Bloemhof, PRG wen Dink-of-Sink 2018!

In vanjaar se nasionale Dink-of-sink-debatskompetisie het twee Stellenboschspanne ál hul teenstaanders se argumente in die bek geruk en uitgestyg om met die louriere weg te stap.  Drie junior leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof en drie seniors van Paul Roos Gimnasium is op 20 Oktober 2018 as die nasionale wenners van dié debatskompetisie gekroon. 

Bloemhof is as die wenners van die juniorafdeling aangewys en Paul Roos as die wenners van die senior afdeling nadat hulle spanne van Oranje Meisieskool, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Noordkaap en Helpmekaar Kollege uitgestof het. 

Die ses skole het elk hul streekskompetisie in Mei vanjaar gewen en mekaar Saterdag in twee uitdunne die stryd aangesê voordat ’n finale debat gevoer is. 

Arlene Janse van Rensburg, Tia Bruwer en Angela Schindehütte, almal in graad 9, moes in die finaal die span van Oranje Meisieskool pak in ’n debat waar die onderwerp oor die privatisering van die SAUK gehandel het.

“Die finaal se onderwerp was besonder moeilik vir ’n junior afdeling, maar die leerders het hulle goed van hulle taak gekwyt en goeie debatsvaardighede aan die dag gelê,” sê me. René Badenhorst, ’n Afrikaansopvoeder by Bloemhof wat die span na Pretoria vergesel het. 

Die Paul Roos-span, wat uit Alex Aldrich (graad 12), Jacques Botma en Mihan van Zyl (albei graad 11) bestaan, het in die finaal teen die Hoërskool Noordkaap gekompeteer.  Hul onderwerp was “Die stygende oliepryse sal lei tot beter ekologiese volhoubaarheid”.  Albei debatte is verfilm en sal in 2019 op Ontbytsake op kykNET uitgesaai word.

Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos