O.19’s én o.15’s kraai koning by Amanda Coetzer-tennistoernooi

Die Bloemhof o.19A-tennisspan is v.l.n.r. Joan le Roux (spanbestuurder), Bianca Wolmarans, Rochelle Pienaar, Karli Roux, Jana van Vreden, Alta Brink (kaptein), Christine Kruger, Mienke Viljoen en Pascal Guebert (Edge-afrigter). Foto: Gerhardus Bosch

Die Bloemhof o.19A-tennisspan het op 9 tot 11 Mei hul titel in die Rosestad teruggekry om as kampioene by die Amanda Coetzer tennistoernooi gekroon te word. Dit was die 22ste bestaansjaar van hierdie prestigeryke toernooi; waarvan Bloemhof altesame reeds 14 keer met die louere weggestap het.

Agt van die top dogterstennisspanne van oor die land het aan die toernooi deelgeneem. Bloemhof het na afloop van die rondomtalie-afdeling van die toernooi eerste in Groep 1 (Bloemhof, Waterkloof, Afrikaans Hoër Meisies, Helpmekaar) geëindig. Groep 2 het bestaan uit Oranje, Menlopark, Hoër Meisieskool Paarl en Paarl Gimnasium, met Oranje wat bo-aan hierdie groep geëindig het. Tydens die semi-finaal het Bloemhof oortuigend met Hoër Meisieskool Paarl afgereken, terwyl die Oranje-span ook ‘n goeie oorwinning oor Helpmekaar behaal het. Dit het beteken dat Oranje en Bloemhof, soos die laaste 7 jaar, sake moes uitspook vir die 1ste plek.

Pragtennis is in die finaal gespeel, met die telling op 4-1 in Bloemhof se guns, was die gesogte titel weer Bloemhof s’n. Die wedstryd tussen die twee skole se nommer 1-spelers, Rochelle Pienaar (Bloemhof) en Linge Steenkamp (Oranje) was nog nie verby toe die uitslag bepaal is nie. Hierdie wedstryd moes voltooi word om die beste nr. 1-speler van die toernooi te bepaal. Pienaar het uiteindelik die titaniese stryd, asook die titel as beste speler van die toernooi, in 3 stelle gewen.

Pascal Guebert, Bloemhof se inspirerende afrigter van die Edge Tennisakademie, se invloed was deurgaans sigbaar in die spel van die Bloemhof-span. Onder sy bekwame leiding het die Bloemhoffers ook in Maart vanjaar die Gerrie Berner-toernooi gewen toe hulle daar ook in die finaal met Oranje afgereken het. Bloemhof kan tans met reg as die Nommer 1 tennisskool in die land beskou word.

Die o.15-tennisspan is v.l.n.r. Jonathan Edmunds (Edge-afrigter), Janke-Martine Viljoen, Simoné Steyn, Janeke van der Walt, Megan Gibbs, Jané Louw en Joan le Roux (spanbestuurder). Foto: Gerhardus Bosch

Die kersie op die koek was die oorwinning wat die o.15-span van Bloemhof in die o.15-toernooi behaal het. Hulle het Oranje suksesvol in die finaal met 4-2 verslaan en sodoende die eerste keer die wenners in hierdie afdeling geword. Die span is afgerig deur Edge-afrigter Jonathan Edmunds, wat ook die tennisbestuurder by Bloemhof is.

Nog hoogtepunte by die prysuitdeling was dat 7 van die 12 Bloemhoffers as die beste speler op hulle posisie aangewys is nadat hulle dwardeur die toernooi onoorwonne was. Die Bloemhoffers is:

  • 1ste span: Rochelle Piennaar (no. 1), Christine Kruger (no. 2), Mienke Viljoen (no. 3), kaptein Alta Brink (no. 4) en Jana van Vreden (no. 6)
  • 15-span: Janke-Martine Viljoen (no. 3) en Jané Louw (no. 4)
Deel hierdie plasing
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on google
Google+
Share on tumblr
Tumblr
Share on linkedin
LinkedIn
Share on pinterest
Pinterest
Share on print
Druk
Share on email
E-pos