NUUS

Mnr. Jacobs as skoolhoof by Overberg aangestel

Ná ’n lang aansoekproses het Bloemhof bittersoet nuus ontvang: mnr. Johan Jacobs is deur die WKOD as die nuwe skoolhoof van die Hoërskool Overberg in Caledon aangestel en sluit binnekort sy loopbaan as opvoeder hier af. Maar dat hy ’n uitstekende skoolhoof gaan wees… daaroor is daar geen twyfel nie.

Mnr. Johan Jacobs. Foto: Stephan Meyer

Mnr. Johan Jacobs, departementshoof by die HMS Bloemhof, is as die skoolhoof van die Hoërskool Overberg in Caledon aangestel. Hy het Woensdag 10 Maart, ná ’n lang aanstellingsproses, gehoor dat hy die suksesvolle kandidaat is.

 

“Ons is saam met hom opgewonde oor die nuwe uitdaging,” sê me. Wilna van Heerden, skoolhoof. “Een van ons doelwitte by Bloemhof is juis om meer opvoeders te help gereedmaak om bevorderingsposte met selfvertroue te aanvaar.”

Mnr. Jacobs is die tweede Bloemhof-opvoeder wat in die afgelope paar jaar suksesvol as skoolhoof by ’n ander skool aangestel is. Me. Anne-Marie Klink (voormalige adjunkhoof by Bloemhof) is sedert 2018 die skoolhoof van die C & N Meisieskool Oranje in Bloemfontein.

Daar baie dinge wat Bloemhof vir my spesiaal gemaak het. Die leerders se maniere en werksetiek. Hoe hulle aanhou baklei en ondersteun al wen hulle nie. En hulle baadjietrots.

mnr. Johan Jacobs

Wat gaan mnr. Jacobs die meeste by Bloemhof mis? “Die noue verhouding met my leerders in die klas,” meen hy.

Mnr. Jacobs is sedert Julie 2014 as opvoder in Natuurwetenskappe (NW), Lewenswetenskappe (LW) en Wiskundige Geletterdheid (WG) by Bloemhof werksaam, maar het ook as die eerste hokkiespan se spanbestuurder gedien. In die afgelope ses jaar was daar baie dinge wat Bloemhof vir hom spesiaal gemaak het. “Die leerders se maniere en werksetiek,” sê hy. “Hoe hulle aanhou baklei en ondersteun al wen hulle nie. En hulle baadjietrots.” Hy voeg by dat dit opvallend is hoe netjies hulle altyd lyk en hoe mooi versorg die skool en die skoolgronde is.

Mnr. Johan Jacobs in aksie tydens ’n LW-klas vir graad 11’s. Foto’s: Stephan Meyer

Dit is duidelik dat sy leerders hom baie gaan mis. “Uitstekend!” antwoord die graad 9.7-klas toe hulle gevra is om vir mnr. Jacobs in één woord te beskryf.  Hulle het as graad 8.23 ook by hom klasgehad. Ander woorde wat opduik, is “presies” en “passievol”. Die woord “omgee” word ook meer as een keer genoem.

 

“Hy was altyd só voorbereid en het hom vreeslik uitgeleef,” sê Tilla-Marié Schreuder (gr. 11) wat in graad 8 in sy NW-klas was en sedert graad 10 Lewenswetenskappe by hom neem. “’n Mens kan sien dat hy ’n passie vir sy vakke het. Mnr. Jacobs het selfs tydens lockdown vir ons video’s gestuur waarin hy die werk weer verduidelik het,” sê sy.

 

Kiamé Smit (gr. 12) beaam dit. Sy het tot en met graad 11 Lewenswetenskappe by hom geneem en sal onthou hoe hy vir hulle aangespoor het om gesonde werksetiek toe te pas. “Mnr. Jacobs was baie motiverend in die klas. Hy het altyd vir ons gesê ‘ons moet ons deeltjie doen’ en ons sal dit altyd onthou – selfs op universiteit.”

“Sy geduld was noemenswaardig,” sê Anja Visser (gr. 12) wat in sy Wiskundige Geletterdheidklas is. Sy lag wanneer sy verduidelik dat die WG-klas se WhatsApp-groep Welcome to the G genoem word. “Namens almal in sy Welcome-to-the-G-klas wil ek net sê dat ons hom baie gaan mis!”

Is hy reg vir die uitdaging wat die amp van skoolhoof inhou? “Beslis,” sê hy. “Ek sien uit na die uitdaging om positiewe veranderinge te maak en nuwe verhoudings te bou met die leerders, ouers en personeel.”

Hy sluit op 1 Mei 2021 by die Hoërskool Overberg aan.