Redenaars presteer op nasionale vlak
V.l.n.r is Andri Malan, Tia Bruwer, Misha Potgieter, Melissa Ducharme en Mienja Strauss

Vyf Bloemhoffers – Andri Malan, Tia Bruwer, Misha Potgieter, Melissa Ducharme en Mienja Strauss – het vanjaar aan die nasionale finale van redenaarkompetisies hul sê gaan sê.

Behalwe vir die ATKV Redenaarskompetisie waar Andri en Tia die finaal gehaal het, was daar Bloemhof-leerders in die finaal van die drie ander redenaarskompetisies: Radikale Redenaar, Oppie-tong-af en Podiumpret.

Radikale Redenaar (13 Oktober 2018)

Mienja (graad 8) wen verskeie pryse by die finaal van Radikale Redenaar, onder meer ‘n eerste plek in die afdelings Tweetaligheid en Reading: Prose.  Sy eindig tweede in die afdelings vir English Home Language en Lees: Prosa en derde in die afdeling vir Eksperimenteel:  Individueel.  Vir Afrikaans Moedertaal eindig sy vyfde.   

Misha (graad 8) is tweede en Melissa (ook graad 8) negende in die afdeling Afrikaans Moedertaal, terwyl Andri (graad 10) ‘n nasionale derde plek en Tia (graad 9) ‘n algehele tweede plek met hul voorbereide toesprake inpalm.  

Oppie-tong-af-redenaarskompetisie (15-16 Oktober 2018)

By die nasionale finaal van die Oppie-tong-af-redenaarskompetisie verower Mienja weer twee eerste plekke:  vir toesprake in Engels in die afdeling English Home Language en in Afrikaans, haar huistaal.  Melissa word ‘n tweede plek toegeken vir haar onvoorbereide toespraak (Afrikaans) en Tia eindig in onderskeidelik die voorbereide en onvoorbereide afdeling vierde.  Andri behaal ‘n tweede plek in die Afrikaans individueel voorbereide toespraak-afdeling.    

Podiumpret (15 September 2018)

Tia het reeds in September aan die nasionale finaal van Podiumpret deelgneem waar sy ‘n vierde plek vir Afrikaans Onvoorbereid ontvang het.  

 

Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos