Menu

COVID-19 NASIONALE INPERKING: 

Klik HIER vir inligting oor hoe die COVID-19 Nasionale Inperking ons raak.

Menu

COVID-19 NASIONALE INPERKING: 

Klik HIER vir inligting oor hoe die COVID-19 Nasionale Inperking ons raak.

E-leer 2020: Terugvoer van ouers en leerders

Ons is dankbaar vir die terugvoer wat ons van ouers ontvang rakende die wyse waarop Bloemhof e-leer toepas en die geleidelike heropening van die skool doen.  Teruvoering sal op hierdie blad bygevoeg word soos dit ontvang word.

Ouers is ook welkom om bekommernisse of voorstelle te stuur.

Beste Juffrou van Heerden. Ek wil baie graag met Juffrou deel hoe ek die eerste week terug by die skool gevind het. Voor ek nog my voete Maandagoggend op die skoolterrein gesit het, was ek al dankbaar. Dankbaar vir hoe bevoorreg ek is om gesond te wees en terug te keer na ’n goeie skool. Die situasie lyk regoor die land nie vir almal dieselfde nie. Afstandsonderrig het sy uitdagings gehad, maar ek is in ’n baie beter posisie as ander leerders van my ouderdom. Ek het toegang tot alle hulpbronne wat bestaan. Ek het onderwysers wat vir my kon werk deur stuur en werklik moeite gedoen het daarmee. (Juffrou Steyn het baie humor in haar Fisika video’s bygevoeg!) ’n Hartsgesprek is altyd goed vir die siel en Juffrou Joubert verstaan presies hoe nodig ons dit soms het. Die protokol vir die volgende ruk was deeglik aan ons verduidelik en daar was geen rede vir onseker wees nie. Ek kan nie vir almal praat nie - alhoewel ek d.m.v. gesprekke met my vriendinne agter kom meeste voel ook so - maar na die eerste periode op Maandagoggend kon ek duidelik sien dat goeie beplanning agter elke stap van ons plan van aksie vir die volgende ruk, staan. En dit laat ’n mens gerus voel. Alhoewel die pouses aanvanklik vreemd gevoel het en ek dalk my linker pinkie sal gee om weer styf langs my vriendinne in ’n sirkeltjie op ’n koue oggend te sit, het ek gesien hoe aanpasbaar ons Bloemhoffers is. Ons het die snaaksste maniere gevind om die (baie lekker) lang pouses interessant en pret te hou - ek dink Meneer Jacobs kan getuig hiervan! Ja, ons sukkel soms met die distansieëring en verstaan wanneer die onderwysers soms harder praat wanneer hulle wéér vir ons moet kom vra om ons afstand te behou, maar ons vergeet maar net. Ons probeer ons bes. Ek is mal oor hoe ons periodes en rooster op die oomblik werk. My opinie is dat ’n mens soveel meer produktief werk en dit veroorsaak baie minder stres en gejaag. Werk kan deeglik behandel word en as jy daarna klaar is met die lang periode, is meeste van jou werk klaar. In die middae het jy genoeg tyd om alle werk ordentlik te hersien en huiswerk te doen, omdat dit net drie vakke se werk is. My dag voel minder gejaag, ek kan meer op spesifieke werk/vakke fokus en die werk meer ordentik doen, as wat ek elke dag jaag om na 6 vakke te kyk, alles in my kop te kry en dan nog sommer net huiswerk afskryf of nie doen nie omdat my tyd te min is en ek te moeg is. Ek dink mens leer soveel beter en produktief en gaan meer aandag aan al jou vakke kan gee. Ek weet ons het maar nog stadig hierdie week begin en dit gaan tien teen een baie gou besiger raak, maar ek het regtig elke dag hierdie week genoeg tyd (krag en motivering ook!) gehad om deeglik deur ’n vak te gaan, en kom naweek, kon ek Maandag se huiswerk afhandel en die res van die tyd gebruik om hersieningsvraestelle te doen. Iets wat vir my uitgestaan het hierdie week, was hoe die onderwysers ons behandel het, hulle gesindheid en hulle uitkyk op nou en die volgende ruk. Ek kan met selfvertroue sê dat ek in elke, liewe klas, so rustig gevoel het. Ek is eintlik maar redelik gestres oor eindeksamen, maar die onderwysers het aan ons verduidelik hoe hulle die volgende paar weke gaan benader en ons keer op keer gerus gestel dat ons nie enigsins moet stres nie: ons gaan oukei wees. Eers het ek gedink ek voel net so omdat ek my deel tuis gedoen het, maar selfs met leerders wat nie die afgelope twee maande baie handboeke oopgemaak het nie, het hulle so baie geduld gehad en genooi om soveel as wat hulle wil vir hulp te gaan vra. Niemand was kwaai nie. Niemand het ons toegegooi met werk nie. Niemand het ons onnodig laat stres nie. Elke nou en dan in klastyd het hulle seker gemaak dat almal nog by is, en baie geleenthede gegee vir vrae of ekstra verduidelikings. Ek dink almal voel soveel meer gemaklik om vir hulp te vra, en nie asof die onderwyser net gaan aan jaag met die volgende werk nie. Hierdie manier van leer emilineer onnodige stres, almal kan byhou en wanneer ons hersiening doen, gaan dit nie nodig wees om als van voor af weer te verstaan nie - ons het dit nou deeglik behandel voor ons aanbeweeg het. Ek hoop regtig hierdie wyse kan volhou en oorgedra word na ander grade en die toekoms ook. (Ek stem glad nie saam met ‘ou/vorige maniere’ van werk vinnig afhandel om daarna BAIE tyd vir hersieining te hê nie, maar liewer werk deeglik doen totdat jy dit uiters goed verstaan, sodat jy nie tydens hersieningstyd dit weer hoef te leer of probeer verstaan nie.) Al kwessie wat my hierdie week gepla het, is die maskers. Ek weet dit is nie debatteerbeer om dit te dra of nie te dra nie en dit is ’n ongelooflike belangrike veiligheidsmaatreël, maar is dit nie dalk moontlik om ander opsies ook te oorweeg nie? Soos die plastiek skerms? Ek het al ’n hele paar oorsese alternatiewe vir maskers gesien wat juis gerig is op skoolleerders. Tussen ons vriendinne het ons al heelwat Panados gedeel hierdie week - die hoofpyne wat ’n mens kry a.g.v. hierdie maskersvir lang ure dra is regtig erg en ’n mens sukkel om dan ordentlik in klas te konsentreer. Ek wil regtig graag vir Juffrou en al die personeel ongelooflik baie dankie sê vir hoe ons matrieks hierdie week terug ontvang is en die ekstra, spesiale moeite - soos die rose Maandag en die spesiale reël van die koffiekarretjie. (Ek het nog altyd staatgemaak op ’n lekker cappuccino teen eerste pouse om my deur die res van die dag te kry en het vir Koffie Koppie Maandag tot Donderdag baie gemis!) Ek sien uit na die res van die jaar en om dit onder omstandighede so onvergeetlik as moontlik te maak. Ek weet die hoof fokus is om die akademiese jaar baie suksesvol te voltooi, maar ek hoop regtig die jaar hou baie pret en lekker oomblikke - groot of klein- ook in om op te maak vir sommige goed waarop ons uitmis. Dit is immers ons laaste paar maande van ons skoolloopbaan; ons moet elke sekonde laat tel. Baie sterkte met Juffrou se week - ek hoop alle uitdagings hou ook hulle ‘sosiale afstand’! Groete Anje

Anje Dercksen (gr. 12), 7 Junie 2020

Ek en my man is van die baie ouers wat nie genoeg woorde het om dankie te sê vir wat Bloemhof en elke liewe onderwyser met wie ons kind al enigsins te doen gehad het in hierdie tyd (reeds vanaf Maart) gedoen het en steeds doen nie. Soveel moeite om werk deur te stuur op 'n nuwe manier, soveel tyd is gegee, soveel moed is ingepraat, pogings om kontak te hou en positief te bly, alles - dit was wonderlik. Al die reëlings wat deeglik, een na die ander, verduidelik is in die dokument voor hulle Maandag moes terugkeer, al die streng voorskrifte om hulle veiligheid en ook die onderwysers se veiligheid, natuurlik, te verseker, het ons baie gerus laat voel. Daar was trane in ons oë toe ons ons dogter Maandagoggend aflaai en daar staan 'n span onderwysers, vol lewenslus, so verwelkomend, elkeen met 'n masker, maar ons kon sommer dwarsdeur die maskers die glimlagte en omgee sien. BAIE DANKIE vir al hierdie en nog baie meer - daar het soveel ingegaan in die voorbereiding van die skool, veiligmaking, om ons matrieks te laat leer in hierdie laaste paar belangrike weke waarin so baie ingehaal moet word. Hulle was so gespanne en bevrees, maar julle omgee en goeie gesindheid het wonders gedoen. Na 3 dae voel ons nog steeds so dankbaar want ons wil glo die oorgrote meerderheid van die onderwysers en (hopelik) leerders sien die erns van die Covid-19-situasie in.

G. Botha, 3 Junie 2020

Ek en Annie my vrou wil u en u personael bedank vir die absolute uitnemende wyse waarop op hierdie pandemie, en die gepaardgaande uitdagings in hierdie beproewende tye gehandteer het. Dit is werklik ‘n riem onder die hart om intellektueles te sien opereer wanneer die onbekende jou so in die gesig staar. Dit is werklik makliker om die bekende uitdagings in bekende krisis bestuur norms te handteer. Dit is egter ‘n hele ander storie wanneer jy te doen het met ‘n onbekende uitdaging. Dit is dan wanneer ‘n mens slegs kan reflekteer in jou verwysings raamwerk om die veranderlikes in ongekende gestruktureerde vermoens te handhaaf.   Ons wil uit ons hart u gelukwens met die wyse waarop u dit gehandteer het en ons dogter en al die ander dogters in u skool so mooi oor hierdie tyd uitsonderlik bedien het. Die groei proses van ons almal in die omstandighede was met rasse skrede; maar heellaas was die aanpasbaarheid duidelik te bespeur by beide onderwysers en dogters.   Baie dankie vir julle elke opoffering, ons is uit ons nate trots op die skool. Die woord “perspektief”, het skielik begrip verwerf tot die mate waar dit ‘n tema vir ‘n matriek opstel regverdig. Dit is asof ons skielik net besef wat maak regtig saak. Die “penny het gedrop”. Soos “magic” weet ons wat gaan die wa deur die drif trek. En dit is nie Wiskunde, Afrikaans, Engels, Wetenskap of enige ander “fancy” vak nie. Dit is waardes!  Dit is tye soos dié waar die term, “opvoeding”, meriete dra. Geen som, idioom of “verb” gaan nou ‘n kind toerus met die innerlike krag wat nodig is nie. Waardes, sorg, omgee en die opregtheid van opvoeders en ‘n skool, is wat nou die verskil maak.  Ek wil opreg dankie sê vir die ongelooflike innerlike krag en “gemaklikheid in haar eie vel” wat Bloemhof vir Ané gegee het en steeds gee. Ek is ‘n trotse, trotse ma. Die trots, selfstandigheid, deernis, begrip en deursettingsvermoë wat ek in my 16 jarige dogter sien, laat ‘n knop in my keel. Ek dank U en al U personeel daarvoor.  Staan sterk! “This too shall pass”. 

Leon Niemand, 3 Junie 2020

Daar is niks soos ‘n Covid-19 tornado storm om ‘n mens se gemaklike speelveld so effe ongemaklik te maak nie. Die moontlik, ongerieflike waarheid is dat dit ons geforseer het om alles in ons lewe te her-evalueer. Wat maák regtig saak? Wat gaan my kind, my gesin, my familie onthou, as hulle terug reflekteer op die tyd, toe ons mekaar moés leer ken. As ouer van twee pragtige dogters het dié “lockdown” instruksie van ons president, my emosies defnitief ‘n nuwe dimensie laat beleef.  Die woord “perspektief”, het skielik begrip verwerf tot die mate waar dit ‘n tema vir ‘n matriek opstel regverdig. Dit is asof ons skielik net besef wat maak regtig saak. Die “penny het gedrop”. Soos “magic” weet ons wat gaan die wa deur die drif trek. En dit is nie Wiskunde, Afrikaans, Engels, Wetenskap of enige ander “fancy” vak nie. Dit is waardes!  Dit is tye soos dié waar die term, “opvoeding”, meriete dra. Geen som, idioom of “verb” gaan nou ‘n kind toerus met die innerlike krag wat nodig is nie. Waardes, sorg, omgee en die opregtheid van opvoeders en ‘n skool, is wat nou die verskil maak.  Ek wil opreg dankie sê vir die ongelooflike innerlike krag en “gemaklikheid in haar eie vel” wat Bloemhof vir Ané gegee het en steeds gee. Ek is ‘n trotse, trotse ma. Die trots, selfstandigheid, deernis, begrip en deursettingsvermoë wat ek in my 16 jarige dogter sien, laat ‘n knop in my keel. Ek dank U en al U personeel daarvoor.  Staan sterk! “This too shall pass”. 

Marietjie Serfontein, 2 Junie 2020

Vanaand is ek ‘n dankbare, verligte en baie trotse Bloemhof ouer! Aan elkeen van u wil ek graag my opregte dank uitspreek vir al die moeite en insette wat hierdie nuwe, eerste skoolweek na grendeltyd vooruitgegaan het. Ek kan sien dat alles deeglik beplan is en ek stuur my dogter, Lize Louw, met ‘n geruste hart terug na HMS Bloemhof en Huis Bloemhof. Dit beteken vir ons en ons kinders oneindig baie in hierdie onseker tyd.   Baie dankie ook aan elke onderwyser se insette, aanmoediging en al die kommunikasie tydens die grendeltyd. Lize het meer as een keer opgemerk dat die skoolwerk struktuur aan haar dag gee en dit maak die grendeltyd draaglik. Baie dankie ook aan elke nie-akademiese personeellid se insette waarsonder ons kinders nie vandag sou kon skool toe gaan nie. Die goeie handleiding en oulike inligtingsmateriaal ter voorbereiding van hul terugkeer was volleding en keuring voorberei. Wat ‘n wonderlike span!!   Daar is nog baie werk en aanpassings wat voorlê met die terugkeer van die ander grade, maar met so ‘n gedugte span sal die res jaar verder goed verloop. Baie sterkte aan elkeen vir hierdie groot en belangrike taak.   Vriendelike groete en opregte dank

Adéle Louw, 1 Junie 2020

BAIE dankie vir jou en Bloemhof se onbaatsugtige en innoverende werk om ons Matrieks vandag terug te verwelkom en weer te lei en rig. Ons wéét Bloemhof is die beste skool in die land - en die lees- en kyk-materiaal het die weer eens bewys! Baie sterkte.

Matriekma, 1 Junie 2020

Net ‘n groot dankie om te sê hoe ons die Bloemhof personeel waardeer in hierdie tyd. Ek is seker nie een van ons as ouers wil nou in julle skoene staan nie! Dankie vir al die ure en ure se harde werk en beplanning en die professionele manier waarop julle met ons kommunikeer. Baie sterkte met die res van die jaar.

Lukas en Madalé Louw, 1 Junie 2020

Ek wil hiermee ons daankbaarheid teenoor u en die HMS Bloemhof personeel uitspreek met die volgehoue pogings en harde werk om steeds voort te gaan met die uitrôl van die curriculum . Dit getuig van die kaliber onderwyser en mens wat in diens is by HMS Bloemhof.  As ouers van ‘n leerder wat hierdie jaar haar hoërskoollopbaan by HMS Bloemhof begin het, is ons trots op al u pogings.  Baie dankie hiervoor, en sterkte met die uitdagings wat steeds voorlê. 

GC Wagenstroom, graad 8-ouer, 26 Mei 2020

Semper Fidelis en duisende dankies – is al wat ek vanoggend uitkry uit my swaar ma-hart.  Ek is so dankbaar vir die goeie, deeglike, deurlopende kommunikasie vanaf Bloemhof leerkragte met Matriekouers en dan praat ek nie eers van die goue verwelkoming wat ons Matriekdogters vanoggend by die skool ontvang het nie.  Ek het gehuil toe Liane daardie video vir ons gestuur het. Vir n ma, 1000 km weg van haar enigste kind, is hierdie so baie werd. Baie, baie dankie aan julle almal. Weereens trots op my Alma Mater.

Julia Fouché, Namibië, 25 Mei 2020

My dogter, Mia Ham, is tans in Graad 11 en ‘n baie trotse Bloemhoffer. Namens myself en my man, Cori, wil ons jou en die personeel net hartlik bedank vir jul ondersteuning en ekstra moeite om vir Mia die beste moontlike onderrig te gee tydens hierdie onsekere tye. Dis lekker om haar te hoor klets oor skool asof sy nog steeds elke dag skool bywoon. Aangesien beide my pa en skoonpa skoolhoofde met koshuise was, begryp ons dat dit nie maklike tye is vir jou en die personeel nie. Nogtans lyk dit asof alles glad en voorspoedig verloop. Baie sterkte vir die volgende paar maande.

Hannél Ham, 6 Mei 2020

Terugvoering kan direk aan die skoolhoof gestuur word by wilna@bloemhofschool.co.za.