Bloemhof is ‘n baie sterk atletiekskool. Ons neem elke jaar saam met Paul Roos Gimnasium aan die Prestige-byeenkoms teen Paarl Gimnasium en Paarl Boys’ High en Paarl Girls’ High deel. Die 4M-atletiekbyeenkoms teen Rhenish, HMS Paarl en La Rochelle is elke jaar ‘n kragmeting tussen die streek se beste dogtersatlete. Bloemhof het hierdie byeenkoms al 12 keer in 20 jaar gewen. By die Grey/Oranje Top 20-byeenkoms in Bloemfontein presteer Bloemhoffers ook elke jaar baie goed. 

Bloemhof het sedert 2005 tien atlete opgelewer wat Suid-Afrika internasionaal verteenwoordig het. Daar het ook in die afgelope dekade meer as 50 Bloemhoffers op nasionale vlak deelgeneem wat vele medaljes gewen het. Ons hoë atletiekstandaarde word toegeskryf aan die buitengewone toewyding van ons atlete, asook wêreldklas-afrigting en ‘n algehele sterk spangees. 

In 2017 open die Janine Visser Atletiekfasiliteit by Bloemhof. Dit sluit ‘n 80m tartanbaan vir naelope en ‘n 200m-grasbaan vir middel- en langafstande in.