Om ‘n nuwe blaadjie om te slaan

Om ‘n skoolkoerant saam te stel, is veel moeiliker as wat mens dink, maar die uitdaging is ook opwindend.  Só reken Hanrié Viljoen, die nuwe redaktrise van die Fidelis, Bloemhof se skoolkoerant.  Sy en die sub-redaktrise, Rentia-Marié Meyer (agter op die foto hier bo), het die afgelope week baie hard saam met die uitlegspan gewerk om die September-uitgawe van die koerant klaar te kry voordat die skool vir die kwartaal sluit.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die groep meisies wat vanjaar op die redaksie dien,” sê Hanrié.  “Ek glo die koerant gaan, buiten ‘n bate vir die skool, ‘n platform vir die redaksie wees om te groei en in hul verskillende portefeuljes te ontwikkel.”

Leerders kan berigte en artikels skryf, foto’s neem of as illustreerder op die redaksie dien.  Om al dié elemente tot ‘n sinvolle eenheid saam te bind, is die verantwoordelikheid van die uitlegspan – harde werk as daar in ag geneem word dat dit ná ure by die skool op ingewikkelde rekenaarprogramme gedoen moet word.

Maar om ‘n nuwe blaadjie om te slaan, gaan tyd neem, en dis ‘n luuksheid wat die redaksie nie altyd kan bekostig nie.  “Wat die leerders op hul eie vermag, is merkwaardig,” meen mnr. Stephan Meyer, Bloemhof se kommunikasiebestuurder, “maar afronding neem tyd. Die drukkersduiwel is ongelukkig lastig en die hoeveelheid ure wat in enige publikasie ingaan, word nie altyd waardeer nie.”   

Hanrié en Rentia-Marié is egter passievol oor hierdie projek.  “Verder hoop ek werklik ons kan in die loop van ons termyn die koerant ‘n integrale deel van ons skool maak waar die meisies vry voel om hul menings te lug en die ouers en onderwysers trots kan voel om daarvan deel te wees,” sê Hanrié.

Behalwe dat leerders hul skryfvaardighede kan slyp, kry hulle die geleentheid om op kreatiewe maniere met fotografie en illustrasie om te gaan.  Vanjaar se illustreerders bied ‘n treffende voorbeeld van die talente wat onder ons leerders skuil:  Jané Louw illustreer met ‘n potloot op papier, terwyl Emma Kruger digitaal teken.  Albie het werk gelewer wat in die nuwe uitgawe opgeneem is.  

“Uiteindelik moet die skoolkoerant opvoedkundig wees,” meen mnr. Leon Piron, die skool se kultuurbestuurder.  “Nie noodwendig wat die inhoud betref nie, want dít word deur die leerders self bepaal.  Maar die wyse waarop die koerant saamgestel word, moet ons leerders met nuttige vaardighede vir die toekoms toerus.”  

Die September-uitgawe van die skoolkoerant word deur leerders vir leerders saamgestel en digitaal versprei.  Laai gerus ‘n kopië hier af.   

Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos