NUUS

Sanette Nowers: ’n Merkwaardige vrou word onthou

Vir die Bloemhofpersoneel wat haar geken het, was Sanette Nowers ’n merkwaardige oudskoolhoof en -kollega. Van die geklik-klik-klik van haar hoëhakskoene in die gange tot die skielike “Kantoor. NOU!” oor die interkom… Só onthou hulle haar.

‘n Portret van me. Sanette Nowers, geneem op haar eerste dag as skoolhoof in 1994, staan in die skool se voorportaal waar ’n kers vir haar aangesteek is. Foto: Stephan Meyer

Die HMS Bloemhof is vandag wat dit is omdat Sanette Nowers nie bang was om die ou fondasies op te grawe en nuwes te lê nie.

Só sê die personeel van die HMS Bloemhof oor hul ontslape oudskoolhoof, me. Sanette Nowers, wat Maandagaand 8 Maart na ’n kort kankerstryd in die ouderdom van 61 oorlede is. Sy was van Januarie 1994 tot Maart 2010 skoolhoof.

Sanette Nowers se taak was nie ’n maklike een nie: ruk die skool reg, of julle kan maar die deure sluit.

Toe me. Nowers in 1994 – op die skrale ouderdom van 34 jaar – as skoolhoof aangestel is, was daar slegs 37 Bloemhoffers in standard 10 (vandag graad 12). Haar taak was nie ’n maklike een nie: ruk die skool reg, of julle kan maar die deure sluit.

Onder haar leiding het Bloemhof nie net in leerdergetalle gegroei nie, maar ook in nasionale aansien. Die skool het bekend geword vir puik akademiese uitslae. Op sport- én kultuurgebied het Bloemhoffers presteer. Daar was ’n “ongekende belangstelling in Bloemhof as sentrum van uitnemendeheid vir dogters landwyd,” berig die plaaslike koerant, Eikestadnuus,op 4 Desember 2009.

Me. Nowers moes Bloemhof in 2010 met ’n seer hart groet toe sy in April as skoolhoof by die Hoërskool Strand aangesluit het. “Ek dink nie ons moet eilande van uitnemendheid skep sonder om daarop voort te bou nie,” is sy deur Ilse Krige in Die Burger van 12 Desember 2009 aangehaal. “Ek dink darem ek het iets hier reggekry.”

Vandag is daar nie enige twyfel dat sy meer as net “iets” by Bloemhof reggekry het nie.

“Sy kon krities dink, ’n verskil maak en die koring van die kaf skei,” sê me. Wilna van Heerden, wat as Sanette Nowers se adjunk baie nou met haar saamgewerk het en in Maart 2010 haar pos as skoolhoof van die HMS Bloemhof oorgeneem het. “Ons het geweet sy is ’n no nonsense mens.”  

Waterkaskenades in 2004 – Sanette Nowers was dikwels ’n bok vir sports en het aan aktiwiteite deelgeneem om skoolgees te bevorder. Hier verskyn sy in ’n uitgawe van Eikestadnuus.

Eikestadnuus berig op 4 Desember 2009 dat Sanette Nowers Bloemhof gaan groet. “… maar sy is ook verantwoordelik vir die ongekende belangstelling in Bloemhof as sentrum van uitnemendheid vir dogters landswyd,” berig die koerant.

In Die Burger van 12 Desember 2009: Sanette verduidelik dat sy lank reeds geweet het haar Bloemhofpaadjie staan einde se kant toe, maar dat sy altyd deel van Bloemhof sal bly.

Die Bloemhofpersoneel wat haar geken het, beaam dit, maar draai ook nie doekies om nie. Sy kon baie kwaai wees. En hardkoppig. Maar altyd regverdig.

“Ons was maar versigtig vir haar, maar het altyd geweet dat sy werklik omgee,” onthou me. Rina Paul, wat einde 2020 ná byna ’n kwarteeu by Bloemhof afgetree het. “My klas was reg bokant haar kantoor en ek het maar asem opgehou met elke ligte oomblik in die klas. Die interkom het wel ‘n keer of wat ‘n skielike demper op ons uitbundigheid geplaas.”

Me. Ertru Hattingh sal haar onthou “as ‘n baie streng, maar uiters regverdige leier” met ‘n baie fyn aanvoeling vir leerders wat sosiaal, emosioneel of akademies swaar gekry het. “Sy het baie keer gesê dat ons as personeel die leerders moet help wat ‘nie noodwendig die prentjie sien nie’.”

Vir me. Joan le Roux was dit ’n voorreg om deel van die skoolpersoneel met Sanette Nowers as hoof te kon wees. “Sy het ‘n teenwoordigheid uitgestraal die oomblik as sy ‘n vertrek ingestap het… ’n Presence wat mens kon aanvoel.”

Ek sal haar onthou as ’n baie streng, maar uiters regverdige leier. Sy het ’n baie fyn aanvoeling gehad vir leerders wat sosiaal, emosioneel of akademies swaar gekry het.

Ertru Hattingh, opvoeder

Clarisa Steyn, wat sedert 1996 Fisiese Wetenskappe (die ou “skeinat”) by Bloemhof gee, onthou die eerste dag toe sy vir Sanette Nowers ontmoet het. “Sy het ’n stylvolle groen rokkie gedra en ek het dadelik geweet dat hierdie vrou nie maar net ’n gewone skoolhoof van ’n gewone skool is nie, sy was uniek en besonders en Bloemhof was soos sy!”

Ook me. Marisa van Wyk onthou haar eerste onderhoud met me. Nowers. “Ek het in Bloemhof se afrolkamer begin werk en moes vir ’n onderhoud kom – Sanette het nie sommer net enige mens aangestel nie; al het jy die afrolwerk gedoen, moes jy kom vir ’n onderhoud. Sy was ’n formidabele vrou.”

Me. Ilze Wright gebuik ook hierdie woord om vir Sanette Nowers te beskryf. “’n Formidabele vrou met soveel fasette,” sê sy, “dit kan onmoontlik saamgevat word in twee of drie sinne. Sy het nooit geskroom om te verras of om so vas te staan soos ’n rots, al staan sy alleen. Soms het yster yster geslyp en dan het sy weer gewys dat daar ‘niks so sterk soos sagtheid is nie’. Sy het voorgeloop en haar leierspan, personeel en skool saam met haar geneem, met duidelike visie.”

Die personeel lag as hulle haar “crib notes” onthou. “Sy het een keer per jaar ’n afspraak met elkeen van haar personeellede gemaak waar ons vir ’n uur lank sommer net met haar kon gesels,” sê me. Steyn. In hierdie een-tot-een-gesprekke het sy soms iets neergeskryf om te onthou – die goeie eienskappe wat sy by ander mense kon “afkyk”. Dít het sy haar “crib notes” genoem.

“Ek en soveel ander kon ‘crib notes’ by haar maak en jare nadat sy Bloemhof verlaat het, is baie van daardie beginsels en gewoontes steeds hier te bespeur,” meen me. Wright.

Sy het een keer per jaar ’n afspraak met elkeen van haar personeellede gemaak waar ons vir ’n uur lank sommer net met haar kon gesels.

Clarisa Steyn, opvoeder

Die woord “legacy” duik dikwels in die gesprek oor Sanette Nowers op.

“Sy laat verseker ’n legacy,” meen me. Adéle Uys. “Dit was ’n voorreg om haar te leer ken en vir ’n tyd saam met haar te kon werk. Sy was ’n besonderse mens.” Me. Dianne Schoeman, ’n oudonderwyser en tot en met 2018 die skool se berader, gesels uit Nederland saam. “Sy het voluit gelewe en sy het beslis ’n legacy gelos.” 

Haar liefde vir die onderwys, vir die leerders en om tyd vir ander te maak, sal onthou word. “Sy het gedien en nie geskroom om haar naaste te help nie,” verduidelik me. Schoeman. “Sy het ’n baie sagte plek vir kinders in nood gehad. Sy het nie onderskei tussen ryk en arm nie en almal is met dieselfde respek hanteer.”

Me. Amoré Steyn staan vandag voor ’n Bloemhofklas, maar was ook destyds ín ’n Bloemhofklas toe juffrou Nowers skoolhoof was. Sy herroep veral die geklik-klik-klik van hoëhakskoene wat oor houtvloere nader kom wanneer die skoolhoof deur die skool stap. “Ons as leerders het die wêreld se ontsag vir hierdie formidabele vrou gehad. Sy was streng, maar jy het altyd geweet waar jy met haar staan.” Iets wat sy altyd sal onthou, is hoe Sanette die leerders uitgedaag het om hul beste te gee, maar ook nie geskroom het om leerders te tugtig wanneer dit nodig was nie. “Sy het ook nooit geskroom om erkenning te gee vir wie dit toekom nie. Dit was ‘n voorreg om haar leiding vanuit ’n leerdersoogpunt te kon ervaar, en as mens na die reaksie van die oudleerders op hierdie hartseer nuus kyk, is dit duidelik dat sy baie gemis gaan word”.

Me. Nowers het uiteindelik die skoolhoofstoel by die Hoërskool Strand vir ’n pos by die WKOD verruil. As distriksdirekteur van Metro-sentraal het sy haar passie vir die onderwys uitgeleef en ook hier uitnemendheid bevorder.

Oor haar afskeid van Bloemhof het sy destyds aan Die Burger gesê ’n mens “moet in jou hart closurekry. Hulle sê mos: live, love, learn and leave a legacy… Maar Bloemhof sal altyd deel van my bly, en ek deel van Bloemhof.”

Huldeblyke en herinneringe stroom intussen op Bloemhof se Facebook-blad in. Só onthou die Bloemhofpersoneel hierdie merkwaardige vrou:

Eenkant van Sanette was die skerp, reguit, deurdagte leier en krities-innoverende probleemoplosser. Anderkant was sy ’n ruimhartige omgee-mens en vrolike gespreksgenoot. Sy het só baie mense se lewenspad, op verskillende wyses, positief beïnvloed. Dis haar waardevolle en verrykende nalatenskap.

 

me. Dalene Bosman, oudopvoeder

 

 

Juffrou Nowers was ’n merkwaardige mens – ’n ware rolmodel. Sy het so ’n groot invloed op my as mens en onderwyser gehad. Ek het soveel by haar geleer. Wat ’n voorreg om vir nege jaar onder haar leiding te kon werk!

 

me. Suné van Wyk, opvoeder 

 

Sy het nie geskroom om standpunt in te neem vir dit waarin sy glo nie. Sy het opbouende kritiek en insette van personeel aangemoedig en verwelkom.

 

Eintlik het sy ’n gawe gehad om jou te laat voel jou opinie maak ook saak, sy het gereeld gesê dat sy “crib notes” maak by iemand (selfs leerders) as sy iets besonders aan hulle  menswees raakgesien het.

 

Sy was ‘n “bottomline” mens, as jy aan haar deur gaan klop het, moes jy nie met ’n lange aanloop begin het voor jy by die eintlike punt uitgekom het nie! Alhoewel sy sinoniem was met dissipline (“die stert swaai nie die hond nie!”), was sy ook ’n bok vir sports en het sy deernis gehad met leerders wat swaar getrek het en dikwels moeite gedoen om hulle las ligter te maak, sonder om dit aan die groot klok te hang. Sy het geen erg aan vertonerigheid gehad nie en was nederig en plat op die aarde. Sy het sóveel lewens aangeraak… wat ’n nalatenskap.

 

me. Joan le Roux, opvoeder en koshuissuperintendent

 

 

My gedagtes hardloop alle kante op en dit was beslis nie die nuus wat ek die aand van 8 Maart verwag het nie.

 

Mense gaan elke dag dood, maar hierdie afskeid wat ons moet neem, voel baie onwerklik. Ek dink vir my was juffrou Nowers so ’n sterk vrou en leier dat ek amper begin dink het sy is “immortal”.

 

Daar is baie min mense wat al oor my lewenspad gekom het met sulke sterk leierseienskappe soos wat sy gehad het. My eerste gedagtes wat opkom as ek aan haar dink, is “diensbaar” en die volgende gesegde som haar vir my baie akkuraat op:

 

“If serving is below you, then leadership is beyond you”. Sy het gedien en nie geskroom om haar naaste te help nie. Sy het ’n baie sagte plek vir kinders in nood gehad. Sy het nie onderskei tussen ryk en arm nie en almal is met dieselfde respek hanteer. 

 

Daar is so baie dinge wat ek sal onthou van haar. Haar absolute irritasie met mense wat hulself jammer kry en pateties voorkom. Die interessante gesprekke wat ons gehad het na die Bloemfontein-trein ekspedisie, priceless. Ek en Lezel Amoraal het op ’n dag besluit ons klasse verdien ’n “afdag”. Ons het hulle biblioteek toe geneem en vir hulle Madagascar laat kyk. Kort daarna weergalm die interkom – Amoraal en Basson, kantoor, NOU. Sy het aangedring op ’n verduideliking en wou weet wat die lewenslesse en geskiedkundige waarde van die film is. Ek dink nie ek het al ooit vantevore só na borrels gehap soos daardie dag nie. 

 

Elana Cyster en Talitha Jonkers, hoe sal ek my observasie daardie dag in die kantoor ooit kan vergeet? ’n Woordwisseling by die snoepie (wat nie in die publiek herhaal kan word nie) en hulle eindig op in die kantoor. Na ’n heen-en-weer van wie presies wat gesê het en Elana uiteindelik besluit om met die hele sak patats vorendag te kom en presies herhaal wat gesê is, moes albei hul skoolbaadjies uittrek en die skoolgrond verlaat (want ’n Bloemhof-dame gedra haar nie so nie!).

 

Ouers wat by die skool ingestorm kom, moes nie dink sy het haar vir een oomblik laat intimideer nie. Vinnig-vinnig het sy vir hulle laat verstaan dat sy in beheer is van die skool en as hulle nie van haar reëls hou nie, is daar baie ander skole in die Wes-Kaap waarheen hulle hul kind kan vat. Sy het gutsgehad soos min mense! Daardie ritme van haar stap, daardie blougrys oë wat gevoel het of dit deur jou siel kan kyk… Sy was ’n besonderse mense en beslis enig in haar soort.

 

Sy sal gemis word, maar sy sal nooit vergeet word nie. Sy het voluit gelewe en sy het beslis ’n legacygelos.

 

me. Dianne Schoeman née Basson, oudopvoeder en berader

 

Sanette, ek onthou hoe jy tydens my onderhoud gelag het toe ek vertel hoe mal ek oor my vorige skoolhoof was, min het jy toe geweet hoe lief ek ook vir jou sou word.

Ek onthou so goed dat jy na een volle jaar by Bloemhof ’n bottel rooiwyn in die personeelkamer oopgemaak het en aangekondig het dat ek darem nou as ware Kapenaar kan kwalifiseer.

Dankie dat jy so baie in my geglo het, dat ek ook in myself begin glo het.

Ek onthou dat wanneer ’n personeellid ’n baie goeie voorstel gemaak het, dit dan ook sy werk en verantwoordelikheid geword het.

Ek onthou dat jy saam met ons aan allerhande lawwe sports deelgeneem het om die gees in die skool te bevorder. Jy was sportief en baie kompeterend. 

Ek onthou ook dat wanneer ek ’n paar minute na die klok gelui het in die rooi gang instap en daar ’n ongemaklike stilte aan die onderpunt by Kamer 5 gehang het, het ek sommer geweet jy is voor my daar… Ek onthou ook hoe jy die eerste keer by my klas gekom het en my aangespreek het oor die vuil deurknop. Niks het ooit jou fyn waarnemingsvermoë ontsnap nie.

Jy was ’n stylvolle, sterk leier en ek het altyd baie groot respek vir jou gehad!  Wat ’n voorreg om saam met jou te kon werk!    

me. Clarisa Steyn

Ek sal Sannette onder meer onthou vir die hoë standaarde wat sy gestel het, vir haarself en vir ander. Sy was bereid om te kritiseer, maar ook haar waardering uit te spreek.

Ons was maar versigtig vir haar, maar het altyd geweet dat sy werklik omgee. My klas was reg bokant haar kantoor en ek het maar asem opgehou met elke ligte oomblik in die klas. Die interkom het wel ’n keer of wat ’n skielike demper op ons uitbundigheid geplaas. Ek onthou ’n spesifieke keer toe ons aan die einde van ’n moeilike hoofstuk ’n blaaskans neem met ’n raai-wat-stel-ek-voor-speletjie. Hayley gee sulke dawerende afgemete treë en almal skree die regte antwoord. Dit was so ’n bekende geluid, Sannette wat van agter in die ou saal aangestap kom as almal hulle plekke ingeneem het vir die saalbyeenkoms. Die interkom het ons skielik laat bedaar. “Wat gaan daar aan!? Watse gekap is dit op die vloer?” Ons kon mos nie die aap uit die mou laat nie. Maar dalk moes ons. Sannette sou dié ligte oomblik waardeer het. Ek is jammer dat ek dit nooit met haar gedeel het nie.

Dit was ’n voorreg om haar entoesiasme in die Wiskundeklas te hoor en te sien. Sy het in die rye afgeloop en gevra en beduie, terwyl die leerders aan haar lippe gehang het.

As ek Sannette met ’n enkele woord moes beskryf, sal dit WAARDEGEDREWE wees. Sy het in ’n groot mate hierdie beginsel in Bloemhof gevestig.

Dankie, Sannette, vir die waarde wat jy, oral waar jy beweeg het, toegevoeg het.

me. Rina Paul, oudopvoeder

Sanette was skoolhoof tydens my skoolloopbaan aan die HMSB. Ons as leerders het die wêreld se ontsag vir hierdie formidabele vrou gehad. Sy was streng, maar jy het altyd geweet waar jy met haar staan. Sy het ons uitgedaag om ons beste te gee, ons getugtig wanneer dit nodig was, maar het ook nooit geskroom om erkenning te gee vir wie dit toekom nie. Dit was ‘n voorreg om haar leiding vauit ‘n leerdersoogpunt te kon ervaar, en as mens kyk na die reaksie van die oud-leerders op hierdie hartseer nuus is dit duidelik dat sy baie gemis gaan word.

me. Amoré Steyn, opvoeder en oudleerder

Sanette was ’n formidabele vrou met soveel fasette, dit kan onmoontlik saamgevat word in twee of drie sinne. Sy het nooit geskroom om te verras of om so vas te staan soos ’n rots, al staan sy alleen. Soms het yster yster geslyp en dan het sy weer gewys dat daar “niks so sterk soos sagtheid is nie”. Sy het voorgeloop en haar leierspan, personeel en skool saam met haar geneem, met duidelike visie.

Ek en soveel ander kon “crib notes” by haar maak en jare nadat sy Bloemhof verlaat het, is baie van daardie beginsels en gewoontes steeds hier te bespeur.

LORTNOCNISIRECAETA was ons personeel se “leuse” in hoofletters in ’n lang strook drukkerspapier bo die koffietoonbank. Vir geen ander mens sou dit sin maak nie, maar Bloemhofpersoneel het geweet: A TEACHER IS IN CONTROL – Dit het mense bemagtig om verantwoordelik op te tree, kreatief te dink, te waag en om rolmodelle te wees vir jong mense.

Dit sou ook beteken om wanneer jy in die Bloemhofgemeenskap ’n uitdaging sou hê, jy beslis ook met die oplossing moes kom, wanneer jy dit aanspreek. Jy kan nie jou bobbejaantjie op iemand anders se skouer sit nie.

Sanette was nie net ’n skoolhoof nie, maar soms ook ’n lawwe kollega wat almal kon laat krul van die lag as die lawwe hoofrol in ’n skoolkonsert. Terselfdertyd was sy ook die vriendin van vele mense. Al kon sy baie hard werk, het sy balans voorgestaan. “Life is for living. Live it!” het sy gereeld gesê en gedemonstreer.

Sy kon menige mens motiveer om hul beste self te wees en het nie moeite ontsien om bemoeienis te maak met wie hulp benodig het nie.

Sy het ’n unieke voetval gehad, wat almal net ’n beste self wou laat uithaal, wanneer sy aangestap kom. Daar was ’n mengsel van respekvolle versigtigheid. Menige leerder sal dit vir jou vertel.

Danksy haar motivering het almal aan dieselfde wa getrek en Bloemhof vinnig help versnel na die hoogtes wat dit vandag handhaaf.

’n Legende vir die personeel en leerders van haar tyd, sal haar omskryf. Sy het die vier L’e uitgeleef: Live, Love, Learn and Leave a legacy.

me. Ilze Wright, opvoeder

Sanette Nowers kort voor haar afsterwe. Bloemhof sal altyd ’n deel van jou bly, en jy ’n deel van Bloemhof. Foto: Elbie Keller