Die jaarlikse Prysuideling het op Dinsdag, 8 Oktober in ‘n stamvol Bloemhof Sentrum plaasgevind.  Me. Karen Meiring, M-Net Direkteur van Afrikaanse Kanale, was die spesiale gas wat pryse aan die Bloemhoffers oorhandig het.  Tydens die eerste deel van die aand is pryse en erekleure aan die graad 8-12’s toegeken terwyl spesiale pryse – soos hier onder uiteengesit – daarna oorhandig is.  

Elize Coetee- en Bloemhofbondprys

Talyah Greyling en Jeanne-Marie Minnie, albei graad 12-leerders, het met die aand se twee gesogste pryse weggestap.

Talyah is die wenner van die Elize Coetzee-prys wat ’n studiebeurs van R20 000 insluit en vernoem is na mej. Coetzee, ’n voormalige skoolhoof.  Dié prys is deur wyle dr. en mev. Anton Rupert geskenk en word deur die Rupert Onderwys Stigting befonds.  Dit word jaarliks aan ’n leerder toegeken wat behalwe vir buitengewone akademiese prestasie ook ’n goeie leier is en met goeie inbors, lojaliteit en inisiatief optree.

Talyah Greyling
Jeanne-Marie Minnie

Jeanne-Marie ontvang die Bloemhofbondprys, ’n toekenning wat aan ’n leerder gaan wat entoesiame vir die skool se tradisies toon, ’n aktiewe rol in die skool speel, haar klasmaats aanmoedig om by skoolgeleenthede betrokke te raak en die Bloemhofwaardes van omgee, werksetiek, afgerondheid, respek en integriteit uitleef.  Die prys bestaan uit ’n wisseltrofee, ’n silwer armband en ere-lidmaatskap van die Bloemhofbond, die skool se oudleerdervereniging.

“Dié toekenning is nie bloot ’n prys vir ’n eenmalige prestasie nie, maar ’n erkenning van ’n entoesiastiese en lojale lewenswyse.  Die Bloemhofbond is trots om met Jeanne-Marie geassosieer te word,” sê me. Maryna de Waal, skakelbeampte van die Bloemhofbond.  

 

 

Spesiale merietetoekennings en Dux-medalje
Danielle Louw (links) en Alet Müller

Danielle Louw en Alet Müller, oudleerders wat uitmuntend tydens die NSS-eksamen in 2018 presteer het, is ook vir hul gesonde werksetiek en puik prestasies vereer.  Danielle, wat met ’n gemiddel van 96,2% geslaag het, is 2018 se Dux-leerling en ontvang die PricewaterhouseCoopers Dux-medalje.  Alet beklee die tweede klasposisie met 95,3%.

Sporttoekennings
Christine Kruger
Anneken Viljoen
Cimòn van der Westhuizen

Christine Kruger is vanjaar die wenner van die Walters-wisseltrofee vir junior sportvrou van die jaar terwyl Anneken Viljoen die Swanevelder-Wisseltrofee vir senior sportvrou van die jaar inpalm.  Christine (gr. 10), wat vir Bloemhof se o.19A-tennisspan speel, is vanjaar verkies om die SA-span in die o.16-Afrikabetertoernooi in Tunisië te verteenwoordig.  Anneken (gr. 11) is deel van die Wes-Kaapspan wat tydens die ASA-atletiekkampioenskappe aan die 800m (4de) en 1500m (3de) deelneem en saam met haar aflosspan ’n goue medalje inpalm.  By die SA Skolekampioenskappe wen Anneken ook ’n bronsmedalje in die 800m.        

 

Vir die derde agtereenvolgende jaar ontvang Cimòn van der Westhuizen (gr. 11) die Rése Hugo-wisseltrofee vir mees veelsydige sportvrou.  Sy verteenwoordig die Wes-Kaapspan by die ASA-atletiekkampioenskappe en die SA Skolekampioenskappe waar sy onderskeidelik 8ste en 7de in die 1500m eindig.  Sy is ’n lid van die Wes-Kaapse Biathlespan en wen ’n silwermedalje by die SA-kampioenskappe en word gekies om Suid-Afrika by die wêreldbyeenkoms in die VSA te verteenwoordig.  Vanjaar word Cimòn ook in die Boland-landloopspan opgeneem en neem aan die ASA Nasionale Landloopkampioenskappe deel.

Emma Bekker
Nicole Robinson
Anje Dercksen

Vanjaar ontvang Emma Bekker (gr. 12) weer die Anne-Marie Bosman-wisseltrofee vir besondere sportmangees.  “Sy is ’n toegewyde speler wat altyd uitmuntende sportmangees getoon het, ongeag die uitslag van die wedstryd. Haar nederigheid teenoor haar opponente sowel as eie spanmaats was opvallend en sy inspireer nie net haarself tot hoër hoogtes nie, maar ook die res van die span,” sê mnr. Johan Jacobs, spanbestuurder van die Bloemhof Investec o.19A-hokkiespan.   

Bloemhof se beste buitesportpresteerders is ook vereer.  Nicole Robinson ontvang die Marais-wisseltrofee vir beste buitesportprestasie deur ’n junior en Anje Dercksen is die Cape Nissan-wisseltrofee vir die beste buitesportprestasie deur ’n senior toegeken. 

Nicole (gr. 10) behaal ’n derde plek in die o.19-ouderdomsgroep by die 2018 Statebond Judo-kampioenskappe wat in Jaipur, Indië plaasgevind het.  Vanjaar wen sy ’n silwer medalje in die o.17-afdeling van die SA Judo-kampioenskappe, maar verwerf die goue medalje in die o.21-ouderdomsgroep.

Anje (gr. 11) is as die Wes-Kaap Ruiterkunsspan se nommer 1-ruiter in beide Driegang én Vyfgang aangewys en behaal sewe eerste plekke op die Suid-Afrikaanse Saalperdkampioenskappe.  Sy is wenner van die Driegang Kampioen van Kampioene en naaswenner van die Vyfgang Kampioen van Kampioene.  Beide die Driegang- (waarvan sy kaptein was) en die Vyfgang Senior Protea Ruiterkunsspanne wen silwer in die Internasionale Kompetisie in New Orleans. Anje word ook as die  beste Vyfgang-ruiter tydens hierdie kompetisie aangewys.

Kultuurtoekennings
Carla Müller
Mienja Strauss
Vitske van Zyl

Die Wium-kultuurbeker vir Veelsydigheid is vanjaar aan Calra Müller (gr. 11) toegeken.  Sy dans haar Advanced 1-Ceccheti ballet-eksamen en slaag met lof (83%).  Sy slaag ook haar Unisa Graad 7 Viooleksamen met 85%, dus ook met lof. Albei prestasies is uitsonderlik vir die vlak waarop sy deelneem, en gegewe die feit dat sy boonop lid van die Stringendo-orkes is en ook akademies presteer.

Mienja Strauss en Vitske van Zyl ontvang vanjaar onderskeidelik die Junior en Senior Kultuurbeker. 

By die finaal van die On the tip of your Tongue Public Speaking wen Mienja (gr. 9) die Golden Tongue-afdeling vir Graad 9’s waar ’n leerder ’n toespraak uit die vuis moet lewer en behaal ook ’n derde plek in die Unprepared Speech-afdeling.  Sy is vanjaar die wenner van die junior afdeling in die Strand Rotariërs Orators-kompetisie.  Verder eindig sy onder die top 10 sprekers van die Nasionale ATKV-Redenaarskompetisie in die afdeling Gr.8-9 Afrikaans Huistaal Onvoorbereide Toesprake. 

Vitske (gr. 11) behaal bo en behalwe haar uitstekende uitslae op die Stellenbosch Kunswedstryd en Helderberg Eisteddfod die volgende prestasies: Sy neem aan die finaal van die Feurich Internasionale klavierkompetisie in Wenen, Oostenryk deel en verwerf ’n goue medalje. Plaaslik neem sy aan die gesogte Johan Vos-klavierkompetisie deel en behaal ’n 2de plek.  Verder neem sy aan die Peter Kooij Musiekkompetisie deel waar sy na die finaal deurdring.

Erekleure oor vyf jaar
Inge Smit (links) en Michelle Steyn

Daar is vanjaar twee ontvangers van die Liza Midgley-Wisseltrofee:  Inge Smit en Michelle Steyn.  Dié trofee word aan ’n Graad 12-leerder toegeken wat oor vyf jaar erekleure in al drie kategorieë (akademie, sport en kultuur) ontvang het – ten minste twee hiervan moet volkleure wees.

Inge en Michelle deel vanjaar hierdie besondere toekenning.  Inge verwerf sedert graad 8 (2015) volkleure vir akademie en sport en halfkleure vir kultuur terwyl Michelle volkleure vir akademie en kultuur en halfkleure vir sport ontvang het.

Ander pryse en toekennings
Beatri Cloete
Denike le Roux
Estée van Heerden

Die Milly King-wisseltrofee vir gemeenskapsdiens is vanjaar aan Beatri Cloete (gr. 11) toegeken.  betrokkenheid by haar gemeenskap.

Haar betrokkenheid by haar gemeenskap getuig van omgee en naasteliefde, want die afgelope vier jaar besoek sy saam met ander Bloemhoffers die GoKidz-skool waar sy kleuters met aktiwiteite help.  “Sy was ook ’n waardevolle tutor vir die hoërskoolleerders wat by GoKidz vir ekstra klas aangemeld het,” sê me. Rina Paul, die skakelonderwyser van Phoenix, Bloemhof se gemeenskapsvereniging. 

Beatri lê boonop op Vrydagmiddae ’n besoek by die Aitsa-nasorgsentrum in Kylemore af waar sy ook leerders help en ondersteun.  Haar liefde en omgee vir mense is ook hier in Bloemhof tasbaar, want aan die einde van die skooldag tref ‘n mens haar gereeld in die mediateek aan besig om as tutor ander Bloemhoffers te help.

“Beatri lewer op ’n stil manier ’n groot bydrae as iemand wat nood raaksien, verhoudings bou en vir ander omgee,” meen me. Paul.

Denike le Roux ontvang die Le Roux-wisseltrofee vir leierskap in Huis Bloemhof vir die merkwaardige manier waarop sy vanjaar haar hoofmeisieskap in die skoolkoshuis uitgeleef het.

Die Huisbeker is vanjaar deur Huis Neethling gewen – die eerste keer sedert 2015.  Estée van Heerden, Neethling se huiskaptein, het die beker in ontvangs geneem terwyl haar onderkaptein, Amy Simons, die vaandel gedra het.  Huis Hofmeyer was vanjaar tweede.

Skoolburger van die jaar
Jessica Hess (links) en Katryn Groenewald

Bloemhoffers nomineer jaarliks ’n junior en senior leerder as hul Skoolburger van die jaar.  Dié prys word deur die Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL) geborg en toegeken nadat registerklasse leerders genomineer het.  Betrokkenheid, lojaliteit, netheid, stiptelikheid en wellewendheid vorm deel van die kriteria.

Vanjaar val hier eer Jessica Hess (gr. 9) en Katryn Groenewald (gr. 11) te beurt. 

Opsommend:  Genommineerde leerders en wenners

Leerders wat vir pryse genommineer is, word alfabeties volgens van gelys met die wenner wat in vetdruk verskyn.

JUNIOR SPORTVROU VAN DIE JAAR

  • Ferran Linders
  • Christine Kruger
  • Lenka Steenkamp
  • Mienke Viljoen

SENIOR SPORTVROU VAN DIE JAAR

  • Rochelle Pienaar
  • Anneken Viljoen

MEES VEELSYDIGE SPORTVROU

  • Elandri Schmidt
  • Cimòn van der Westhuizen
  • Anneken Viljoen
  • Mienke Viljoen

BESONDERE SPORTMANGEES

  • Emma Bekker
  • Tiani Fourie

BESTE BUITESPORTPRESTASIE DEUR ’N JUNIOR

  • Jani du Plessis
  • Mila Olivier
  • Nicole Robinson

BESTE BUITESPORTPRESTASIE DEUR ’N SENIOR

  • Anje Dercksen
  • Micka Lerm

VEELSYDIGHEID OP KULTUURGEBIED

  • Carla Müller

BESTE KULTUURPRESTASIE DEUR ’N JUNIOR

  • Tia Bruwer
  • Mienja Strauss

BESTE KULTUURPRESTASIE DEUR ’N SENIOR

  • Andri Malan
  • Vitske van Zyl

LIZA MIDGLEY-TROFEE VIR EREKLEURE IN AKADEMIE, SPORT EN KULTUUR

  • Inge Smit & Michelle Steyn

LE ROUX-WISSELTROFEE VIR LEIERSKAP IN HUIS BLOEMHOF

  • Denike le Roux

MILLY KING-TROFEE VIR GEMEENSKAPSDIEN

  • Beatri Cloete

HUISBEKER

  • Huis Hofmeyr
  • Huis Neethling

SKOOLBURGER VAN DIE JAAR

  • Jessica Hess (junior) & Katryn Groenewald (senior)

BLOEMHOFBONDPRYS

  • Talyah Greyling
  • Jana Liebenberg
  • Jeanne-Marie Minnie

ELIZE COETZEE-PRYS

  • Alexa Genis
  • Talyah Greyling
  • Ninke Radley

Saamgestel deur Stephan Meyer

Foto’s:  Leila van Zyl

Deel hierdie plasing
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on google
Google+
Share on tumblr
Tumblr
Share on linkedin
LinkedIn
Share on pinterest
Pinterest
Share on print
Druk
Share on email
E-pos