hardewerk wat jul insit om van elke leerder ’n “gehalte produk” te maak vir die wêreld daar buite! Ek weet ek is glad nie bang om my kind daar buite te los nie, want sy het uit genade by die beste skool geland. 

Bitter min mense besef hoeveel energie, toewyding en moeite dit verg om ’n stukkie steenkool in ’n diamant te verander. Die huidige pandemie het alles verander en moes veral onderwysers en leerders geweldige kopskuiwe en aanpassings maak om positief en gemotiveerd te bly. My kind was in verskeie plattelandse skole, waar ek met eerlikheid kan sê dat dissipline en susterskap maar vaag op die agtergrond geskitter het. (Ek is skaam om te erken dat dit eintlik nie bestaan het nie!) Ons was benoud toe ons die dag besluit om ons kind ver van die huis na n skool te stuur waar ons nie ’n oog kon hou nie. 

Die eerste drie maande was ’n geweldige aanpassing. Daarna was daar dramatiese groei en verandering in haar menswees te bespeur. Haar selfvertroue, selfwaarde, dissipline, motivering, selfstandigheid, lojaliteit teenoor haar mede-skoolgangers het verbeter, en sy het ’n skooltrots ontwikkel! Glo my maar dat dit baie raar is op die platteland! Susterskap was voorheen vir ons net ’n woord sonder betekenis. Ek wens ek kon op papier uitdruk hoe baie dit vir ons beteken het om ’n sagte ,stil kind te sien ontpop in ’n dame met waardes, trots, dissipline en gemotiveerdheid! 

Dankie dat my kind onder jul hande kon groei en ontwikkel. Dankie vir al die ure en geduld wat jul ingesit het in haar vorming op akademiese gebied, maar ook in haar menswees. As ma is ek baie spyt dat ek nie vroeër die besluit geneem het nie. My kind kon nie vir beter gevra het nie. Met elke krisis wat ons gehad het, het jul gesorg vir ’n oplossing. Weet dat ek ’n baie dankbare en trotse ma is! Al was ek nie self ’n Bloemhoffer nie, voel ek deel van ’n fantastiese skoolfamilie! In my hart, en in elke verwysing wat ek aan ’n soekende ouer doen, sal Bloemhof bo aan my lys pryk! Baie dankie!