AFWESIGHEID
My dogter is vandag afwesig
Lig asb. die skool se ontvangs in dat u dogter weens ’n geldige rede nie vandag by die skool kan wees nie.
My dogter het ’n afspraak tydens skooltyd
Rig asb. ’n versoek om spesiale verlof aan die adjunkhoof – dit moet ten minste twee dae voor die tyd geskied sodat die skool dié versoek kan oorweeg.
AFWESIGHEIDSBELEID
Afwesigheid
Skoolbywoning is nie opsioneel nie, maar dit gebeur soms dat ’n leerder nie die dag (of vir ‘n gedeelte van die dag) by die skool kan wees nie. Ouers/voogde word vriendelik versoek om afwesigheid onder die skool se aandag te bring. Afsprake in skooltyd moet sover moontlik vermy word en ouers en leerders word daarop gewys dat assesserings soos toetse en eksamens nie ingehaal kan word nie.
Ons versoek dat u asseblief te alle tye om die onderstaande prosedures te volg:
Afwesigheid met geldige rede
Ouers van leerders wat weens siekte of dood in die familie die dag nie in die skool kan wees nie, moet die skool skriftelik inlig (stuur ’n e-pos aan afwesighede@bloemhofschool.co.za). Leerders wat vir drie dae of langer afwesig is, enige formele assesseringsaktiwiteite en/of rekordtoetse, eksamens en/of prysuitdelings misloop, moet ’n siektesertifikaat op die dag van hul terugkeer by die ontvangs indien. ’n Leerder mag nie slegs vir assessering en/of eksamens inkom nie en, indien ’n leerder siek voel op ’n dag waarop sy ’n assessering moet voltooi, moet sy liefs by die huis bly en die nodige siektesertifikaat indien.
Verlof tot spesiale afwesigheid
Leerders wat om spesiale redes (sport- en of kultuurgeleenthede, spesialis-afsprake, motorlisensie ens.) nie by die skool kan wees nie, MOET twee dae voor die tyd by die adjunkhoof, mev. Winnie Viljoen (winnie@bloemhofschool.co.za), skriftelike toestemming tot afwesigheid vra. Sodra dit oorweeeg is, sal terugvoer gegee word. Let asb. daarop dat die graadhoof nie toestemming mag verleen nie. Ouers/voogde word ook gevra om nie vakansie- of reisplanne in die skoolkwartaal (veral die eerste week ná die vakansie, of die week vóór die vakansie) te maak nie. Vakansies tel nie as rede vir spesiale verlof nie.
Afwesigheid tydens assesserings
By die HMS Bloemhof word toetse en eksamen nie ingehaal nie – leerders wat hierdie assesserings mis, móét ‘n siektesertifikaat indien. So nie, sal sy haar punte vir die betrokke assessering verbeur.
Ongesteldheid tydens skoolure
Dagleerders wat gedurende die skooldag ongesteld voel, kan tussen periodes by haar graadhoof toestemming vra om in die siekeboeg te gaan lê of huis toe te gaan. Sy kry twee briefies by die sekretaresse wat sy deur die graadhoof laat onderteken: een word aan ‘n klasmaat besorg wat dit aan al die betrokke opvoeders toon, die ander word by die sekretaresse ingehandig sodra haar ouer/voog haar in die uittekenregister uitteken. Sy wag in die voorportaal totdat haar ouer/voog haar kom haal. Leerders mag eers hul ouers kontak om hul te kom haal nadat die graadhoof die toestemmingsbrief onderteken het.
Dieselfde prosedure ten opsigte van verlof en briefies geld vir koshuisleerders, maar toestemming om koshuis toe te gaan word slegs deur die superintendent, me. Joan le Roux, gegee. Koshuisleerders moet ook hul graadhoofde inlig/vra indien hul toestemming verkry/wil kry om koshuis toe te gaan. Een briefie gaan na ‘n klasmaat wat dit aan die betrokke opvoeder toon, die tweede briefie word by die sekretaresse ingehandig wanneer die leerder haarself in die uittekenregister uitteken en die derde briefie word saam na die koshuis geneem om aan die koshuisbestuurder te toon.
’n Leerder wat afwesig is van skool gedurende die dag, mag nie ander skool- of sosiale geleenthede dié dag bywoon nie.