Verlig, verjeug, vernuwe…
Al moes Bloemhoffers musse, serpe en wolsokkies inpak, was JiB se jaarlikse September-kamp vir die graad 8-11’s weer ‘n heerlike geleentheid om saam te kuier, saam stil te word en geestelike te groei.

JiB (Jesus in Bloemhof), die skool se geestelike-vereniging, en die naweek van 7 tot 9 September buite Franschhoek gaan kamp waar die tema “wees die lig” opnuut in die kollig was.  Me. Zané Burger, JiB se skakelonderwyser, het saam met me. Lizna Kriel, ’n oudleerder en oud-onderwyser, ’n bemagtigingskursus getiteld “Shine” aangebied. 

 Behalwe vir die geestelike pitkos het me. Desiré Coetzee en me. Nina Reynolds vir heelwat pret gesorg deur verskeie aktiwiteite wat hulle aangebied het – soos die staptog teen die berg uit.

 “Dit was ‘n ongelooflike naweek waar elke meisie weereens besef het hoe waardevol sy is, waar die bron van hierdie waarde lê en hoe om dit daagliks uit te leef,” sê Sibbie Smith (graad 10), JiB se nuwe voorsitter.

JiB se 2018/19 se nuwe komitee is onlangslangs aangekondig. Hier verskyn Jeanne-Marie Minnie (onder-voorsitter), me. Zané Burger (skakelonderwyser) en Sibbie Smith (voorsitter)
Die JiB-kamp was vir die Bloemhoffers ‘n wonderlike ervaing.  Lees gerus hoe Ghia Hough (graad 10) dit beskryf.  

Waardevol, vrystellend en geestesverrykend is net ’n paar woorde wat ek kan gebruik om die JiB-kamp van 2018 op te som. Wat ’n voorreg was dit nie om saam met 62 Bloemhof-susters die naweek van 7 tot 9 September by die Karmel-Kampterrein in Franschhoek te spandeer, te groei en te leer nie.

Soggens het die proteabosse en omliggende berge ons gegroet en ons het die natuurskoon opreg waardeer. Die kaggels en warm sjokolade met malvalekkers was danksy die koue reënweer ons beste vriend.

Ek kan met alle eerlikheid sê dat Jesus elke individuele meisie se gees aangeraak het en aan haar ’n nuwe lewenslus verskaf het.

Ghia Hough

Onder leiding van juf. Burger, juf. Coetzee, juf. Reynolds en juf. Kriel kon ons die ‘Shine’-kurses met oop oë aanpak. Die eerste sessie het gehandel oor waarde. In die tweede sessie het ons oor innerlike krag en korrekte besluitneming gepraat. In die laaste sessie het ons nuttige riglyne ontvang wat ons kan uitleef om die geestes-lig te wees.

Die lofsang was ongelooflik spesiaal en elke individu kon tydens die stiltetye persoonlik raak met hul Vader. Tydens groepsbesprekings het hartsvriendinne mekaar vir die eerste keer ontmoet. Ons het ’n staptog aangepak en was weerens dankbaar vir God se pragtige skepping. Die “fun-span” het prettige speletjies aangebied waar jy die geleentheid kon kry om ’n koppie met ’n watergeweer om te skiet of selfs net met jou groep ’n selfie by die rivier te gaan neem.

Ek kan met alle eerlikheid sê dat Jesus elke individuele meisie se gees aangeraak het en aan haar ’n nuwe lewenslus verskaf het. Ons is vir ewig dankbaar dat ’n geleentheid soos dié ons lewens kon verander. Ons kan nie wag om Sy hoop en liefde in die Bloemhofgange uit te straal en uit te leef nie!

Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos