Menu

COVID-19 NASIONALE INPERKING: 

Klik HIER vir inligting oor hoe die COVID-19 Nasionale Inperking ons raak.

Menu

COVID-19 NASIONALE INPERKING: 

Klik HIER vir inligting oor hoe die COVID-19 Nasionale Inperking ons raak.

Oudleerder wen by Woordtrofees

Toe René Cloete in 2017, haar matriekjaar by die HMS Bloemhof, ’n studiebeurs tydens die kykNET Nasionale Toneelspelkompetisie gewen het, het sy geweet sy kan haar hart volg en toneelspel meer as net ’n stokperdjie maak. Vanjaar was sy deel van die produksie “Huppelkind” waarvoor sy deur die Toyota US Woordfees aangewys is as die beste opkomende kunstenaar – nie te sleg vir ’n derdejaar-dramastudent nie, nè. Stephan Meyer het met dié oudleerder gesels oor hierdie toekenning, die proses om “Huppelkind” op die verhoog te kry en hoe dit was om weer in Bloemhof se “Kleinsaal” op te tree.

’n Toneel uit “Huppelkind”. Links is Stian Bam, in die middel is René Cloete en regs is Andrico Goosen. Foto: Retha Ferguson

SM: Veels geluk met jou Woordtrofee-toekenning, René. Dit is ’n besonderse prestasie wat sekerlik uit harde werk gebore is. Wat beteken hierdie toekenning vir jou?
RC: Ek kan nie begin om hierdie toekenning se omvang te verwoord nie.
Toe ek gehoor het dat ek die toekenning vir beste opkomende kunstenaar ontvang het – die Woordtrofees is weens die pandemie aanlyn aangebied – was ek met dieselfde opwinding en dankbaarheid oorweldig wat ek destyds ervaar het toe ek my eerste Woordfeesproduksie gesien het. Dit was in my graad 10-jaar by Bloemhof en juffrou Joan le Roux [Huis Bloemhof se superintendent] het my nog gevat, want ek sou definitief verdwaal het.
Ek het tóé al besef hoe bevoorreg jy as aktrise kan wees om deel te wees van so ’n wonderlike platform. Die harde werk begin eintlik nou eers, maar ek is oneindig trots op die werk wat my tot by die toekenning gebring het.

SM: Jy is tans ’n derdejaar-dramastudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hoe ervaar jy dit om drama te studeer? Is daar ’n klas wat vir jou uitstaan?
RC: Dit was my droom om drama te studeer, en die beurs wat ek in matriek ontvang het, maak dit vir my moontlik om my hart te volg terwyl ek weet ek word finansieel beskerm om dit te kan doen. 
Aan die begin was die interessantste klasse Movement – dis beweginsklasse waar ons in ons eerste jaar die fondasie van fisieke teater geleer het. Jy moet byvoorbeeld een kan word met objekte soos klippe en ’n lap. Dit leer jou om die detail in alles raak te sien en hoe om jou lyf en siel in ’n performance te laat saamsmelt.
Nou as derdejaar is my gunstelingklas… almal van hulle. Daar is nooit niks wat ek nie uit die klasse kan saamneem nie.

René in 2017 as matrikulant aan die HMS Bloemhof. Foto: Stephan Meyer

René in 2020 – die jong vrou vir wie die verhoë wink. Foto: verskaf

SM: “Huppelkind is nie die eerste professionele produksie waarvan jy deel gevorm het nie. Watter ander geleenthede het reeds oor jou pad gekom?

RC: Ek het met die hulp van dr. André Gerber [Bloemhof se senior drama-opvoeder[ aan die kykNET Nasionale Toneelspelkompetisie deelgeneem wat my geleenthede gegee het om reeds in my graad 12-jaar aan my eerste Woordfeesproduksie deel te neem. Dit was “Uniform” met Vicky Davis as regisseur en ander akteurs en aktrises uit my portuurgroep.

In 2018 was ek in nog twee produksies by die Woordfees te sien: “Vlerke vir Almal” en “The B-File”. Ek kon ook in daardie jaar begin deelneem aan produksies wat deur die US se Drama Departement aangebied is.

Ek het verder die geleentheid gehad om by kunstefeeste soos die Suidoosterfees en die Vrystaat Kunstefees in verskeie studenteproduksies op te tree wat ons op professionele vlak aangebied het. Met elke produksie leer jy ’n bietjie meer.

 

SM: Vertel vir ons kortliks van “Huppelkind”. Waaroor gaan dit? En was jy reg vir hierdie produksie?

RC: Huppelkind is oorspronklik in die 1950’s deur W.O. Kühne as ’n reeks kinderboeke geskryf. Dit gaan oor ’n jong seun wat saam met sy oupa in die middel van die vlei in die middel van die wêreld bly en op verskeie avonture gaan. Sy oupa doop hom Huppelkind weens sy spontane gees en sy liefde om oral te huppel.

Die storie wat ons op die verhoog gebring het, is die storie van Huppel en sy maats. Dit was natuurlik intimiderend aan die begin om in repetisies met mense soos Marthinus Basson, Stian Bam en Joanie Combrink te wees. Andrico Goosen, wat ook een van die puppeteerswas, werk al vir jare met poppe en op die verhoog. Ek het geweet ek kom met die minste ervaring na die produksie toe, maar die wonderlike ding van elkeen van hierdie mense is dat hulle ook net teatermakers is wat ’n liefde het vir wat hulle doen.

Ek moes uit my eie twyfelende kop klim en myself herinner dat ek daar met ’n rede is en dat ek my beste gaan gee, maak nie saak wat nie.

 

SM: En die repetisies self? Was dit vir jou uitdagend?

RC: Ja, dit was!  Maar dit is deel van die proses. Ons het aan die begin van Desember 2019 vir twee weke gerepeteer en weer “pickups” vir ’n aantal weke in Februarie gehad om gereed vir die Woordfees te wees.

In Desember het ons daagliks vir twee weke van 10:00 tot 16:00 gerepeteer. In Februarie moes ek klasloop en ek was boonop by ander deparementele produksies betrokke. Die ander akteurs het natuurlik ook ander repitisies gehad, maar ons kon saans vir ’n paar dae in die week tussen 18:00 en 22:00 aan die produksie werk.

Tonele uit Marthinus Basson se produksie “Huppelkind” met René Cloete, Joanie Combrink, Andrico Goosen en Stian Bam. Foto’s: Retha Ferguson   

SM: Dink jy jou betrokkenheid by Bloemhof se toneel en die repetisieproses onder leiding van dr. Gerber het jou hierop voorberei?

RC: Bloemhof se repetisies het my definitief voorberei op die “normale” repetisieproses van die professionele produksies. Ek het reeds op skool geleer dat die tyd altyd te min is, maar as die werk ingesit word, is jy altyd gereed vir die verhoog.

 

SM: “Huppelkind” is tydens die Woordfees in Bloemhof se skoolsaal opgevoer. Hoe het dit gevoel om terug op die verhoog te wees waar jy as skolier reeds jou talent kon slyp?

RC: Ek kon dit nie glo toe ons tydens een repetisie hoor dat Bloemhof ons venue sou wees nie. Ek moes myself knyp toe ons vir die eerste keer in die Kleinsaal repeteer… Ek het na die houtvloer en die verhoog gekyk waar ons destyds vir ure en ure opgewarm, gelag en oor Tienertoneel gedroom het.

Dit was onwerklik om as oudleerder weer daar te staan, hierdie keer saam met mense oor wie ek net kon droom om die kollig te deel. Die regte woord, besef ek nou, is “dankbaar”. Ek was dankbaar om weer terug te wees.

Die verhoog self was backstage,want ons het op die saal se vloer opgetree. Ek het voor elke opvoering op my rug op die verhoog gaan lê en gedink aan die 15-jarige meisie wat destyds met “Vyf” op daardie verhoog gespeel het en ek het reg vir enige iets gevoel. [“Vyf” was Bloemhof se 2015-produksie wat die algehele wenner van die ATKV se Tienertoneel daardie jaar was.]

 

SM: As jy nou terugkyk en aan “skool” dink, sou jy sê Bloemhof het jou voorberei vir die lewe buite die skoolhekke?

RC: Bloemhof het my geleer dat werksetiek saakmaak, waar ookal jy gaan. Ek het op skool geleer dat harde werk ’n refleksie van my selfrespek en my respek vir ander is. Een van die dinge wat ek nooit van Bloemhof sal vergeet nie, is die liefde wat deur die gange en die klasse gevloei het omdat mense nie bang was om hul liefde met mekaar te deel nie. Ek probeer dit dus altyd onthou waar ookal ek gaan: Liefde is altyd beskikbaar is as jy bereid is om jou hart oop te maak.

 

SM: Hoe is die “regte wêreld” anders as die een waarna jy (en baie ander Bloemhoffers) uitgesien het?

RC: Die regte wêreld is onvoorspelbaar en jou planne werk nie altyd uit soos wat jy dink nie, maar niks is onmoontlik nie. Dis wat ek sal wil hê alle Bloemhoffers in gedagte moet hou: Dinge is dalk nie altyd in jou beheer nie en dis oukei. Dís in elk geval wanneer dinge interessant begin raak…

 

SM: Dankie vir jou tyd, René. Het jy enige laaste woorde van wysheid wat jy met die Bloemhoffers sou wou deel?

RC:  Net hierdie: Jy is jou drome werd, maak nie saak wie of wat jou anders wil oortuig nie.