Atlete vaar puik in Potch

Die Hoër Meisieskool Bloemhof se atlete pluk reeds die vrugte van harde werk en volgehoue deursettingsvermoë.

By die onlangse NWU Top 30-atletiekbyeenkoms, waar 71 skole van regoor Suid-Afrika deelgeneem het, is die Bloemhofspan aangewys as die wenner van die dogtersafdeling vir skole wat minder as 15 atlete ingeskryf het. Slegs die top 10-Bloemhofatlete was deel van die sowat 2 300 leerders wat aan dié byeenkoms deelgeneem het.

Mieke Basson (graad 11), Bloemhof se atletiekkaptein, het twee eerste plekke behaal – in die 100m-hekkies en in die verspring waar sy ’n afstand van 5.58m gespring het. Georgia Channon (graad 11), die span se onderkaptein, behaal ook ’n eerste plek in die diskuns vir dogters o.17.  Haar afstand was 40.48m.

Die res van die span het ook baie goed gevaar en Bloemhoffers behaal die volgende plekke: 

  • Twee vierde plekke – Mila Olivier (spiesgooi) en Anneken Viljoen (800m)
  • Twee vyfde plekke – Helena Swart (verspring) en Anouk Heuer (spiesgooi)
  • Twee sesde plekke – Greta Malan (verspring) en Anneken Viljoen (1500m)
  • Twee sewende plek – Cimòn van der Westhuizen ( 800m en 1500m)
  • Een agtste plek – Greta Malan (driesprong)
  • Een 11de plek – Ilse Brugman (400m)
  • Een 13de plek – Anne-Marie Celliers (90m hekkies)

 

Agter v.l.n.r. is Anne-Marie Celliers, Ilse Brugman, Anouk Heuer, Cimòn van der Westhuizen, Anneken Viljoen, Greta Malan, Mieke Basson en Helena Swart. Voor is Georgia Channon en Mila Olivier. Foto's: Johan Jacobs
Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos