Tydens die skoolvakansie het die Hoër Meisieskool Bloemhof se seniordramageselskap aan die ATKV-Tienertoneel se nasionale finale in Johannesburg deelgeneem en is Saterdag, 6 Oktober as vanjaar se wenners aangewys. 

tot stof l tot stilte – ’n paniekreaksie is deur die geselskap geskryf nadat onderhoude met medeleerders gevoer is oor “die dinge waaroor jy obsessief is”.  Dr. André Geber en me. Anél Joubert, die regisseurs, het gehelp om dié opnames – waarin tegnologie, geloof en die soeke na identiteit van die ooglopendste obsessies onder jongmense is – tot teks omskep is. 

“Ons is dankbaar dat dit wat ons leerders te sê gehad het, daardie aand tot die beoordeelaars en die gehoor gespreek het, want enige van die top 5-produksies kon gewen het,” sê Geber, wat meen dat die vier ander finaliste vir teater van ’n hoë gehalte gesorg het.

 Tydens die prysuitdeling is Bloemhof se produksie in vyf kategorieë genomineer, onder andere vir beste regie en beste ensemble.  Ané Conradie is egter aangewys as vanjaar se beste beligtingsoperateur, terwyl Marisca Engelbrecht die toekenning vir die beste klankoperateur ontvang het. 

Marisca Engelbrecht (links) en Ané Conradie is onderskeidelik as die beste klank- en beste beligtingsoperateur aangewys. Foto: Verskaf

 Twee Paul Roosers het ook tot vanjaar se wenproduksie bygedra. Stehan Odendaal, ‘n graad 11-leerder aan die Paul Roos Gimnasium, was die enigste seun in die ensemble en ontvang vanjaar die ATKV-Tienertoneel se toekenning vir die mees belowende spel deur ’n seun terwyl David Wolfswinkel, ’n oudleerder, vir die stuk musiek gekomponeer het.

“Ek was aanvanklik nogals bang aangesien ek net drie van die meisies in die geselskap geken het, maar hulle het my vinnig gemaklik en deel van die familie laat voel,” sê Stehan, ’n gereelde ondersteuner van Bloemhof se vorige toneelstukke.  “Ek neem aan die regisseurs het begin sien dat ek altyd daar is en my toe genooi om vir ’n oudisie te kom.  Dit was reeds in Januarie en basies ’n dream come true.”

Gerber is vol lof vir die geselskap, maar eerlik as hy erken dat die hele proses vervullend dog uitputtend is.  “Die leerders se betrokkenheid het veroorsaak dat die teksontwikkeling baie lank geneem het, maar dit wat jy dan uitkry, is baie meer eg tot hulle individuele ervaring as tieners in ’n skoolopset.” 

 Hy het vanjaar weer kragte met Joubert en Wolfswinkel saamgesnoer nadat hulle in 2017 as die nasionale naaswenners aangewys is.  “Anél en David is sentraal tot die proses.  Hulle het visuele metafore en klank geskep wat in verbinding tree met dit wat die leerders gebring het.”

195 produksies was vanjaar tydens 11 streeksfeeste op die planke.  Die 19 beste-produksies het in die nasionale uitdun deelgeneem met vyf wat tydens die gala-aand om die prysgeld van R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2019 meegeding het.

 Die beoordelaars tydens die finaal was Ismail Mahomed, Gerben Kamper, Ira Blanckenberg, Tara Notcutt, André Stolz en Marlo Minnaar.

Agter van link na regs: André Gerber (regisseur), David Wolfswinkel (komponis), Stehan Odendaal, Ansonette Neethling, Michelle Steyn, Liané van Vuuren, Ané Conradie en Nichola Viviers. Middel van links na regs: Grethe Visser, Tanzyn Spamers, Hilde Elema, Anél Joubert (regisseur) en Zara van der Westhuizen. Voor van links na regs: Thina Gabavana, Zahn Marais, Ghia Hough, Taylor Hendricks, Anaïs Herman, Nita de Jager, Luchuané Hechter en Marisca Engelbrecht.