NUUS

Ontmoet ons nuwe hoofleiers

In ’n geskiedkundige stemming is Lona Mhaga as die HMS Bloemhof se nuwe hoofdogter aangewys – die eerste swart leerder in die skool se geskiedenis. Saam met haar sal Carmen Bonsma as adjunk-hoofdogter die skool lei, terwyl Ghite Scholtz en Ané de Villiers die koshuis se nuwe hoof- en adjunk-hoofdogter is.  

Lona Mhaga is die HMS Bloemhof se hoofdogter vir 2021/22. Foto: Stephan Meyer

Maandag, 16 Augustus 2021 was ’n besonderse dag vir die Hoër Meisieskool Bloemhof. Die graad 11-leerders het elektronies vir hul nuwe hoofleiers gestem en, al was die uitslae vir eers ’n geheim, het die Klas van 2022 geskiedenis gemaak: Lona Mhaga, ’n isiXhosa-spreker uit Khayamandi, is deur haar klasmaats as hoofdogter verkies. Dis die eerste keer in die skool se geskiedenis dat ’n swart leerder hierdie posisie beklee.

Die aankondiging is eers twee weke later, tydens ’n regstreekse uitsending via YouTube, deur me. Wilna van Heerden, (skoolhoof) op 30 Augustus gedoen.

Luide applous vanuit die registerklasse – waar die leerders daarna gekyk het – het gevolg. Lona se maats het kort daarna by die Sentrum ingehardloop om haar geluk te wens en die ander leerderleiers het haar staande toegejuig.

Carmen Bonsma is as die skool se nuwe adjunk-hoofdogter aangewys terwyl Ghite Scholtz en Ané de Villiers Huis Bloemhof se hoof- en adjunk-hoofdogters vir 2021-2022 is. Ook die nuwe huiskapteine is aangekondig: Emma Beukes (Huis Hofmeyr), Salomé Lourens (Huis Joubert) en Tilla-Marié Schreuder (Huis Neethling).

Lona Mhaga en Carmen Bonsma. Foto: Stephan Meyer

ONDERHOUDE MET ONS NUWE HOOFLEIERS

Lona en Carmen, veels geluk met julle verkiesing as ons nuwe hoofleiers. Vertel vir ons kortliks meer oor julleself.

LONA: Ek’s ’n doodeenvoudige, plat-op-die-aarde meisie wat in Kayamandi grootgeword het. Ek is die oudste van twee kinders en my ma is ’n enkelouer, so dit het gemaak dat ek nogals op ’n jongerige ouderdom verantwoordelik en onafhanklik geraak het.
Ek’s mal oor kerk en plaas God altyd eerste, maak nie saak wat ek doen nie.
Almal kan ook seker saamstem dat ek 98% (seker 99.9%) van die tyd lag. Lag laat my goed voel en dis nogals aansteeklik, want die mense lag altyd in my teenwoordigheid.

CARMEN: Ek is ’n passievolle, vriendelike en positiewe persoon. Partykeer is ek stil in die klas, maar pouses sit ek voor in die koor! Ek het die vermoë om met verskillende mense oor die weg te kom. Soms dink ek te veel oor goed en ek hou nie van sukkel nie – maar dit is in ons familie se gene! Ek is ’n kind van die Here en glo dat daar ’n spesifieke doel is waarom ek as adjunk-hoofdogter gekies is. Dis belangrik vir my om elke dag te lag, al is dit net in die Skeinatklas.

Kan julle met die lesers iets deel wat hulle nie sommer van julle sal weet nie?

LONA: Ek weet nie of dit interessant genoeg is nie, maar mense skrik nou en dan wanneer ek vir hulle sê dat my huistaal isiXhosa is. Ich kann auch ein bisschen Deutsch sprechen. En ek weet dit kan nie met hoërskool vergelyk word nie, maar ek was ook op laerskool hoofdogter.

CARMEN: Laat ek bietjie dink… My wekker gaan eers 06:50 af, so ja, ek is nié ’n oggendmens nie! My dag begin met ’n koppie sterk, gewone tee en die perfekte oggend op pad skool toe sluit ’n Justin Bieber-liedjie (kliphard) in. My laaste maaltyd op aarde sal… ’n stuk verjaarsdagkoek wees.

Hoe het julle die aankondiging van die hoofleiers ervaar? Was julle op jul senuwees? Het julle dit verwag?

LONA: Ek het beslis nie dit verwag nie! Ek’t vir die hele inhuldigingseremonie gebewe, want dit was onsettend koud in die Sentrum. Maar as ek terugdink aan als, was dit ook seker senuwees wat my so laat bewe het.
Toe Carmen as adjunk-hoofdogter aangekondig is, was ek SUPER trots en bly vir haar, maar ek’t nie gedink my naam staan ook “groot en in bold gedruk” op die papiertjie in juffrou Van Heerden se hand nie. Aangesien dit tjoepstil in die Sentrum was, sê my vriende wat nie op die verhoog was nie hulle het almal gehoor hoe ek skrik.Dit het baie harder uitgekom as wat ek gedink het dit sou!

CARMEN: Ek het kalm gevoel daaroor en geweet dis nie in my hande nie. Die VRL is ’n goeie, sterk groep en ek het besef enige van ons sal die posisie baie goed kan vul. Die stres het my eers getref toe die skoolhoof nie die briefie in die koevert kon kry nie!

Wat was julle vriende en familie se reaksies?

LONA: Die eerste persoon wat ek gesien het nadat ek my boeglam geskrik het, was my vriendin, Ané, wat reg voor die verhoog gesit het. Sy het so baie gehuil dat ek net my eie trane laat loop het. Na ’n rukkie het al my vriende uit hulle klasse uitgehardloop om vir my in die Sentrum te kom gelukwens. Chelsea Jonas, my vriendin, se woorde aan my was “Lona, sê asseblief vir my dat ek reg was?! Ek’t mos vir jou gesê jy gaan hoofmeisie word!”
My familie is ongelooflik trots op my. My ma het seker ’n volle drie ure gehuil toe sy die goeie nuus hoor. Ek was nog nie huis toe ná die inhuldiging nie, maar niemand kan wag dat ek vandag huis toe gaan nie.Ek sien só uit aangesien dit ook môre my verjaarsdag is. Daar is hierdie naweek baie om te vier!

CARMEN: Ek weet nie wie die blyste was nie, ek of my vriende!  Dit was moeilik om in daardie stadium net “COVID-drukkies” te gee. Sonder my vriende se positiwiteit en inspirerende vermoëns sal skooldae hopeloos te lank voel. My familie het my baie ondersteun en was net so opgewonde saam met my.

Waarna sien julle uit as hoofleiers? En is julle op jul senuwees oor die termyn wat voorlê?

LONA: Ek sien beslis uit om die graad 8’s van 2022, die Klas van 2026, volgende jaar by die skool te verwelkom en ’n voorbeeld vir hulle te wees. Ek sien uit om hulle te lei en by Bloemhof welkom te laat voel.
Is ek op my senuwees? Baie! Ek is ’n bietjie bang vir wat voorlê, maar soos een van my gunstelingonderwysers, juffrou Joubert, by ons eerste vergadering gesê het: Dis goed om so bietjie bang te wees.Al is ek op my senuwees, weet ek ek’s nie alleen nie; ek het vir Carmen, die res van die VRL, my graadgroep, die personeel, BLOEMHOF, my familie en my vriende wat my 1000% “back”. En natuurlik, ek het vir God, wat altyd hier vir my is.

CARMEN: Ek sien daarna uit om as ’n span saam met Lona te werk. Ek glo ons sal saam ’n verskil maak, moeilike en minder moeilike situasies hanteer en albei groei wat  leierskap en menseverhoudings betref.
Ek kan nie wag om ’n persoonlike verhouding met my medeleerders te bou nie. As onderhoofdogter sal ek graag Bloemhoffers wil akkomodeer en na hul versoeke wil luister.
Ek sal jok as ek sê ek is nie gespanne nie, maar die opwinding is groter. Ek gaan dit wat kom, hanteer en die beste daarvan maak. Ons graad sal vir my en Lona te alle tye ondersteun, daarvan is ek seker. Ek kan nie wag vir alles wat voorlê nie.

Wie is julle rolmodelle? En hoekom sê julle so?

LONA: Ek het meer as een. My ma, tannie en ouma is beslis vir my rolmodelle. Hulle is die sterkste vroue wat ek ken, en gaan uit hul pad uit om vir my en my boetie gelukkig te maak.
Siya Kolisi is my ander rolmodel, want hy het nie toegelaat dat sy omstandighede sy toekoms bepaal nie. Hy is geleenthede gegun en het daarvan gebruik gemaak om te kom waar hy vandag is. My liefde en respek vir hom het definitief tydens die COVID-19-pandemie toegeneem toe hy en sy vrou die Kolisi Foundation gestig het en na die minder bevoorregtes in Suid-Afrika uitgereik het. Dís UBUNTU!

CARMEN: Ek sien nie ’n rolmodel as ’n persoon wat noodwendig foutloos is nie. As hulle val, staan hulle op, en leer uit hulle foute. Eienskappe wat hulle ’n rolmodel maak, is hul uithouvermoë, dissipline, integriteit en om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Persoonlik het ek meer as een rolmodel: die Here, my familielede en interessante mense wat daagliks my pad kruis.

As julle elkeen ’n droom vir Bloemhof kon hê, maak nie saak hoe vreemd of vergesog nie, wat sou dit wees?

LONA: My droom vir Bloemhof sou wees om diversiteit in die skool te bevorder, want diversiteit leer ’n mens hoe om in ’n samelewing te leef waar mense uniek is. Diversiteit verbeter kritiese denkvaardighede, bou empatie en moedig individue aan om anders te dink. Die realiteit is dat die lewe daar buite nie altyd so rooskleurig is soos wat ons dink dit is nie.

CARMEN: In my Bloemhof-droomwêreld is Bloemhoffers uitgerus en opgewonde wanneer hulle wekkers vir skool afgaan. En moenie van gratis koffie by Bruce tussen periodes vergeet nie! Terug by die werklikheid: Ek droom van ’n Bloemhof waar meisies positief is en as mense groei en waar hulle gehoor word ongeag hul graad of omstandighede. My droom vir elke Bloemhoffer is jarelange vrienskappe en die besef dat hulle spesiaal en uniek is.

En laastens… Lona, jy het nog nie die geleentheid gehad om die skool toe te spreek nie. As jy vir die Bloemhoffers ’n kort boodskap kon gee, wat sou dit wees?

My boodskap is baie kort en eenvoudig.

Bloemhof, jy bepaal jou eie geluk. Nie 4M nie, nie Prestige nie, nie Interskole nie. JY BEPAAL JOU EIE GELUK.

Hierdie jaar was baie moeilik; baie aktiwiteite kon nie plaasvind nie en daar was byna niks om na uit te sien nie, maar ek herinner julle: die keuse is joune. Gaan jy opstaan, positiwiteit kies en die dag vir jouself lekker maak of gaan jy opstaan, negatief wees en die moeilike dae wegwens? Die keuse is joune. Alleenlik joune! Onthou: die gras is groener daar waar jy dit water gee.

 

Bloemhof, jy bepaal jou eie geluk. Nie 4M nie, nie Prestige nie, nie Interskole nie. JY BEPAAL JOU EIE GELUK.

Lona Mhaga

Ghite Scholtz en Ané de Villiers. Foto: Stephan Meyer

Ghite en Ané, veels geluk met julle verkiesing as die koshuis se nuwe hoofleiers. Vertel vir ons kortliks meer oor jouself.

GHITE: Ek sal myself as ’n gelukkige kind beskryf wat geseënd is met soveel dinge waarvoor ek dankbaar kan wees. Ek is gegrond in my waardes van regverdigheid, eerlikheid en lojaliteit. My doel is om elke dag ’n betekenisvolle lewe te lei en die geleentheid om te help raak te sien. Ek is baie gedrewe om my doelwitte te bereik; ek pak alles wat ek doen met entoesiasme aan.

ANÉ: Ek is ’n groot “people’s person” wat altyd vir ’n lekker avontuur saam met my vriende en familie kans sien. Ek probeer om die beste van ’n situasie te maak en geluk in die klein oomblikke te vind. Daar is vir my min dinge wat ’n lekker koppie koffie of ’n  drafsessie in die berg oortref.

Is daar iets wat min mense van julle weet?

GHITE: 3-jarige Ghite het probeer om haar appelsap met ’n hoender te deel. Natuurlik het die hoender nie die aanbod aanvaar nie en het die appelsap-botteltjie begin pik. Nodeloos om te sê, drink ek tot vandag toe nie appelsap nie en ek het steeds ’n abnormale vrees vir hoenders.

ANÉ: Soveel soos ek ’n naweek in die Waterfront saam met my ma, my tweeling- en ouer sussie geniet, net só geniet ek jagseisoen saam met my pa in die Kalahari!

Vertel vir ons van die aankondiging van die hoofleiers. Wat was julle ervaring daarvan?

GHITE: Ek sal definitief nie die waarheid praat as ek sê dat ek nie op my senuwees was nie. Natuurlik ervaar ’n mens hoop, opwinding en ’n bietjie vrees, maar ek het my bes probeer om nie enige verwagtinge vir die aankondiging te hê nie. Ek het lank gebid vir rustigheid en kalmte oor die verkiesing en ek het geweet dat wat ookal gebeur, die beste vir my sou wees.

ANÉ: Ek was heeltemal oorweldig, maar op die beste manier moontlik. Ek het dit nie in die minste verwag nie. Ek was op my senuwees, maar het probeer om nie te veel te stres nie, want ek het geweet wat moet gebeur, sal gebeur.

Hoe het jul vriende en familie op die goeie nuus reageer?

GHITE: My familie was, en is nog steeds, vreeslik bly en opgewonde saam met my. Dit is vir my so spesiaal om te sien hoe elkeen op hul eie manier hul trots wys en my alreeds so baie ondersteun. Die enigste teleurstelling was natuurlik dat hulle dit nie reeds daardie Maandag saam met my kon vier nie.
Dit is vir my net so lekker om te sien dat my vriende dit met soveel vreudge saam met my ervaar en dat hulle my laat besef hoe trots hulle ook op my is.

ANÉ: My familie het my 100% ondersteun en deel beslis in al my gevoelens, die hele mengelmoes daarvan! My pa het my seker drie keer probeer bel tydens my Skeinat-periode en my ma het omtrent vir haar hele kantoor vertel!

Waarna sien julle uit as hoofleiers?

GHITE: Ek sien sommer uit na alles wat die nuwe geleentheid gaan oplewer. Ek sien uit om elke meisie nog beter te leer ken, die drome en planne van die nuwe HK-groep te sien realiseer en om my doel in die koshuis uit te leef. Ek sien uit na elke klein tradisie waarop ons gaan voortbou en vir die voorreg om my koshuissussies te lei.
Ek sien ook uit na elke uitdaging wat in hierdie termyn oor my pad kom, want ek weet dat dit my gaan vorm en laat groei om ten einde die bes moontlike hoofdogter wat ek kan vir my koshuis te wees.

ANÉ: Ek sien uit om hand aan hand saam met Ghite en die res van die HK as ’n span te werk om vir elke Huis Bloemhoffer die geleentheid te gee om onvergeetlike herinneringe te skep.

Is julle op jul senuwees oor die termyn wat voorlê?

GHITE: Ek weet dat die termyn beslis nie altyd maklik gaan wees nie en dat dit baie uitdagings gaan bring, maar ek weet ook dat ek dit saam met die nuwe HK-groep so maklik gaan deurmaak. Reeds in die eerste week van ons termyn het hulle gewys dat hulle nie deur ’n moeilike situasie, ongeag die grootheid daarvan, ontmoedig word nie. Dit is beslis iets wat die senuwees vir die nuwe avontuur net soveel minder maak. 

ANÉ: Ja, vir seker, maar terselfdertyd is ek baie opgewonde om te sien wat die termyn inhou en hoe die HK elke geleentheid ten volle gaan aangryp.

Wie is julle rolmodelle? En hoekom sê julle so?

GHITE: Sonder twyfel kan ek sê dat my ma my grootste rolmodel is. Ek streef om, net soos sy, almal om haar met liefde te behandel, ongeag hul agtergrond of verlede. My ma se sterkheid is iets wat ek elke dag bewonder en ek kan net daarvan droom om die helfte soveel mense se lewens so positief te beïnvloed soos sy reeds het. My ma se totale vertroue op God en geloof dat Hy van elke deel van haar lewe in beheer is, is die heel beste voorbeeld wat ek as haar dogter kan hê. Elke kind sal dit seker sê, maar ek belowe, my ma is regtig die heel beste.

ANÉ: Daar is ’n hele paar name waaraan ek kan dink, maar Denike le Roux, hoofdogter van Huis Bloemhof in 2019, stel vir my die perfekte voorbeeld van die soort leier en mens wat ek wil wees: Iemand wat almal met liefde en omgee toevou, iets goed in elkeen raaksien, ander se behoeftes voor haar eie plaas, maar terselfdetyd weet wanneer om haarself eerste te stel.

As julle elkeen ’n droom vir Bloemhof kon hê, maak nie saak hoe vreemd of vergesog nie, wat sou dit wees?

GHITE: My droom vir Huis Bloemhof en die meisies wat hier woon, is dat elkeen van hulle werklik sal besef dat sy nie nodig het om haarself te verander om soos iemand anders te wees nie, maar dat die koshuis almal, nes ’n gesin, aanvaar net soos hulle is. My droom is dat die passie en liefde wat deur ons gange sweef nooit verlore sal gaan nie en dat elke meisie sal aanhou om dit daagliks uit te leef. As ek nou ook ’n droom kan noem wat dalk vir iemand wat nie in Huis Bloemhof is nie, vreemd mag klink, is dat ons weer hande kan vashou vir gebed by die etenstafel en ’n middagslapie kan vat op jou vriendin se bed.

ANÉ: Ek hoop die koshuis kan binnekort weer al die kosbare tradisies uitleef soos voor die pandemie, bv. hande vashou om die etenstafel, fliekaande saam met jou hele graad en baie lekker goed doen, soos koekbakaande en interseksie-volleyball en -tafeltennis. Ek wens ook dat my graad die geleentheid kry om ’n koshuisdans by te woon.