Vyf matrieks fokus op Vrouedag

 

Op 9 Augustus – Vrouedag – word die 1956-optog van vroue na die Uniegebou in Pretoria herdenk, maar dié vakansiedag laat ons toe om ook oor vrouwees in die algemeen te dink. Wat beteken Vrouedag vir jong vroue?  En wat is dit om vandag ’n vrou te wees?  Vyf matrikulante lug hul mening. 

 

Van links na regs is Jadé Carnow, Hilde Elema, Mirna Jacobs en Marné Loots.  Agter staan Nicolé Petersen.

 

 

Oor Vrouedag sê Jade Carnow dat dit nie net die vroue van die verlede herdenk nie, “maar ons herinner dat vroue vandag waardevol, sterk en tot meer in staat is as wat ons dink.”

Mirna Jacobs beaam dit.  “Ons hoor daagkiks van vroue wat weens omstandighede nie vir hulself kan opstaan nie, maar vroue se krag moenie onderskat word nie.”  Sy meen die lewe is 10% van wat met ons gebeur en 90% van hoe ons daarop reageer. “My wens vir vroue is dat ons self hierdie krag wat ons het, sal raaksien en ons eie maak.”

Hilda Elema is trots om haarself ’n vrou te noem en sê daar is baie vroue in die samelewing na wie sy opkyk.  “Adwoa Aboah is een van hulle, want sy is nie jou tipiese model nie.  Sy herdefinieer die beeld van vrouwees in ons moderne samelewing.”  Hilde glo as een vrou dit regkry om die wêreld net ’n bietjie anders oor vroue te laat dink, is daar vir almal hoop.

Die Meksikaanse kunstenaar Frida Kahlo inspireer vir Marné Loots.  “Om emosie te toon, word dikwels as ’n swakheid van vroue gesien. Maar sy [Frida Kahlo] was nie bang om haar emosies te wys nie en sy het opgestaan waarin sy glo,” sê Marné.

Is daar Suid-Afrikaanse vroue wat hulle as rolmodelle beskou?  Name soos Charlise Theron, Miriam Makeba en Caster Semenya word genoem, maar vir Nicolé Petersen is die sterkste vrou wat sy ken, haar ma.

“My ma wys vir my dat vroue die steunpilare van ons samelewing is.  By haar leer ek dat ‘vrouwees’ nie noodwendig beteken om mooi te wees nie, maar om skoonheid van binne te straal.  Mooi waardes raak nooit oud nie,” sê Nicole.

As hulle vrouwees in enkele woorde moet opsom, sou dit “krag” en “onafhanklik” wees.  “Vroue kan vandag énigiets wees,” sê Nicole, maar erken dat daar steeds struikelblokke is wat vroue verhoed om hul volle potensiaal te bereik.

Hierop het Marné egter ’n antwoord in die woorde van die Instagram-digter r.h. sin, die skuilnaam vir Reuben Holmes.  “Dis in Engels, maar hy het gesê ‘Some women fear the fire. Some women simply become it.’  Ek glo nogal daarin.”

 

 

Deel hierdie plasing
WhatsApp
Facebook
Twitter
Google+
Tumblr
LinkedIn
Pinterest
Druk
E-pos