Perdryers presteer
V.l.n.r. is Lisa Gouws, Liané Fouché, Mila Olivier en Jani du Plessis. Afwesig: Anje Dercksen en Sofia Dercksen.

’n Aantal Bloemhoffers het reeds vanjaar in verskeie perdry-dissiplines presteer.

Lisa Gouws (graad 9) het in Junie vanjaar aan die SA Boerperd (Inter)nasionale Kampioenskappe deelgeneem waar sy een Kampioenskap en drie Reserwe Kampioenskappe wen:

  • Kampioenskap vir driegang Ryperd o.19
  • Reserwe Kampioen vyfgang Saddle Seat Equitation o.19
  • Reserwe Kampioen vyfgang Junior Ryperd o.19
  • Reserwe Kampioen driegang Saddle Seat Equitation o.19

Lisa het ook die afgelope naweek (16 Oktober) aan die heel eerste Working Equitation-kompetisie in Suid-Afrika deelgeneem waar sy ’n derde plek behaal het.  Dié nuwe dissipline het oorspronklik in Europa ontstaan en staan beter bekend onder die Spaanse naam Doma Vaquera, wat “school of the stock horse” beteken. Dit is tans die vinnigste groeiende internasionale perdrysport en ook een van die oudste ruiterdissiplines ter wêreld – ruiters voer baie presiese bewegings uit wat bv. in die veld waar beeste aangejaag word, sal voorkom.  Op die foto’s hier bo is sy in aksie.   

Liané Fouche (graad 10) het tussen 26 en 29 September aan die SA Friesperdkampioenskappe in Tulbagh deelgeneem en die o.18-ruiterkunskampioenskap sowel as die o.18-koetsierklas gewen.      

Liané Fouché op haar perd tydens die SA Friesperdkampioenskappe.

Anje Dercksen (graad 10), Mila Olivier (graad 9) en Sophia Dercksen (graad 11) – drie niggies – het tussen 5 en 7 Oktober op Robertson op hul perde geskitter.  Anje en Mila is tot die WP-spanne in drie- en vyfgang verkies wat in Januarie in Parys aan die nasionale ruiterskampioenskappe gaan deelneem.  Anje is as die WP se junior ruiter van die jaar aangewys en Mila en Sophia deel die tweede plek.  

Anje was ook vroeër vanjaar deel van die SA-span wat in Kentucky in die VSA aan die wêreldbeker deelgeneem het.  Sy wen in beide die drie- en vyfgang “saddle seat” kompetisies die silwer medalje en die SA-span verower ook ‘n algehele tweede plek.  

Jani du Plessis (graad 9) het in September aan die Wes-Kaap Tentpensteekkampioenskappe deelgeneem en is in die o.18A Wes-Kaapspan opgeneem wat in Desember aan die Junior SA’s gaan deelneem.  Tentpensteek (“Tentpegging” of Ghymkana) is gegrond op die kavallerieruitersport waar hout-tentpenne deur ’n swaard of spies van die grond af verwyder word terwyl die ruiter op ’n perd in volle galop is.  Die ruiter kan dus sy of haar perd slegs met een hand beheer en gevorderde ruitervaardighede en goeie hand-oog-koördinasie is nodig om in dié kunsruitersport te presteer.

 

Jani (tweede van links) saam met van haar spanmaats op hul perde.
Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos