Menu

COVID-19 NASIONALE INPERKING: 

Klik HIER vir inligting oor hoe die COVID-19 Nasionale Inperking ons raak.

Menu

COVID-19 NASIONALE INPERKING: 

Klik HIER vir inligting oor hoe die COVID-19 Nasionale Inperking ons raak.

Nuwe hoofleiers aangekondig

Die inhuldiging van die Hoër Meisieskool Bloemhof se nuwe leiers is ’n spesiale seremonie, want die leerders kies self hul leiers en kan toekyk hoe hierdie nuwe leiers hul erekode onderteken. Dit gaan oor verantwoordbaarheid en integriteit, sê Bloemhof se skoolhoof, me. Wilna van Heerden.

Anders as soveel ander skoolgeleenthede wat weens die COVID-19 pandemie nie kon plaasvind nie, het Bloemhof besluit dat dié seremonie wel moet voortgaan, al is dit in ’n ander hoedanigheid as in die verlede. Die aankodiging van die skool se VRL, koshuis se  huiskomitee en die huisleiers is reeds suksesvol via ’n regstreekse uitsending op YouTube gedoen as voorlopie vir ’n groter uitsending – dié van die inhuldiging self.

“Alles was reeds gereël toe president Cyril Ramaphosa die aankondiging doen dat Suid-Afrika na vlak 1 oorskakel en meer mense geleenthede mag bywoon. Ons het tog besluit om die leerders se ouers uit te nooi om die funksie by te woon, al sou dit onder ’n streng veiligheidsprotokol wees,” sê me. Ilze Wright, wat die funksie koördineer het. 

Op Woensdag, 23 September kon sowat 70 ouers sien hoe hul dogters hul plig as een van die skool se nuwe leiers aanvaar. Die res van die skool het dit aanlyn gevolg: die graad 10’s en 11’s vanuit hul klasse op ’n projektor, terwyl die graad 8’s en 9’s dit tuis op hul rekenaars, tablette of selfone kon sien.

Ouers kon dié funksie bywoon weens die opvoedkundige aard daarvan, maar word steeds nie toegelaat om vir sosiale of buitemuurse geleenthede die skoolgronde te betree nie.

Mnre. Leon Piron en Louis Groenewald was verantwoordelik vir die regstreekse uitsending, en Lalagen Joubert, ’n graad 10-leerder, het gehelp om die drie kameras te beheer. Agter die skerms was daar egter baie aksie: die mikrofoon moes byvoorbeeld na elke spreker gesaniteer word en die skool se veiligheidspan moes toesien dat ouers, soos leerders soggens, eers inteken.

Ouers moes vooraf aandui of hulle enige simptome ervaar en of hulle enige kontak met iemand in die laaste twee weke gehad het wat positief vir COVID-19 getoets het. Met hul aankoms, is hul temperatuur geneem voordat hulle hul sitplekke – ook ver uitmekaar – kon inneem.

Tia Bruwer is aangewys as die skool se hoofdogter vir 2020/21, terwyl Augusta-Mari Dercksen die adjunk-hoofdogter is. Huis Bloemhof, die skoolkoshuis, se hoofleiers is Zara van der Westhuizen (hoofdogter) en Cleoni Esterhuyse (adjunk-hoofdogter).