Sofia van Wyk, Amelié Strauss en me. Wilna van Heerden

Op Maandag, 14 Januarie 2019 is Bloemhof se 142 nuwe graad 8’s amptelik as Bloemhoffers tydens die Baadjieseremonie verwelkom.  Die graad 8’s se matriekmentors het hulle gehelp om hul skoolbaadjies voor die res van die skool, die personeel en hul ouers aan te trek waarna hulle die skoollied gesing het.  ’n Hoogtepunt was toe die “Bloemvisse” vir oulaas hul relaas gedoen het – iets wat staande deur die skool toegejuig is.

Mnr. Stephan Meyer het tydens die verwelkomingsweek met ’n paar graad 8’s gesels en hulle ’n week later weer opgesoek om hulle oor hul nuwe hoërskoolervaring uit te vra.   

Marianne Fourie

Marianne Fourie was in Laerskool Eikestad en het twee ouers susters in die skool. “Die ervaring is baie positief,” het sy tydens die verwelkomingsweek gesê en genoem dat sy baie nuwe mense ontmoet het.  “Die graad 8’s ondersteun mekaar en ek sien baie na my skoolloopbaan hier by Bloemhof uit. My sussies het vir my gesê ‘Marianne, hy gaan dit love!’ Hulle het nie gejok nie!” 

Sy meen die beste deel van die verwelkomingsweek was om die Saterdagoggend ná die oorslaap haar baadjie by die VRL te ontvang.   

Anél Ghalpie

“Ek het báie skoenlappers in my maag gehad voordat ek moes kom, en al is die skoenlappers steeds daar, voel ek al baie gemakliker,” het Anél Ghalpie op haar tweede dae in Bloemhof gesê.  Sy was in Laerskool Stellenbosch en het ’n tannie wat ’n oudleerder is.  “Ek het baie nuwe vriende gemaak en die onderwysers is fantasies.”

Vandag lag sy oor die senuwees wat net nou die dag geknaag het.  “As ek nou kan teruggaan, sal ek vir myself sê om te kalmeer.  Die verwelkomingsweek was nie die oorlog wat ek gedink het dit sou wees nie.”  Die lekkerste deel vir haar was egter toe dit alles verby is.  “Om ons skoolbaadjies te kry, was wonderlik.  Nou sien ek na alles uit, want elke dag in Bloemhof is ’n nuwe avontuur.”

Khazimla Ndiki

Khazimla Ndiki is die eerste Bloemhoffer in haar gesin en was in Laerskool Rientenbosch in Cloetesville.  Tydens die Graad 8-atletiek het sy gesê “die verwelkoming is nie so sleg soos wat ek gedink het dit gaan wees nie.  Dis baie lekker sover, want daar is verskillende goed wat ons doen.”

’n Week later is sy net so positief.  “Ek is so gelukkig om hier te wees.  Ek het die skool regtig liefgekry, want die afgelope week het vir my baie oor myself en my nuwe susters geleer,” sê sy.  Waarna sien sy by haar nuwe skool uit?  “Alles!” antwoord sy opgewonde.  “Ek sien baie uit na alles wat die skool bied, al weet ek nog nie wat alles vir my voorlê nie.”

Vir Khazimla was een van die hoogtepunte van die verwelkomingsweek om vriende met haar graad 12-mentor, Lynn Rossouw, te maak.  “Ek voel ek kan baie by haar leer,” sê sy. 

Elmarie Olivier

Daar is vanjaar weer heelwat leerders wat van buite Stellenbosch Bloemhof bywoon. 

 

Elmarie Olivier was verlede jaar in Laerskool Durbanville en het ’n niggie in die skool.  “Dis sover ’n wonderlike ervaring,” het sy tydens die verwelkomingsweek gesê.  Vandag erken sy dat sy baie erger verwag het.  “As ek vandag terugkyk, was dit einlik ’n baie lekker tyd om nuwe vriendskappe met ons nuwe ‘susters’ te vorm.”  Sy meen die talentaand wat tydens die verwelkomingsweek by Paul Roos Gimnasium gehou is, was vir haar die lekkerste.

Elmarie is opgewonde om vir Bloemhof te swem en netbal te speel.   

Alisa Oberholzer

Alisa Oberholzer, ’n eerstegenerasie-Bloemhoffer, woon in die Helderberg en was in Laerskool Baumont.  Sy ry elke dag bus. “Ek moes nog nooit so vroeg in die oggende opstaan om die bus te haal nie, maar al die Bloemhoffers oefen die temalied en dis baie lekker,” het sy tydens die verwelkomingsweek gesê.   “Glo dit of nie, ek is mal oor die verwelkomingweek, want ek weet ek gaan later hieraan terugdink en dit mis.”

As sy vandag terugdink, was dit soms in die oomblik vir haar vreesaanjaend, veral toe hulle in die skool oorgeslaap het.  “Ná die spookhuis, toe ons almal in die saal was, was die beste.  Ek voel ek het baie geleer.  Ek voel sommer baie anders as toe ek eers hier aangekom het.

Amy Rademeyer

Amy Rademeyer, ook ’n eerstegenerasie-Bloemhoffer, was in Hoërskool Bonnievale – “Bonnievale het nie ’n laerskool nie,” verduidelik sy – en is vanjaar in die koshuis.  “Ek voel wel baie welkom, al is die HK soms baie kwaai,” het sy verlede week gesê, maar vandag glimlag sy oor die ervaring.  “Die verwelkomingsweek was nie so erg soos wat ek dit vir myself gemaak het nie.  Omdat ek in die koshuis is, was dit moeilik om soms alles te doen.  Ons moes bv. foto’s van onself kry en plakkate maak.  Boonop het die koshuis ’n verwelkoming van sy eie gehad…”

Die verwelkomingsweek het tog vir Amy een waardevolle ding geleer:  “Ons is ’n eenheid en daar is niks meer kosbaar as die band wat Bloemhofffers deel nie.”

Lara-Nika Preatorius

Lara-Nika Praetorius, van Privaatskool Moria in Outjo, Namibië, het reeds van Bloemhof geweet lank voordat die verwelkomingsweek begin het.  “My ouma, wat ’n oudleerder is, wou graag hê haar dogter moes Bloemhof toe kom, en vandag sit ek die tradisie voort,” het dié derde-generasie Bloemhoffer verlede week gesê.  Lara-Nika is ook in die koshuis sê dat dit ’n groot aanpassing is.  “Dis vir my baie erg om so ver van die huis af te wees, maar ek dink dit sal beter raak van hier af.”    

As sy vandag terugkyk, besef sy die eerste week was baie lekker.  “Ek wens ek het dit meer geniet, want ek was baie op my senuwees.  Vir volgende jaar se graad 8’s sal ek sê om dit te vat soos dit kom, maar om alles voluit te doen, want jou verwelkomingsweek gebeur net een keer.”

As Lara-Nika haar eerste week in die hoërskool in woord moet opsom, sal dit “susterskap” wees.  “Almal is liefdevol en behulpsaam.  Ek het hierdie susterskap baie positief ervaar.”   

Deel hierdie plasing
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on google
Google+
Share on tumblr
Tumblr
Share on linkedin
LinkedIn
Share on pinterest
Pinterest
Share on print
Druk
Share on email
E-pos