Hoër Meisieskool Bloemhof
2.jpg

Oor Bloemhof

Skoolprofiel

Bloemhof, geleë in Kochstraat, Stellenbosch, is die oudste Afrikaansmedium meisies hoërskool in die land.

Die skool is hierdie jaar 138 jaar oud, en het 'n ryk tradisie en verlede.

Tans is daar 704 dogters vanaf graad 8 tot graad 12, nagenoeg 40 personeellede, asook 26 administratiewe personeel en terreinpersoneel.

Die skool is deel van die Wes-Kaap Onderwysdepartement.

Die skoolfonds beloop R18 813.00 per jaar.

Die skoolhoof is me Wilna van Heerden. Me Van Heerden is reeds negentien jaar deel van die Bloemhof-familie, eers as adjunk-hoof, nou as skoolhoof. Sy is 'n sagte, warm mens - 'n ware dame en rolmodel vir ons Bloemhof-dogters.

Die Bloemhof-terrein is ruim, boomryk en pragtig, reg langs die Eersterivier en onder die wakende oog van Simonsberg.

Ons onderriglokale sluit in: agt- en twintig klaskamers, twee wetenskaplaboratoriums, 'n biologielaboratorium, 'n huishoudkundelokaal, drie musieklokale, een musiekteoriekamer en 'n musiekrekenaarlokaal, 'n tegnologielokaal, 'n skoolbiblioteek, twee rekenaarlokale, 'n skoolsaal en 'n meerdoelige sentrum wat 1200 mense kan akkommodeer, toegerus met die nuutste fasiliteite.

Bloemhof word omring deur skole - Rhenish Girls' High School, Rhenish Primary School, Laerskool Eikestad en Paul Roos Gimnasium. Jare lank bou Bloemhoffers al bande met hulle manlike eweknieë by Paul Roos, 'n dubbel-medium seuns hoërskool, en daar vind vele Bloemhof-Paul-Roos-interaksie plaas, met romanse nie uitgesluit nie! Die drie skole vorm 'n mini-kampus met gedeelde akademiese vakke en opvoeders. Die skoolroosters is gesinkroniseer sodat leerders tusen die drie skole kan beweeg, dus is Bloemhof in staat om 'n groter verskeidenheid vakke aan te bied.

Graadgetalle is soos volg

  • Graad 8 : 144
  • Graad 9 : 144
  • Graad 10: 139
  • Graad 11: 136
  • Graad 12: 144

Bloemhof se naam is wyd bekend vir uitmuntende akademie, kulturele en sportprestasies.

Akademies

Bloemhof handhaaf hoë akademiese standaarde.  Die akademiese rekord van die afgelope paar jaar sien só daaruit:

  • In 2006 kry 53 van ons 116 matrieks gemiddelde A-simbole. Dus het 46% van ons matrieks in 2006 A-simbole behaal.
  • In 2007 kry 55 van ons 101 matrieks gemiddelde A-simbole. Dus het 54.5% van ons matrieks in 2007 A-simbole behaal.
  • In 2008 kry 43 van ons 125 matrieks gemiddelde A-simbole. Dus het 34% van ons matrieks in 2008 A-simbole behaal. (Vanaf 2008 tree 'n nuwe stelsel in werking waarvolgens die moontlikheid van "bonuspunte" uitgeskakel word, wat uiteraard die aantal A-kandidate verminder)
  • In 2009 kry 44 van ons 132 matrieks gemiddelde A-simbole. Dus het 33% van ons matrieks in 2009 A-simbole behaal.
  • In 2010 kry 54 van ons 140 matrieks gemiddelde A-simbole.  Dus het 38.6% van ons matrieks in 2010 A-simbole behaal.
  • In 2011 behaal 62 van die 144 matrieks gemiddelde A-simbole, dit wil sê 43.1% van die klas.
  • In 2012 behaal 59 uit 134 matrieks gemiddelde A-simbole.

Die etos van die skool, die kwaliteit van die leerders, sowel as die toegewydheid van die onderwysers, verseker dat 'n atmosfeer van akademiese sukses en motivering gekweek word. Strukture vir akademiese vordering word baie goed gekontroleer en beheer. Sou 'n leerder akademies sukkel, is daar 'n skoolbeleid van intervensie en ondersteuning, wat die onderwysspan met erns navolg.

Dit is vir Bloemhof dogters LEKKER om te leer!

Kultuur

Die Bloemhof koor het 'n ryk tradisie en het al by verskeie geleenthede die hoogste toekennings ontvang, bv. die beste hoërskoolkoor en beste kamerkoor by die Tygerberg Eisteddfod.

Bloemhof dogters hou van gesels - deelname word aangemoedig aan 'n wye verskeidenheid redenaars- en debatskompetisies. Bloemhoffers neem ook graag deel aan die World School's Debating League. Deelname aan die internasionale "Global Thinking project" dra daartoe by dat die kennis en insig van die leerders verbreed word.

Die Bloemhof Stringendo-strykorkes tree by belangrike geleenthede van die skool en by konserte op. Gereelde ensemble konserte bevorder die orkeslede se vermoë om in kleiner groepe saam te speel. Blaasinstrumentspelers sluit aan by die blaasorkes van Paul Roos.

Drama word as vak aangebied en Bloemhof-dramaleerders neem entoesiasties deel aan toneelfeeste. Teks (Toneel-en-Kunste-sameswering), die leerders se kultuurvereniging, bevorder kunste in Bloemhof deur uitstappies te reël en talentaande en kompetisies te organiseer.

Bloemhof het ook haar eie skoolkoerant, Fidelis, wat deur die leerders saamgestel word en elke kwartaal groot opwinding veroorsaak.

Die gemeenskap en die omgewing lê vir Bloemhoffers na aan die hart.  Phoenix, die Bloemhof-leerders se gemeenskapsorganisasie, dra by tot die opheffing van ons gemeenskap, terwyl die Bloemhof Eko-komitee homself beywer vir die bewaring van die omgewing deur omgewingsbewustheid by ons leerders aan te wakker om ons planeet te bewaar.

Sport

Daar waar Bloemhof meeding, word uitmuntende sportprestasies verwag en ons dogters stel nie teleur nie! Atletiek, swem, waterpolo, tennis, hokkie en netbal word aangebied, asook 'n wye verskeidenheid ander sportsoorte.

Bloemhof het met groot gees die laaste agt 4M-Interskole atletiekbyeenkomste gewen teen top meisieskole Rhenish, La Rochelle en Meisieskool Paarl. Die byeenkoms word jaarliks in Februarie gehou.

Bloemhof en Paul Roos smelt jaarliks saam as Bloemroos om aan die Driehoekbyeenkoms deel te neem.

Somersportsoorte soos atletiek, tennis, swem, waterpolo en sierswem word aangebied. Hou gerus die sportnuus op hierdie webtuiste dop vir gereelde prestasies.

Wintersportsoorte soos hokkie en netbal is ewe gewild. Die hoogtepunt is ons jaarlikse groot wintersport interskole teen Meisieskool Oranje in Bloemfontein.

Gelukkige mense

Benewens ons prestasies op akademiese, kulturele en sportvlak, is die ontwikkeling en geluk van ons dogters 'n groot prioriteit by Bloemhof. Daarom word leerders aangemoedig om aan 'n verskeidenheid aktiwiteite deel te neem en betrokke te wees by skoolaktiwiteite, sodat elkeen se talent ontgin kan word.

Ons skool is gegrond op Christelike beginsels en ons maak hierdie beginsels aktief deel van ons daaglikse handel en wandel.

'n Kernwoord by Bloemhof is "gelukkig" - ons streef voortdurend daarna om die Bloemhof-omgewing nie net doeltreffend nie, maar ook aangenaam te maak sodat dit vir Bloemhoffers lekker is om in die skool te wees.





 

Kaart