Menu

COVID-19 NASIONALE INPERKING: 

Klik HIER vir inligting oor hoe die COVID-19 Nasionale Inperking ons raak.

Menu

COVID-19 NASIONALE INPERKING: 

Klik HIER vir inligting oor hoe die COVID-19 Nasionale Inperking ons raak.

E-leer: personeel wys hoe

Me. Zané Burger gee via Zoom klas. Foto: Sylvia Burger

Skoolskoene is dalk vir pantoffels verruil, en daar is nie meer ‘n klok wat pouses aankondig nie, maar leerders en personeel van die Hoër Meisieskool Bloemhof werk sedert 31 Maart van die huis af. 

 

“Akademie bly vir die Hoër Meisieskool Bloemhof ’n prioriteit, nie omdat punte belangrik is nie, maar omdat die skool kritiese denke wil bevorder en leerders wil voorberei op die lewe buite die skool.”  So meen mev. Winnie Viljoen, adjunkhoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof.

 

“Werksetiek is een van die skool se waardes en afstandsonderrig bied aan leerders die geleentheid om dit daadwerklik toe te pas.  Tog bly ons opvoeders en leerders gereeld met mekaar in verbinding, veral op platforms soos Google Classroom, Zoom en WhatsApp,” sê sy.

 

 
Me. Anneke van der Merwe in haar studeerkamer – dit is haar nuwe klaskamer.
Me. Liezl Potgieter is op haar gemak, maar op datum.
Me. Desiré Coetzee het dié skermgreep gedeel – sy gebruik die tyd om ’n webinaar oor effektiewe klasgee by te woon.
Me. Zané Burger is tydens die inperking in Keurboomstrand, maar kon verlede week via Zoom klasgee.  “Dit was maar moeilik, want almal was opgewonde om met mekaar te gesels,” sê sy. 
 
Me. Anneke van der Merwe, (vakhoof: Geskiedenis) se studeerkamer is tans haar klaskamer waar sy Google Classroom inspan om met onderrig voort te gaan.  “Dis interessant om deur ’n geskiedkundige gebeurtenis te leef wat dien as bewys van hoe die patrone in geskiedenis homself altyd herhaal,” sê sy. “Al is hierdie pandemie nog baie klein as dit aan ander gemeet word, gaan daar steeds groot sosiale veranderinge plaasvind.”
 
Die sprong tussen klaskamer en e-leer was nie vir me. Liezl Potgieter ’n uitdaging nie, aangesien sy lank reeds Google Classroom gebruik en ’n voorstaander van tegnologie in die leerporses is. Sy kon gevolglik ook in die laaste week van die vorige kwartaal van die ander personeellede touwys maak.
 
Opvoeders het ook die geleentheid om hulself te verryk.  “Ek het ’n webinaar bygewoon waar effektiewe klasgeemetodes bespreek is,” sê me. Desiré Coetzee (vakhoof: Wiskunde). Sy en haar vakspan maak hoofsaaklik van WhatApp-groepe gebruik om klas te gee.  “Dit is effektief, want ons kan stapsgewyse instruksies deurgee en makliker van verskillende platforms gebruik maak,” sê sy.  Me. Coetzee voeg by dat sy hoop om dit wat sy tydens die webinaar geleer het, binnekort kan begin inspan.   
 
’n Voorbeeld van ’n tegnologie-taak (gr. 9) wat deur me. Ertru Hattingh aanlyn nagesien is.
Nog ’n voorbeeld van ’n tegnologie-taak (gr. 9) wat deur me. Ertru Hattingh aanlyn nagesien is.
Dit was egter vir Bloemhof se opvoeders nodig om spoedig te bepaal hoeveel van die leerders toegang tot die internet het en of daar toestelle tuis beskikbaar is waarop hulle kan werk. ’n Groep Bloemhoffers het baie vinnig gereageer, aanlyn-opnames voltooi en waardevolle terugvoering aan die skool se senior bestuurspan, wat ná die Paasnaweek deur middel van ’n videokonverensie vergader het, verskaf.  ’n Uitgebreide opname, gerig op die hele skool, is verlede week gedoen en 84% van die leerders het daaraan deelgeneem.
 
 “Bloemhof se goue reël is om gereeld praktyke te hersien en aanpasbaar te bly,” sê Viljoen. “Ons besef dat leerders soms oorweldig kan voel, en het daarom opvoeders aanbeveel om duidelike instruksies en sperdatums te gee, asook om beskikbaar te wees om navrae te hanteer – bv. wanneer dit daardie vak se klasperiode sou wees.” 
 
In hierdie stadium gaan elke vak in elke graad op een van die bogenoemde platforms met akademie voort.  “Weet dat ons voortdurend besig is om innoverend te kyk na hoe ons akademie meer toeganklik vir ons leerders kan maak,” verseker Viljoen. “Ons is dankbaar vir almal se voortgesette ondersteuning.”
Ons doen nou ’n beroep op ons leerders om foto’s te deel van hoe hulle e-leer toepas.  Indien jy nie omgee as ons jou foto op sosiale media deel nie, stuur gerus ’n foto na mnr. Stephan Meyer by stephan@bloemhofschool.co.za.