Brief van ’n dankbaar Bloemhof-ouer

Ons deel graag die onderstaande brief wat ons van ’n graad 12-ouer ontvang het – dis ’n mooi getuienis waarin die personeel en leerders bedank word. 

Beste Wilna,

 

Bloemhof. Die heel beste besluit ooit vir ons dogter. Sedert Uitstapdag amper 3 weke terug,  dreig ek al om hierdie epos aan jou te stuur. Met ‘n reusagtige DANKIE wat bo-oor alles skree. Wat ‘n spesiale geleetheid was dit nie!

 

Voordat sy Bloemhof toe gekom het, het ek en my man haar verskeie kere probeer troos… “Dit is nie maklik en altyd lekker om hoog te vlieg nie…dis tough en harde werk, soms bitter alleen…maar byt vas, die uitsig van daarbo af, is hemels.” Sy het dit verstaan en daaraan vasgeklou, maar maklik was dit nie, want al wat sy by haar vorige skool geken het, is dat jy onder jou knieë afgeskiet word as jy durf waag om te veel uit te styg. Middelmatigheid was die gewilde keuse, die veilige opsie. Die plek waar jy gemeet word aan hoeveel jy drink en hoeveel partytjies jy kan inryg. Akademiese en sportprestasies en leierspotensiaal was nie deel van hierdie tellingbord nie. Jy mag sterk waardes hê, jy mag dit net nie hardop uitspreek, wat nog te sê LEEF nie. ‘n Amper onmoontlike taak vir haar relatief swart-en-wit persoonlikheid. Sy was só alleen.

 

By Bloemhof het sy presies die teenoorgestelde ervaar. Ek dink, nee ek weet, dit gaan daaroor dat in Bloemhof elke kind gewaardeerd en gerespekteerd voel. Bloemhof maak voorsiening vir almal. Van die stil enetjie tot die raasbek. Van die presteerder tot die gemiddelde kind. Van die kultuurkind tot die sportkind. Van die een wat grense toets tot die een wat in die binnebaan bly. WANT… die kinders weet wie en wat hulle is. Elkeen word sy plek onder die son gegun. Hulle is trots op mekaar. Middelmatigheid is nie die veilige plek waarheen almal wil verdwyn agv groepsdruk nie. Inteendeel, jy WIL uitstyg, want selfs daar voel jy veilig.

 

En dit is slegs moontlik om hierdie situasie te skep as die skool KERNGESOND is. Bloemhof is KERNGESOND. Ek het al baie gewonder hoe “verkoop” mens dit? Dit gaan nie oor fasiliteite, aktiwiteite en prestasies ens. wat met soveel fanfare uitgestal word tydens OPEDAE van sommige skole nie. Dit is soms so indrukwekkend vir nuwe ouers en voornemende leerders dat hulle hul blindstaar daarteen. Ek wens ek kan vir elkeen sê “gaan kyk dieper”. Want as jy dieper gaan kyk, sal jy agterkom dat Bloemhof se ongelooflike prestasies uit ‘n plek kom waar kinders mekaar aanspoor, ophef, opbou, ophelp, gelukwens… dit word nie bereik deur te trap op ander of af te breek nie.

 

Bloemhof het ons dogter gehelp om weer haarself te vind. Om trots te wees op wie sy is. Haar gawes en talente. Die selfversekerde wipstert-bokstert dogterjie van kleintyd is terug en hoe! Meer reg kan sy nie wees vir haar reis as student nie. Ja. Voorwaar, die uitsig IS hemels!

 

Dankie aan jou en jou personeel. Dankie Bloemhof. Die enigste ding waaroor ek spyt is? Dat sy nie vanaf graad 8 ‘n Bloemhoffer was nie.

 

Al my liefde.