Accelerando is die musiekterm vir “versnel”, en versnel hét hulle! Die Bloemhof Accelerando Koor, onder leiding van me. Marijke Roos en begelei deur me. Suné van Wyk, bestaan uit ongeveer 80 lede. Jaarlikse oudisies vir die koor word in Januarie gehou en gr. 8’s wat by die koor wil aansluit, word in die eerste week van die nuwe jaar ‘n kans gegee om ‘n oudisie af te lê. 

Die Accelerando Koor presteer elke jaar skitterend by die Tygerberg- en Stellenbosch Eisteddfods en verwerf gereeld cum laude-toekennings vir hulle uitmuntende uitvoerings. In 2017 ontvang hulle 93.3% in die finaal van die Tygerberg Eisteddfod. 

Die koor doen minstens een maal ‘n jaar ‘n konsert en werkswinkels saam met ander besoekende kore, bv. die Kokopelli Jeugkoor van Kanada. ‘n Gedeelte van die koor het al ‘n paar maal aan die Europa Cantat, ‘n internasionale koorfees, deelgeneem. Die koor reik ook uit na skole in die omgewing en het onlangs kragte vir die e’Bosch Erfenisprojek met sewe ander hoërskoolkore gesnoer. ‘n Massakoor met leerders van onder andere Khayamandi Sekondêr, Hoërskool Makapula en Stellenzicht Sekondêr het vir hoendervleisoomblikke gesorg.