Huis Hofmeyr is vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar as die wenner van die atletiekbeker by die Interhuisatletiek aangewys.  Dié gebeurtenis moes weens gure weer van Woensdag na Donderdag skuif, maar uiteindelik was Bloemhof se Janine Visser Atletiekfasiliteit op 20 September 2018 die venue vir heerlike pret en plesier.  Huis Neethling, met “New York” as tema, het vanjaar die geesbeker gewen.

Die drie huise – Hofmeyr, Joubert en Neethling – het die dag met hul krete begin en gedurende die byeenkoms eers as aparte huise en toe later as een massa die atlete aangemoedig. 

Die graad 11’s het oudergewoonte en masse vir die 1 500m ingeskryf en selfs Fidel, die Bloemhofbeer, het hieraan deelgeneem.  Nog ‘n hoogtepunt was die pretaflos waar die huisleiers, die VRL en die opvoeders spanne ingeskryf het.  Al het die me. Elzabé van der Watt, me. Nina Reynolds, me. Illse Davids en me. Liezl Potgieter hard probeer, was dit Katinka de Wet en die res van die VRL wat eerste oor die wenstreep getree het.

Die puntestand vir die Interhuisatletiek is as volg:

  1. Huis Hofmeyr:  469 punte
  2. Huis Joubert: 452 punte
  3. Huis Neethling: 374 punte

Foto’s:  Stephan Meyer, Carla Thiart, Inge Gerryts, Karli van den Berg, Anél van der Merwe, Gaby Coetzee.