021 887 3044
admin@bloemhofschool.co.za

8 Jun 2018

Bloemhoffers sê hul sê by ATKV

Bloemhoffers vanjaar by finale van ATKV Redenaars

Twee Bloemhoffers, Tia Bruwer (graad 9) en Andri Malan (graad 10), het in Mei aan die semi-finale van die jaarlikse ATKV Redenaarskompetisie deelgeneem en uiteindelik die beoordeellaars oortuig dat hulle nie anders kan as om ook in die finaal hul sê te sê nie.

“Ek doen al van graad 1 af redenaars en het nog nooit tot die finaal deurgedring nie,” sê Andri, wat in die afdeling vir senior (graad 10-12) huistaalsprekers met voorbereide toesprake tweede in die Wes-Kaap geëindig het.  “Dit inspireer en mobiliseer my om eendag suksesvol te arriveer.”

Tia was eerste in die afdeling vir junior (graad 8-9) huistaalsprekers met voorbereide toesprake.  Haar onderwerp was “Vroue breek tralies af” en in haar toespraak wys sy dat vroue in die korporatiewe, politieke en akademiese wêreld meer as hul man kan staan.

Tia Bruwer (links) en Andri Malan (regs).

Vanjaar het Bloemhof ook vir die eerste keer ’n leerder in die kategorie vir Afrikaans Addisionele Taal-sprekers ingeskryf. “My huistaal is isiXhosa,” sê Thina Gabavana (graad 10), “maar ek het in graad 8 Afrikaans begin leer.”  Sy het ’n voorbereide toespraak gelewer en onder die top vyf in die Wes-Kaap geëindig.  “Al sukkel ek nog ’n bietjie, kan ek vandag met selfvertoue Afrikaans voor mense praat.”

Ander Bloemhoffers wat in die top 10 onder Wes-Kaapsprekers geëindig het, is Nita de Jager (8ste – voorbereide toesprake vir juniors), Lisa Dudley (10de – onvoorbereide toesprake vir juniors), Cimòn van der Westhuizen (5de – voorbereide toesprake vir seniors) en Ané Havenga (6de – onvoorbereide toesprake vir seniors).  Slegs die top drie sprekers in elke afdeling dring tot die finale deur, wat op 16 en 17 Augustus in Buffelspoort sal plaasvind.

Leerders wat vanjaar tot die ATKV Redenaarskompetisie se semi-finaal deelgeneem het, is (agter v.l.n.r.) Ané Havenga, Andri Malan, Biancke Wessels, (middel v.l.n.r.) Nika Coetzee, Tia Bruwer, (voor v.l.n.r.) Melissa Durcharme, Lisa Dudley, Nita de Jager en Cimòn van der Westhuizen.  Thina Gabavana was afwesig toe die foto geneem is.

 

ATKV Debat:  Dink-of-Sink-juniors doen dit weer

Tia is boonop deel van Bloemhof se junior debatspan wat ook in die semi-finale van die ATKV se Debatskompetisie beïndruk het.  Sy sal saam met haar twee spanmaats, Angela Schindehütte en Arlene Janse van Rensburg, op 18 Augustus weer agter die mikrofoon inskuif.  Hierdie drietal was reeds in die nuus nadat hulle die juniorafdeling van D.F. Malan se Dink-of-Sink gewen het.

Vanjaar het ‘n rekordaantal Bloemhof-debatspanne tot die halfeindrondes deurgedring, maar slegs die top 3-spanne dring tot die nasionale finale deur.  Spanne wat die top 8 gehaal het, is:

SENIORS:

  • 5de Marianne Strauss & Louise Bührmann
  • 7de Anelia Kleynhans & Danielle Louw
  • 8ste Annerine Strauss & Andri Malan

JUNIORS:

  • 3de Angela Schindehütte, Tia Bruwer Arlene & Janse van Rensburg
  • 4de Andrea Visser, Melissa Ducharme & Mienja Strauss
  • 6de Anaïs Herman, Marelie Botha & Mia Ham
  • 8ste Kara Ekkerd, Anna-Mart Louw & Sharné Kruger

 

Prestasies by Radikale Redenaarsfees en Oppie Tong Af

Die skool skryf nie amptelik vir ander redenaarskompetisies in nie, maar leerders is welkom om hieraan deel te neem.  Vanjaar presteer Bloemhoffers ook by die Radikale Redenaarsfees – waar leerders in tot 11 kategorië kan deelneem – en Oppie Tong Af, ‘n kompetisie in openbare optredes waar gefokus word op die spreker se optrede voor ‘n gehoor.

  • Melissa Ducharme (graad 8) verwerf ‘n A+ (90%+) by Radikale Redenaars en ‘n A+ (85 – 89%) by Oppie Tong Af.  In beide kompetisies lewer sy ‘n toespraak in Afrikaans.
  • Mienja Strauss (graad 8) verwerf nie minder nie as agt A+’e by Radikale Redenaars in die volgende kategorië:  English Home Language, Tweetalig, Afrikaans Moedertaal, Reading Poetry, Reading Prose, Lees Poësie, Lees Prosa en Eksperimenteel Indivudeel.  By Oppie Tong Af stap sy met twee sertifikate weg – ‘n A++ (90%+) vir English Individual en ‘n A+ (85 – 89%) vir haar Afrikaanse motiveringstoespraak.
  • Misha Potgieter (graad 8) dring tot die finaal van Oppie Tong Af se Wes-Kaapuitdunne deur en word daar as die wenner in die afdeling Afrikaans Individueel Onvoorbereid gekroon.  Sy sal in Oktober aan die landswye finaal deelneem.
  • Tia Bruwer (graad 9) het ook by Oppie Tong Af se provinsiale finaal deelgeneem en is as die wenner van die afdeling Afrikaans Individueel Voorbereid aangewys.  Sy sal saam met Misha in Oktober aan die landswye finaal optree.

Bloemhof se graad 8-deelnemers aan Oppie Tong Af is (v.l.n.r.) Melissa Ducharme, Mienja Strauss en Misha Potgieter.

Lewer kommentaar