Die graad 12-spelers staan na afloop van die laaste wedstryd voor die ander spanne toe die skoollied gesing word. Foto: Stephan Meyer

Vir die eerste keer is netbalwedstryde teen die Hoërskool Outeniqua in George gespeel waar die Bloemhoffers hul skool se naam baie hoog gehou het met oorwinnings in 22 van die 23 wedstryde.

Groot opwinding het reeds op Vrydag, 12 Julie geheers toe 23 netbalspanne met vier busse na George vertrek het.  “191 leerders het hierdie toer meegemaak,” sê me. Almaré van der Vyver, sportbestuurder: netbal.   “Dis nie altyd so maklik om vir E- en F-spanne wedstryde te reël nie, want nie alle skole het soveel spanne nie.  Tog is dit belangrik dat hierdie spanne ook speelgeleentheid moet kry en dit is goed as ons spanne blootgestel word aan kompetisie buite ons onmiddellike omgewing.”

Die spanne is deur 17 spanbestuurders en afrigters vergesel en het in die Town Lodge George tuisgegaan voordat hulle Saterdag by Hoërskool Outeniqua uitgedraf het.

Die eerstespan is luid deur die Bloemhoffers, wat om die baan gesit het, ondersteun – iets wat die span baie waardeer het, sê Kara Barnard, die o.18A-kaptein.  “Dit was definitief vir my die moeite werd om so ver te ry. Ek voel ons netbalspanne se bande tussen mekaar het soveel sterker geraak,” vertel sy.  “Die lekkerste deel was om om die baan te kyk en net maroen te sien en hoe almal hul bors geskree het.”  

Die eerstespanne was aan die einde van die eerste kwart gelyk, maar Outeniqua het voor halftyd met twee doele voorgeloop.  In die derde en vierde kwart het die Bloemhoffers egter die wedstryd oorheers om uiteindelik 32:22 te wen. Die volledige uitslae verskyn hier onder en kan as ‘n PDF afgelaai word.

’n Groot woord van dank aan die leerders, personeel en ouers van Outeniqua wat ons so gasvry ontvang het en die personeel van Town Lodge George wat uit hul pad gegaan het om ons verblyf baie aangenaam te maak.   

Deel hierdie plasing
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on google
Google+
Share on tumblr
Tumblr
Share on linkedin
LinkedIn
Share on pinterest
Pinterest
Share on print
Druk
Share on email
E-pos