Omgee is nie sonder rede een van Bloemhof se vyf waardes nie en Phoniex, die skool se gemeenskapsvereniging, het die afgelope Maandag tydens die VRL-saal aan Bloemhoffers verduidelik hoe hulle in 2018 in ons gemeenskap betrokke kan raak.

Stellumthombo is een van die uitreik-aksies waarby ons leerders betrokke is en BecomingKids, een van hul projekte, het ten doel om graad 10, 11 en 12 leerders as mentors te gebruik om een uur per week met ’n leerder van Cloetesville deur te bring.

Rentia-Marié Meyer (graad 11) het verlede jaar die afkondiging gesien en besluit om die Januarie-inligtingsessie by te woon.  Vandag is sy steeds die mentor vir ’n oulike dogtertjie en sien daarna uit om haar een keer per week te sien.   

 

Rentia-Marié Meyer

Rentia, waarom het jy besluit om by Stellumthombo betrokke te raak?
Die Stellenbosch-gemeenskap het my gehelp om geld vir my eerste kogleêre inplanting in te samel, daarom wou ek graag iets aan die gemeenskap teruggee om dankie te sê. Ek wou meer mense ontmoet en omdat ek weens die inplantings nie altyd buitemuurse aktiwiteite kan doen nie, was dit ’n alternatiewe manier om my middae te benut. 

Wat beteken dit vir jou om as ’n mentor op te tree?
As jy gee, ontvang jy meer. ’n Woensdag was altyd my gelukkigste dag, want dis op dié dae waarop ek my mentee gesien het en iets vir haar kon beteken.

Wat behels ’n middag by Stellumthombo?
’n Sessie bestaan uit een uur per week – ek het gekies om op Woensdae te gaan, maar leerders kan enige middag van Maandag tot Donderdag kies.  Die eerste 20 minute was gewoonlik “akademiese tyd”, waarna ons net sal speel. Omdat die dogtertjie vir wie ek ’n mentor is verlede jaar maar in graad R was, het ons leertyd en speeltyd afgewissel.

Sou jy ander Bloemhoffers aanraai om hierby betrokke te raak?
Eerstens, Stellumthombo is baie toeganklik – jy kan byvoorbeeld soontoe stap, want dit word by die Kruiskerk oorkant die Regsfakulteit aangebied.  Dis daarom moontlik om betrokke te raak, selfs al is jy in die koshuis. Ek glo nogal in wat Moeder Theresa gesê het:  “As jy nie al die kinders kan help nie, help net een.” Een van Bloemhof se waardes is omgee, en deur betrokke te raak by Stellunthombo, is dit nie net Bloemhof wat omgee nie, maar Bloemhof wat ander leer om ook vir hulle gemeenskap om te gee.  Op só ‘n manier kan ons die gemeenskap bemagtig.

Om by Stellumthombo se BecomingKids-projek betrokke te raak, kontak vir Arina Scheepers of Weybrandt Aucamp by 021 883 3485 of via e-pos by info@stellumthombo.co.za

Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos