Carla Krieg by haar uitstalling in die PJ Olivier Kunssentrum. Foto: Stephan Meyer

Carla Krieg (gr. 12) is vanjaar die ontvanger van die PJ Olivier Kunssentrum se Prinsipale Skild vir Uitnemendheid.  Sedert graad 10 handhaaf Carla ’n buitengewoon hoë standaard van werksetiek en vertoon ’n volwasse, tegniese vaardigheid tydens haar finale praktiese uitstalling. 

Met juweliersontwerp as dissipline en “magiese en mistieke betowering” as tema het Carla ’n kroon en skild vir haar finale praktiese eksamen geskep en karakters uit sprokiesverhale in haar ontwerp gebruik.  “Dit was my manier om my kinderjare te herleef,” sê sy.  In haar skild kan karakters uit die film Rise of the Guardians geëien word.

“My matriekjaar was op ‘n persoonlike en kreatiewe vlak ’n ongelooflike ontwikkelingsproses. Dit is asof ek ’n nuwe taal en ’n ander denkwyse ontdek het,” meen Carla.  Volgens haar is die gebruik van verbeelding een van die belangrikste aspekte in ’n kind se ontwikkeling en moet daar meer tyd aan verwondering bestee word.  “Gedurende die jaar het ek, danksy me. Santjie van Vuuren, ’n liefde vir poësie ontwikkel.  Elisabeth Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” het ’n groot indruk op my gemaak en perfek by my jaartema aangesluit – die verwondering van kinders en die verlies daarvan met volwassewording.”

Carla is nie die enigste Bloemhofmatrikulant wat by die PJ Olivier Kunssentrum se prysuitdeling met pryse weggestap het nie. Mieke Smit en Danine van Niekerk is kategoriewenners in onderskeidelik Drukkuns en Tekstielontwerp, terwyl Jeannie Jooste en Bianca Pretorius kontantpryse vir hul passie en entoesiamse in hul praktiese werk ontvang.  Anae Louw ontvang ’n boekprys vir verdienstelikheid in Drukkuns en Lauren Howell ontvang ’n PNA-geskenkpak vir uitsonderlike tegniese vaardighede en toewyding in Tekstielontwerp.

Jeannie Jooste en Danine van Niekerk is boonop saam met Carla van die sewe genomineerde leerders vir die Prinsipale Skild waarmee Carla beloon is.

“Grootword is ’n bittersoet belewenis vol herinneringe, tog bring elke dag ‘n nuwe belofte,” sê Carla.  Haar raad?  “As ek elke liewe persoon iets kon toewens, is dit om in jou hart ’n kind te bly.

 

Deel hierdie plasing
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on google
Google+
Share on tumblr
Tumblr
Share on linkedin
LinkedIn
Share on pinterest
Pinterest
Share on print
Druk
Share on email
E-pos