Matriekafskeid betower Klas van 2018

Welkom in Wonderland

Bloemhof se Matriekafskeid – een van die hoogtepunte in enige skolier se skoolloopbaan – het Woensdag, 26 September plaasgevind en 147 matrikulante kon saam met hul metgeselle die rooi tapyt betree vir ‘n heerlike aand in Stellenbosch se stadsaal.

Vanjaar se tema is deur Lewe Carroll se Alice in Wonderland geïnspireer en ‘n gedugte span graad 11-ouers, met me. Melina Greyling en me. Elana Kruger aan die stuur, het dié stylvolle geleentheid gereël. 

Wat sê die matrieks van hul spesiale aand?

Die aand het Mia Fick se wildste verwagtinge oortref.  “Vyf jaar se droom en beplan kon my nie voorberei op die ongelooflike ervaring van die matriekafskeid nie!” sê sy.  “Hierdie aand bêre ek vir altyd in my skatkis vol herinneringe!”   

Mia Meyer is van mening dat die aand baie stylvol was en dat die detail – waarvan daar baie was – vreeslik mooi en spesiaal was.  “Die kos was amazing!” sê sy.  

Wat sê die matrieks van hul spes 

“Wat ‘n groot sukses!”  Só sê Jeanne Claassen, wat meen dat die aand vanaf die eerste tree op die rooi tapyt tot die laaste vryf van seer dansvoete heerlik was.  Sy meen dat die graad 11’s en hul ouers ‘n wonderlike werk gedoen het en dat die graad 11’s van volgende jaar groot skoene moet vul.  Haar tweelingsuster, Kira, beaam dit.  “Die graad 11’s kan trots wees op die suksesvolle geleentheid.  As matrikulant sal ek die kosbare herinneringe van die aand vir nog baie lank koester!” sê Kira.

Vir Marné Loots was die aand perfek.  “Daar is geen manier dat dit beter kon wees nie!” Ook Danielle Louw deel dié sentiment.  “Die matriekafskeid was werlkik ‘n aand vir die boeke.  Die dekor en kos was uitmuntend en ek sal dit beslis vir die res van my lewe onthou en koester.”  Sy dink dat die platejoggie hom goed van sy taak gekwyt het en iets vir almal gespeel het.  “Ek weet hulle sê dit is moeilik om almal tevrede te stel, maar ek dink nie mens kon dit beter doen nie.”

Daar is aan elke detail aandag gegee: van die spieël by die aflaaipunt tot die onbeperkte hoeveelheid koffie... die lipstiffie en Tic Tacs in die badkamer... dit verdien 'n wêreld se waardering!

Carla Conradie

Ilke Horn, vanjaar se hoofdogter, sê die matriekafskeid het in elke aspek haar verwagtinge oortref.  “Dit was regit ‘n onvergeetlike aand en ek is dankbaar vir al die ouers, die graad 11’s en vir juffrou Kruger vir al die moeite wat hulle met die aand gedoen het.”

Carla Conradie beskryf 26 September as ‘n eteriese aand wat elke matriek van die 2018-klas vir ewig sal bybly, maar noem dat die aand nie foutloos was nie.  “Die tyd het hopeloos te vinnig verby gevlieg,” lag sy.  “Daar is aan elke detail aandag gegee: van die spieël by die aflaaipunt tot die onbeperkte hoeveelheid koffie… die lipstiffie en Tic Tacs in die badkamer…  dit verdien ‘n wêreld se waardering!”    

Carla verwoord dit wat die Klas van 2018 dink:  “Daarom bedank ek almal wat gehelp het om die aand so ‘n groot sukses te maak; dit was werklik asemrowend en het al my verwagtigne oorskrei.” 

foto’s:  Stephan Meyer

Digtal Image Warehouse was ook agter die kameras.  Hier is enkele van die instapfoto’s wat Woesdagaand deur hulle fotografwe geneem is.

Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos