021 887 3044
admin@bloemhofschool.co.za

Sportuitslae

30 Jul 2018

Uitslae: Hokkie en Netbal teen HMS Paarl

/
Geplaas deur
/
Kommentare0

 

Die laaste groot sportdag voor die Interskole teen Oranje het oor die afgelope twee naweke plaasgevind toe die spanne van die Hoër Meisieskool Paarl by Bloemhof vir die jaarlikse kragmetings ontvang is.  Hokkiewedstryde is op Vrydag, 20 en Saterdag 21 Juie 2018 gespeel terwyl die netbal op 28 Julie 2018 plaasgevind het.  Die netbalspanne slaag daarin om nege van die 25 wedstryde te wen, terwyl dit op die astro baie goed gaan:  Bloemhoffers speel in vyf wedstryde gelykop, maar wen die oorblywende ses.

HOKKIE

Al verloor nie een van die 11 Bloemhof-hokkiespanne ‘n wedstryd nie, beteken dit egter nie dat Girls’ High vir flou kompetisie sorg nie. Die o.14A’s speel skitterende hokkie en wen 2:1, terwyl oudbloemhoffer Griet van Jaarsveld se o.14C’s die Paarliete 4:0 klop.  By die o.16-spanne word alle Girls’ High-doelpogings gekeer – merkwaardig as daar in ag geneem word dat die afwesigheid van die twee eerstespan-doelwagters daartoe gelei het dat jonger spelers ouer spanne se doelhokke moes verdedig.    

In die doodsnikke van die o.19B-wedstryd slaag Girls’ High om ook ‘n doel aan te teken sodat die wedstryd 1:1 eindig.  Dis die enigeste span wat met doele gelykop speel.

Die o.19A’s is met rustyd gelykop, maar in die tweede helfte breek Marli Ehlers deur die verdediging om tot feitlik voor die doelhok te hardloop.  Hier fnuik sy die doelwagter deur die bal aan Saskia Viljoen te stuur wat dit moeiteloos tot in die net skiet – ’n pragtige wendoel (en Saskia se eerste) vir Bloemhof!

NETBAL

Weens Girl’s High se deelname aan die Topskole Netbalkampioenskappe moes die netbal een week later aangebied word en al 25 ons spanne kry die geleentheid om op Saterdag, 28 Julie 2018 die gedugte Paarliete aan te druf.  Ons o.14-spanne word deur ‘n baie sterk Girls’ High-groep oorrompel, maar die o.14A’s se telling van 16:22 is veel beter as die Topskole-telling van 6:26.

Ons o.16-spanne, wat in 2017 as o.15’s ook behoorlik pak slae gekry het, verloor vanjaar nie een wedstryd nie en teken saam 124 doele teenoor Girls’ High se 55 aan.

Dis veral die o.18A-wedstryd wat spannend is, want Girls’ High is gou met twee doel voor.  Dis eers in die derde kwart waar die Bloemhoffers die telling gelyk kan maak, en danksy goeie verdediging in die laaste kwart, sorg die Bloemhoffers vir ‘n oorwinning van 30:28.  Dit ten spyte van die feit dat Carmia Cloete (V) as doelspeler ingespan moet word terwyl Kara Barnard beseer is.

Baie geluk aan ons spanne en sterkte met die Interskole wat voorlê!

 

Laai hierdie uitslae hier af.  Foto’s:  Stephan Meyer & Leon Piron

Lewer kommentaar