Dis met groot opwinding dat die Bloemhoffers vanjaar die leerders en personeel van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje inwag.  Graag nooi ons Bloemhofouers, -leerders, -oudleerders en ondersteuners uit om dié geleentheid by te woon. 

WAT OM VANJAAR TE VERWAG

Accelerando en Con Spirito tydens die 2017-kultuuroggend. Foto: Stephan Meyer (@afrikaansvatter)
Die Bloemhoffers en Oranjeniete tydens die 2017-landloopbyeenkoms. Foto: Stephan Meyer (@afrikaansvatter)

Die 2019 Interskole skop op ‘n hoë noot af.  Kom luister gerus na Bloemhof se Accelerando-koor (o.l.v. Marijke De Villiers-Roos) en Oranje se Con Spirito-koor (o.l.v. Stefan Buys) Donderdag, 15 Augustus om 19:30 in die Hugo Lambrechts-ouditorium.  

Die amptelike kragmeting begin Vrydag, 16 Augustus om 08:00 as die twee skole se landloopspanne mekaar pak. Bloemhof is die verdedigende kampioene nadat hulle in 2017 en toe weer in 2018 gewen het.  ‘n Sirkelroete sal voor die pawiljoen op die Markötter-sportgronde begin en eindig.  

Om 09:00 word twee debatte gevoer:  een tussen twee juniorspanne (graad 8-9) en een tussen twee seniorspanne (graad 10-12).  Ook hier is Bloemhof die verdedigende kampioene nadat die Stellenbossers verlede jaar albei hul argumente in Bloemfontein gewen het.  Vanjaar sal Carmen Bonsma, Anna-Mart Louw en Mienja Strauss die juniordebat voer terwyl die ervare sprekers Annerine Strauss, Ghia Hough en Andri Malan Bloemhof se seniorspan vorm.

Lenka Steenkamp konsertreer hard tydens die o.15A-wedstryde in 2017. Foto: Stephan Meyer (@afrikaansvatter)

Ook vanaf 09:00 spook die twee skole dit op die tennisbane uit.  Bloemhof en Oranje se o.19A-tennisspanne speel op Bloemhofbane 1, 2 en 4, die o.19B’s speel op Bloemhofbane 5 en 6 en die o.15A’s speel op die Rhenishbane – hiervoor sal die hek tussen die twee skole oop wees.  Die tennis beloof om ’n hoogtepunt te wees, want twee van SA se beste o.19-spelers, Rochelle Pienaar (Bloemhof) en Linge Steenkamp (Oranje) sê mekaar die stryd aan.

Vanaf 11:00 word daar ’n kultuurverskeidenheidskonsert in die Bloemhof Sentrum aangebied.  Die kore sal weer optree, maar Bloemhof se twee orkeste – Musica Perpetua (blaasorkes o.l.v. Leon Piron) en Stringendo (strykensemble o.l.v. Amoré Steyn) en Oranje se Marimba-band (o.l.v. Heinrich Lategan)  sal uitvoerings lewer.  Daar is ook items in drama, sang en dans op die kultuurspyskaart.

 Om 14:00 vind die Interskole se tafeltennis plaas.  Dié matriektradisie is altyd pret en baie gewild, daarom word dit vanjaar aangevul met ’n vlugbalwedstryd (volleyball), ook tussen die twee skole se matrikulante.  Dink gesigverg, lekker musiek en baie, baie gees.  Veral as die skole besluit om spanmaats uit te ruil!  

Op ’n ernstiger en heelwat stiller noot is die skaakwedstryde wat ook om 14:00 in kamer 24 begin.  Hier is die Oranjeniete reeds die afgelope ses jaar die kampioene.  In 2018 is daar nie skaak gespeel nie, maar vanjaar word die pionne weer uitgepak en die denkpette opgesit. 

Mieke Basson, toe in graad 10, tydens die 2017-hokkiewedstryd waar Bloemhof en Oranje 2-2 gelykop geëindig het. Foto: Stephan Meyer (@afrikaansvatter)

Oranje word as een van die beste hokkieskole in die land gereken en vanaf 14:00 ding die twee skole op die Bloemhof Investec Astro mee.  Die hoofwedstryd vind om 17:30 plaas met die Bloemhoffers wat hoop om die bordtjies te verhang – hulle het verlede jaar 0:4 verloor, maar in 2017 met twee doele elk gelykop geëindig.  Bloemhof kon egter nog nooit weer sedert 1999 daarin slaag om die Oranjeniete se eerstespan tydens die Interskole te klop nie.  

Die o.14A, o.16A, o.19B, oudleerders en o.19A-wedstryde word regstreeks op DigiTV uitgesaai.  Hou die webwerf, die d6-kommunikeerder en ons sosiale mediakanale dop vir die skakel.  

Alita de Villiers (Verdediger of GD) en Nadia van Blommestein (Senterspeler) miik vir die bal tydens 2017 se o.19A-netbalwedstryd. Die Bloemhoffers het net-net gewen. Foto: Stephan Meyer (@afrikaansvatter)

Die Interskole kom Saterdag tot ’n einde as die oorblywende hokkiespanne en al die netbalspanne teen mekaar speel.  Die Eerste Netbalspanne draf om 11:00 op Bloemhof Baan 3 uit.  Hier is Oranje die verdedigende kampioene nadat hulle in 2018 vir die eerste keer weer die Bloemhoffers kon kniehalter.  Die eindtelling in 2017 was 24:22 in Bloemhof se guns, maar in 2018 wen Oranje met 28 doele teenoor Bloemhof se 19. 

Al die netbalwedstryde op die hoofbaan (baan 3) word regstreeks op DigiTV uitgesaai.  

Baie sterkte aan die al die spanne wat vanjaar deelneem!  Gebruik gerus die hutsmerk #BloemhofOranje2019 om via Instagram, Facebook en Twitter op hoogte van alles by die Interskole te bly.  

Deel hierdie plasing
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on google
Google+
Share on tumblr
Tumblr
Share on linkedin
LinkedIn
Share on pinterest
Pinterest
Share on print
Druk
Share on email
E-pos