- 01 October 2019
- | 14:13
- | Nuus
Die Wintersporttoekennings is op 1 Oktober 2019 oorhandig. Veels geluk aan die leerders en spanne wat vereer is:
LANDLOOP
- Juniorlandloopatleet van die jaar: Elandri Schmidt
- Seniorlandloopatleet van die jaar: Cimòn van der Westhuizen
Elandri (graad 8) behaal vanjaar ’n algehele 3de plek by die Wintersdaglandloopbyeenkoms teen Rhenish, verteenwoordig die Wes-Kaapspan vir landloop en neem aan die Suid-Afrikaanse (ASA) Landloopkampioenskappe in Pretoria deel.
Cimòn (graad 11) is net-net tweede tydens die Wintersdaglandloopbyeenkoms, maar behaal ’n eerste plek tydens die Interskole Landloop teen Oranje. Sy verteenwoordig die Wes-Kaapspan vir landloop en neem aan die Suid-Afrikaanse (ASA) Landloopkampioenskappe in Pretoria deel.
NETBAL
- Juniornetbalspelers van die jaar: Ferran Linders & Lenka Steenkamp
- Seniornetbalspeler van die jaar: Danica Fourie
- Netbalspan van die jaar: o.15A
Ferran en Lenka (albei graad 10) deel vanjaar dié toekenning nadat albei van hulle as een van 12 spelers in die Suid-Afrikaanse o.16-span verkies is. Hulle is ook albei deel van die Wes-Kaapspan wat aan die Nasionale Kampioenskappe in Boksburg deelneem.
Danica (graad 12) is deel van die Wes-Kaapspan wat aan die Nasionale Kampioenskappe te Boksburg deelneem. Sy is ook ’n lid van die HMS Bloemhof Eerste Netbalspan wat ’n silwer medalje by die All Girls-toernooi verwerf en vanjaar se interskolestryd teen Oranje wen.
Die o.15A-span, vanjaar se netbalspan van die jaar, behaal ’n tweede plek by die Nasionale Topskole-kampioenskappe. Hulle is in 91,5% van hul 47 wedstryde onoorwonne. Die span het vanjaar 1 041 doele gedurende die seisoen aangeteken terwyl hulle opponente slegs in 405 doele kon slaag.
HOKKIE
- Juniorhokkiespeler van die jaar: Jessica Hess
- Seniorhokkiespeler van die jaar: Emma Bekker
- Hokkiespan van die jaar: Bloemhof Investec o.19A
Jessica (graad 9) is vir die Boland o.16A-span gekies en is vanjaar ’n lid van die Bloemhof Investec Eerste Hokkiespan.
Emma (graad 12) verteenwoordig die Boland o.18A-span as onderkaptein en die Bloemhof Investec Eerste Hokkiespan as kaptein. Sy het vanjaar 29 doele vir haar span aangeteken – die meeste van alle hokkiespelers in Bloemhof.
Die o.19A’s, wat vanjaar agt Bolandspelers opgelewer het, is in 72,5% van hul 51 wedstryde onoorwonne. Hulle teken ’n totaal van 86 doele oor die seisoen aan en verloor slegs 14 van hul wedstryde. Die span se hoogtepunte sluit ’n 7de plek by die St Mary’s Investec Hockey Festival , ’n 5de plek by National All Girls’ Festival en ’n 9de plek by die OMS Nasionale Super 12-toernooi in.