In Bloemhoftaal is “Oranje” sinoniem met Interskole, maar vir ‘n aantal graad 11’s beteken dié woord deesdae iets anders… 

Op 28 September het 52 graad 11’s die N7-Noord aangepak met die Oranjerivier as hul bestemming waar hulle vir vier dae gaan roei het. Vier personeellede – mnr. Anthony Kitching, mnr. Jonathan Edmunds, me. Zané Burger en me. Elana Kruger – het die groep vergesel.

Hierdie is wat die graad 11’s te sê het oor hulle avontuur:

Caro Wiese:   “Die Oranjerivier was vir my ’n ongelooflike avontuur wat ek altyd sal onthou. Die natuur was verskriklik mooi. Dit was baie lekker om in die aande so onder die sterre te slaap en wakkergemaak te word in die middel van die nag met die maan wat in jou oë skyn. Dit was ook baie lekker om ander kante van mense te sien en die mense beter te leer ken op die toer.”  

Taljah Greyling: “Die Oranjeriver was ’n asemrowende gebeurtenis wat my vir ewig sal bybly. Van lewenswyshede en stories om die kampvuur (en om weg te hardloop vir gloeiende blou stene wat in beeldskone vonke uit ons kampvuur skiet)  tot die juf. Burger en juf. Kruger wat dit reggekry het om op nie net een nie, maar twee skreeusnaakse maniere gevind het om in die water te val en agter al hul bagasie moes aanswem. Daar was vele watergevegte en tye van saamlag en dan is daar natuurlik ook n paar stoute poetse…  In kort:  Die Oranjeriver was ’n asemrowende gebeurtenis wat my vir ewig sal bybly.”

Jeanne-Marie Minnie: “Die Oranjerivierroei was sondertwyfel een van die hoogtepunte indien nie dié hoogtepunt van my graad 11-jaar. Die lang busrut is leefbaar gemaak deur duisende sing-along songs en verskeie peuselhappies. Ek dink ek praat namens die hele groep as ek sê ons is dankbaar vir ‘n ongelooflikke groep onderwysers en gidse wat ons vergesel het en vir vele lag- en giggelepisodes gesorg het.”

Teagan Roux: “Die Oranjeriviertoer van 2018 was sekerlik een van my beste herhinneringe sover, nie net omdat dit ons graad kans gegee het om mekaar baie goed te leer ken voor ons matriekjaar nie, maar om te besef dat ons graad een van die spesiaalste bande het. ’n Hoogtepunt was om al die rapids saam te oorkom!”

Lana Prins: “Ek sou seker sê dat dit werklik ’n baie lekker ervaring was saam met ’n groep meisies wat baie lekker saam gekuier het. Die natspat en in die water omval was ’n hoogtepunt en ons wonderlike gidse en onderwysers het die toer vir ons fantasties gemaak. Ons het baie lekker geëet en saam gekamp. Dit was n baie groot voorreg om die pyn op die laaste dag se roei met die groep meisies te deel en met so baie vreugde omring te wees.”