Die Bloemhof-toneelgroep neem jaarliks aan ten minste drie interskool-kompetisies deel. Die groep het die afgelope paar jaar groot sukses behaal in die finale-afdeling van die ATKV se Tienertoneelfees. In 2012, 2013 en 2015 eindig hulle 1ste in Suid-Afrika. In 2017 word hulle as die naaswenners van dié gesogte toneelkompetisie aangewys en vanjaar dring hulle weer toto die nasionale van dié kompetisie deel.

Die leerders is van die toptalent in die land en baie kan sing, dans en toneelspeel. Hierdie talente word deur sowel die choreografie en tegniese aspekte, in stukke wat spesiaal vir hulle geskryf word, ten toon gestel. Die mikpunt is egter om talent te ontwikkel en die ervaring te geniet. 

Bloemhof weer op ATKV-Tienertoneel se nasionale verhoog

Geplaas op07 Sep 2018
Kommentare0

tot stof | tot stilte wen Durbanville-toneelfees, ATKV-streeksfees

Bloemhof se seniortoneelgeselskap, onder leiding van dr. André Gerber en me. Suna Wiese, sal vanjaar weer aan die nasionale finale van die jaarlikse ATKV Tienertoneelfees deelneem nadat hulle Saterdag, 1 September as die wenners van die ATKV se streeksfees gekroon is.

2018 se stuk is getiteld tot stof | tot stilte en regie word deur dr. Gerber en Anél Joubert, ‘n dosent aan die US Dramadepartement, behartig terwyl die musiek deur mnr. David Wolfswinkel, ‘n oud Paul Rooser en derdejaar musiekstudent, gekomponeer is. Dit is dieselfde kreatiewe span wat in 2017 vir Wag, ek kry gou my foon [en soos sulke goed], wat ‘n tweede plek in Suid-Afrika verower het, verantwoordelik was.

Die geselskap bestaan uit 16 Bloemhoffers uit grade 9 tot 12, terwyl Stehan Odendaal, ‘n graad 11-leerder aan die Paul Roos Gimnasium, ook betrokke is.  Marisca Engelbrecht en Ané Conradie, albei in graad 10, is die produksie se tegnici.

“Die geraas van ons tyd”

Vanjaar se toneelstuk volg in die voetspore van vorige Bloemhof-produksies in die sin dat dit ook verbatim-teater met ensemble-spel is.  Soortgelyk aan Vyf (2015) en Wag, ek kry gou my foon [en soos sulke goed] (2017) bestaan tot stof | tot stilte se teks uit opnames van gewone leerders – hoofsaaklik Bloemhoffers – wat oor gewone dinge wonder.  Die toneelstuk handel “oor dié dinge waaroor Bloemhoffers obsesseer – dinge wat meeste van ons tyd in beslag neem,” sê Gerber, wat saam met die geselskap werk om die gefragmenteerde tekste tot een bruikbare eenheid te verwerk.

“Ons onsersoek onderwerpe en temas soos tegnologie, die internet, sosiale media, qoohme*, selfbeheptheid, en die algehele paniek wat spruit uit daai oorweldigende gevoel van ‘Daar’s net te véél!’ Die geraas van ons tyd,” meen Gerber.

Die geselskap is vanjaar aangewys as die wenner van die ATKV se Durbanville-streeksfees.  

Nasionale optrede

Skole van regoor Suid-Afrika en Namibië skryf jaarliks vir die ATKV se Tienertoneelkompetisie in, maar uiteindelik dring slegs die 15 beste stukke na die nasionale finaal deur. Bloemhof se produksie is vanjaar weer een van hierdie top-produksies en sal in die Oktobervakansie in Johannesburg op die planke wees. Ander stukke wat deurgedring het, is:

  • Windhoek Gimnasium – [v]as
  • Hoërskool Noordheuwel – Anna-Maria Davidtz van Dik-Daan van Diepgezet
  • Hoërskool Wilgerivier – Christmas Shopping
  • Potchefstroom Gimnasium – Dierepubliek
  • Potchefstroom Gimnasium – Duskant Vlees(baai)
  • Hoërskool Eldoraigne – Eden
  • Helpmekaar Kollege – Gesertifiseer: Die musical
  • Hoërskool Louis Trichardt – Ink
  • Afrikaanse Hoër Seunskool – Klub SINK
  • Hoërskool Tygerberg – Mister M en sy Mense
  • Hoërskool Zwartkop – Paradysstraat (alles behalwe ‘n musical)
  • Hoërskool Martin Oosthuizen – Sirkus
  • Hoërskool Hugenote (Springs, Gauteng) – Skote
  • Hoërskool Tygerberg – Vlot ter See

* qoohme is ‘n sosiale webwerf waar mense vrae of opmerkings met iemand kan deel sonder dat hulle eie identiteit aan die persoon bekend is.  Dit is, nodeloos om te sê, ook bekend vir aanlyn-boeliegedrag – iets wat ook in die stuk aangespreek word.