Welkom by die Hoër Meisieskool Bloemhof!

Ons sien voorwaar daarna uit om jou by die Hoër Meisiekool Bloemhof – die oudste Afrikaansmedium skool vir dogters in Suid-Afrika – welkom te heet wanneer jy by ons aansluit.  Op hierdie bladsy sal jy nuttige inligting vind sodat jy vinnig jou voete kan vind en so gemaklik as moontlik kan inskakel.

Baie welkom by die HMS Bloemhof.  Loer gerus hier vir meer inligting oor ons skool.

In die skoolprofiel skets ons ‘n oorsig oor wat Bloemhof bied, terwyl roosters, kloktye ens. by praktiese inligting gevind kan word.  Onder skooldrag is daar inligting oor die Klerebank en by afwesigheid is ‘n skakel na ons afwesigheidsbeleid.  

‘n Amptelike inligtingsdokument met reëlings vir 2019 sal op Vrydag, 26 Oktober 2018 beskikbaar wees.   

Bloemhof, geleë in Kochstraat, Stellenbosch, is die oudste Afrikaansmedium hoërskool vir meisies in die land.  Die skool is in 1874 gestig en open amptelik in 1875 haar “deure” – onderrig vind in die tuin plaas en kry gou die bynaam “Bloemhof”.  Ds. J.H. Neethling meen dié bynaam is gepas, want die skool moet “bloemen voor de volk” kweek.  

Vanjaar is Bloemhof 143 jaar oud en het ‘n ryk tradisie en verlede.

Tans is daar 715 dogters vanaf graad 8 tot graad 12, meer as 40 personeellede, asook meer as 30 administratiewe personeel en terreinpersoneel.

Die skool is deel van die Wes-Kaap Onderwysdepartement.

Die skoolhoof is me. Wilna van Heerden en sy is reeds meer as twintig jaar deel van die Bloemhof-familie, eers as adjunkhoof, nou as skoolhoof. Sy is ‘n warm mens – ‘n ware dame en rolmodel vir ons Bloemhof-dogters.

Die Bloemhof-terrein is ruim, boomryk en pragtig, reg langs die Eersterivier en onder die wakende oog van die Simons- en Stellenboschberge.

Ons onderriglokale sluit in: 35 klaskamers, ‘n wetenskaplaboratorium, ‘n biologielaboratorium, ‘n huishoudkundelokaal, drie musieklokale, een musiekteoriekamer en ‘n musiekrekenaarlokaal, ‘n tegnologielokaal, ‘n skoolbiblioteek, twee rekenaarlokale, ‘n skoolsaal en ‘n meerdoelige sentrum wat 1200 mense kan akkommodeer, toegerus met die nuutste fasiliteite.  ‘n Nuwe lesingslokaal is in 2018 geopen.  

Bloemhof word omring deur skole – Rhenish Girls’ High School, Rhenish Primary School, Laerskool Eikestad en Paul Roos Gimnasium. Jare lank bou Bloemhoffers al bande met hulle manlike eweknieë by Paul Roos, ‘n dubbel-medium hoërskool vir seuns, en daar vind vele Bloemhof-Paul-Roos-interaksie plaas.  Die verhouding met ons susterskool is ook baie goed en tydens pouses op Vrydae word die hek tussen Bloemhof en Rhenish oopgesluit sodat die twee skole saam kan kuier.

Bloemhof se naam is wyd bekend vir uitmuntende akademie, kulturele en sportprestasies.

AKADEMIE

Bloemhof handhaaf hoë akademiese standaarde en reeds van graad 8 af word daar op kritiese denkvaardighede klem gelê.  In 2017 behaal Bloemhof weer ‘n 100% slaagsyfer met 146 van die 147 matrieks (99.31%) wat met matrikulasievrystelling slaag.  

Die akademiese rekord van die afgelope paar jaar sien só daaruit:

  • In 2010 behaal 54 uit 140 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 38.6% van die klas.
  • In 2011 behaal 62 uit 144 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 43.1% van die klas.
  • In 2012 behaal 59 uit 134 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 44% van die klas.
  • In 2013 behaal 67 uit 143 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 47% van die klas.
  • In 2014 behaal 55 uit 137 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 40% van die klas.
  • In 2015 behaal 63 uit 140 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 45% van die klas.
  • In 2016 behaal 68 uit 137 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 49.6% van die klas.
  • In 2017 behaal 58 uit 147 matrieks gemiddelde A-simbole, dus 39% van die klas.

Die etos van die skool, die kwaliteit van die leerders, sowel as die toewyding van die opvoeders, verseker dat ‘n atmosfeer van akademiese sukses en motivering gekweek word. Strukture vir akademiese vordering word baie goed gekontroleer en beheer. Sou ‘n leerder akademies sukkel, is daar ‘n skoolbeleid van intervensie en ondersteuning, wat die onderwysspan met erns navolg.

In die klas word die akademiese werk op só manier aangebied dat dit lekker is om te leer.  

KULTUUR

Die Bloemhof Accelerando Koor het ‘n ryk tradisie en het al by verskeie geleenthede die hoogste toekennings ontvang, bv. die beste hoërskoolkoor en beste kamerkoor by die Tygerberg Eisteddfod.  In 2018 wen die koor ‘n goue medalje by die Wêreld Koorspele en eindig met 93% tweede by die Tygerberg Eisteddfod se gala-aand – 0.5% minder die wenkoor.  

Bloemhof dogters hou van gesels en deelname word aangemoedig aan ‘n wye verskeidenheid redenaars- en debatskompetisies. Vanjaar het een van ons juniordebatspanne en twee redenaars tot die ATKV se nasionale finale deurgedring. 

Bloemhoffers het die geleentheid om saam met hulle broers van Paul Roos in twee orkeste te kan speel. Die Stringendo Strykorkes tree by belangrike geleenthede van die skool en by konserte op. Blaasinstrumentaliste speel in die Musica Perpetua Blaasorkes. By geleentheid tree die orkeste gesamentlik op. Gereelde ensemble konserte bevorder die orkeslede se vermoë om in kleiner groepe musiek te maak. 

Drama word as vak aangebied en Bloemhof-dramaleerders neem entoesiasties deel aan toneelfeeste.  In 2012, 2013 en 2015 word Bloemhof as die nasionale wenner van die ATKV-Tienertoneel gekroon en in 2017 as die naaswenner.  Vanjaar is ons produksie weer onder die top 15 wat in die nasionale finale die verhoog betree.  

Bloemhof het ook haar eie skoolkoerant, Fidelis, wat deur die leerders saamgestel word en elke kwartaal groot opwinding veroorsaak.  Leerders kan as joernaliste, fotograwe, illustreerders en  proeflesers betrokke raak, of op die uitlegspan dien.   

Die gemeenskap en die omgewing lê vir Bloemhoffers na aan die hart. Phoenix, die Bloemhof-leerders se gemeenskapsorganisasie, dra by tot die opheffing van ons gemeenskap, terwyl Terra, Bloemhofse eko-vereniging hulself beywer vir die bewaring van die omgewing deur omgewingsbewustheid by ons leerders aan te wakker om ons planeet te bewaar.

Bloemhof is aktief in die gemeenskap van die Jamestown Begraafplaas Informele Nedersetting betrokke en weeklikse uitreike na die GoKidz-kleuterskool word onderneem.

SPORT

Daar waar Bloemhof meeding, word uitmuntende sportprestasies verwag en ons dogters stel nie teleur nie! Atletiek, swem, waterpolo, tennis, hokkie, netbal en landloop word aangebied.

Bloemhof het met groot gees reeds verskeie kere die 4M-Interskole atletiekbyeenkomste gewen teen top meisieskole Rhenish, La Rochelle en die Hoër Meisieskool Paarl. Die byeenkoms word jaarliks in Februarie gehou.

Bloemhof en Paul Roos smelt jaarliks saam as BloemRoos om aan die Prestige-byeenkoms deel te neem.

Somersportsoorte soos atletiek, tennis, swem en waterpolo word aangebied. 

Wintersportsoorte soos hokkie en netbal is ewe gewild, en Bloemhof se landloopspan sedert die amptelike insluiting as skoolsport in 2017 puik. Die hoogtepunt is ons jaarlikse groot Interskole teen die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein.

GELUKKIGE MENSE

‘n Kernwoord by Bloemhof is “gelukkig” – ons streef voortdurend daarna om die Bloemhof-omgewing nie net doeltreffend nie, maar ook aangenaam te maak sodat dit vir Bloemhoffers lekker is om in die skool te wees.

Benewens ons prestasies op akademiese, kulturele en sportvlak, is die ontwikkeling en geluk van ons dogters ‘n groot prioriteit by Bloemhof. Daarom word leerders aangemoedig om aan ‘n verskeidenheid aktiwiteite deel te neem en betrokke te wees by skoolaktiwiteite, sodat elkeen se talent ontdek en ontgin kan word.

Potensiaal is vir Bloemhof belangriker as prestasie.  Dat ons leerders presteer, getuig daarvan dat hulle hul potensiaal ontdek en ontwikkel.  

 

SKOOLTYE

Die skool begin soggens om 07:40 en die skooldag eindig om 14:20.

ROOSTER

Ons volg ‘n 10-dag rooster – Dag 1 tot 5 in die die eerste week van ‘n siklus en Dag 6 tot 10 in die daaropvolgende week.

KLOKTYE

Elke dag bestaan uit sewe periodes en staptyd van vyf minute skei akademiese periodes.  Die dag word as volg ingedeel:

  • 07:40-08:40 | Per. 1
  • 08:45-09:30 | Per. 2
  • 09:35-10:20 | Per. 3
  • 10:20-10:40 | Pouse
  • 10:45-11:30 | Per. 4
  • 11:35-12:20 | Per. 5
  • 12:25-13:10 | Per. 6
  • 13:10-13:30 | Pouse
  • 13:35-14:20 | Per. 7

SLUITKASSIES

Sluitkassies is te huur en word deur me. Yolanda Fouché by die ontvangs geadministreer.

WEBWERF

Bloemhof het ‘n nuwe webwerf in Februarie 2018 in gebruik geneem, maar dit word intern deur die kommunikasiebestuurder gebou en geadministreer.  Die webblad is dus steeds onder konstruksie.

Die belangrikste kennisgewings verskyn op die tuisblad onder “Kennisgewings” of kan by /kennisgewings gevind word.  Verder gebruik Bloemhof ook die d6-kommunikeerder – meer inligting is by /d6 beskikbaar.  

Bladsye is só geskep dat dit maklik bekom kan word: 

  • Op soek na ‘n vrywaringsvorm?  Kry dit by www.bloemhofschool.co.za/vrywaringsvorm
  • Die eksamenrooster?Loer by www.bloemhofschool.co.za/eksamenrooster
  • Die nuutste sportprogramme? Vind dit by www.bloemhofschool.co.za/sportprogramme

Gebruik gerus die kieslys wat bo-aan die webblad verskyn of die webwerfkaart wat – ja, jy het reg geraai – by /webwerfkaart beskikbaar is.  

JAAR-, KWARTAAL- en WEEKPROGRAM

Aan die begin van die jaar verskyn ‘n jaarprogram waarop belangrike datums aangedui word.  Soms verander datums, daarom word daar kwartaalliks ‘n program saamgestel.  ‘n Program vir die week is egter die beste plek om te weet wat in die komende (en die week daarna) gebeur.  Dit kan op die webwerf by /hierdieweek gevind word.  

Bloemhoffers is baie trots op hulle skooldrag wat kan meng en pas. Daar is ‘n hele paar modieuse en gestileerde items wat ons dogters met trots bymekaar sit na gelang van die seisoen en geleentheid.

  • Die wit hemp met of sonder skooldas word gemeng met ‘n maroen rompie en knielengte wit sokkies.
  • Ons moulose oortrektrui het ‘n ruitmotief in wit en maroen, terwyl die wintertrui met dieselfde motief spog in ‘n toeknoop, langmoutrui.
  • Dogters kan in winter die uitrusting verander na ‘n wit langmou hemp met swart sykouse.
  • Ons skoolbaadjie, in donkerblou met ‘n wapen en ‘n omboorsel, is verpligtend by saalbyeenkomste en amptelike geleenthede.
  • Swart skoolskoene rond die uitrusting af.

By Bloemhof is ons baie gesteld op die voorkoms van ons dogters. Byderwetse skooldrag kan met smaak en netheid gedra word, en steeds baie goed lyk! Bykomstighede word gereeld gekontroleer – ‘n Bloemhof-skooltas is verpligtend en haarbykomstighede moet maroen of donkerblou wees.

KLEREBANK

Die skooldrag kan by die Klerebank op die perseel aangeskaf word, maar hierdie winkel is slegs op Maandae, Woensdae en Donderdae tussen 10:00 en 15:00 oop. 

Besoek /klerebank vir die nuutste pryslys en ander kennisgewings.  

Graad 7’s wat in 2019 by ons aansluit, kan op Woensdae in kwartaal 4 (17, 24 en 31 Oktober) Bloemhof se netbal- en hokkieprogram bywoon.  

Meer inligting oor die Graad 7-sessies is hier beskikbaar.  

Skoolbywoning is nie opsioneel nie, maar die HMS Bloemhof verstaan dat leerders soms nie by die skool kan wees nie.  

Die skool het egter sekere prosedures wat gevolg moet word wanneer ‘n leerder weens siekte afwesig is, of indien verlof tot afwesigheid verlang word.  Vind al hierdie inligting by /afwesigheid

Ouers en leerders is welkom om ons te kontak indien hulle nie die nodige inligting op die webblad vind nie.  ‘n Volledige kontaklys is by /kontak beskikbaar.

Aansoeke en algemene inligting

me. Adéle Uys | info@bloemhofschool.co.za

Kommunikasie en webwerf

mnr. Stephan Meyer | stephan@bloemhofschool.co.za

‘n Inligtingsdokument sal op Vrydag, 26 Oktober 2018 aan ouers van nuwe graad 8’s en nuwe leerders gestuur word waarin alle reëlings vir die nuwe skooljaar uitgelig word.

Dae
Ure
Minute
Sekondes

totdat jou Bloemhof-avontuur begin!

Onthaal vir nuwe ouers en leerders – 9 Januarie 2019

Kom probeer Bloemhof se netbal & hokkie!

Woensdag, 17, 24 & 31 Oktober 2018

17:30 – 18:45

HMS Bloemhof, Koschstraat, Stellenbsoch

Bly op hoogte van alles wat by Bloemhof gebeur...

Bloemhof Brokkies

Bloemhof se amptelike e-nuusbrief verskyn op Vrydae en deel nuus, belangrike kennisgewings en die program vir die week wat volg.
Teken nou in!